Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Meesterplan vir motors: SA se toekoms op die spel

Die regering se meesterplan vir die Suid-Afrikaanse motorbedryf is nie net ambisieus nie, “dit hou die toekoms van Suid-Afrika se hele vooruitsig vir vervaardiging in sy hande”.

Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, Donderdag op die Nasionale Vereniging van Motorvervaardigers (Naamsa) se motorkonferensie in Midrand. Foto: William Horne

Dis hoe Douglas Comrie, uitvoerende direkteur van B&M Analysts, Donderdag die belangrikheid van die regering se plan vir die motorbedryf beskryf het. Hy het gepraat op die Nasionale Vereniging van Motorvervaardigers (Naamsa) se motorkonferensie in Midrand, en is een van drie raadgewers wat deel was van die ministeriële taakspan om die plan te help opstel.

“Die motorbedryf is die belangrikste vervaardiger in Suid-Afrika,” het Comrie gesê. Tans is plaaslike motorvervaardigers verantwoordelik vir 7% van die land se bruto binnelandse produk en 14% van alle uitvoer. Met 100 000 poste wat hierdeur geskep word, probeer die meesterplan verseker dat dié bedryf nie net oorleef nie, maar ook enorm groei.

Die meesterplan beoog dat Suid-Afrika teen 2035 1% van die wêreld se motors vervaardig. Dit sal beteken vervaardiging moet meer as verdubbel en baie nuwe tegnologieë word vereis.

Maar Comrie waarsku namate die wêreld spoedig verskuif na onder meer elektriese motors sal Suid-Afrika drastiese stappe moet doen om relevant te bly.

Suid-Afrika vervaardig tans geen elektriese motors of onderdele daarvoor nie, maar voer hoofsaaklik uit na ontwikkelde lande in Europa. Dié is die einste markte wat die vinnigste sal wegbeweeg van binnebrandenjins.

Sowat 60%, of 210 000, van Suid-Afrikaanse motors wat deur sewe vervaardigers uitgevoer word, is verlede jaar na Europa uitgevoer.

Volgens Comrie moet Suid-Afrika dus nie net vinnig aanpas om ’n greep op dié handelsvennote te behou nie, maar nuwe vennootskappe benut sodat daar steeds ’n mark beskikbaar is vir die groot aantal nie-elektriese motors wat die land vervaardig.

Motorvervaardigers waaronder Nissan, Volkswagen en BMW probeer tans self die Suid-Afrikaanse regering oortuig van die noodsaak dat elektriese voertuie plaaslik vervaardig word sodat die bedryf nie agter raak nie. Maar waar dié vervaardigers, tesame met Mike Mabasa, uitvoerende hoof van Naamsa, glo stappe moet gedoen word om plaaslike vraag na elektriese voertuie te laat toeneem al kwyn die verkope van nuwe voertuie plaaslik, stem nie almal saam nie.

Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, het verduidelik die wa moenie voor die perde ingespan word nie. Volgens Patel is dit sowel moontlik as belangrik dat die vervaardigingsektor eerder vinniger vir uitvoermarkte aangepas en uitgebrei moet word as wat gewag word vir Suid-Afrikaanse verbruikers om op te vang.

Patel sê aanpassing is van kernbelang om relevant te bly.

Sy departement se meesterplan beoog dat Suid-Afrika teen 2035 1% van die wêreld se motors vervaardig. Dit sal beteken vervaardiging moet meer as verdubbel en baie nuwe tegnologieë word vereis.

Patel is besig om handelsooreenkomste met Amerika, Brittanje en China te heronderhandel om die meesterplan te steun.

Patel meen die Afrika-vryhandelsooreenkoms kan die speelveld verander. Waar net 18% van Suid-Afrika se motoruitvoer tans na die res van Afrika gaan, sal die nuwe ooreenkoms verseker daar is altyd ’n mark vir selfs die bestaande infrastruktuur vir motorvervaardiging se produkte.

Patel sê die private sektor speel ’n sleutelrol in die meesterplan. “Julle is die kenners,” het hy aan die gehoor gesê.

Volgens Comrie sal dié noue vennootskap verseker die meesterplan bly buigsaam genoeg dat hy sal kan aanhou aanpas by die veranderende aard van vervoertegnologie tot 2035.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.