Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Mense skeep hul huis af; meer koop weer motor

Suid-Afrikaners skeep instandhouding en verbeterings aan hul huise nou al byna twee jaar lank af soos wat hulle kop bo water probeer hou in die tam ekonomie.

Verkope van ysterware, verf en ander selfdoenprodukte het die afgelope 16 maande in reële waarde gedaal of geen groei getoon nie. Foto: Pixabay

Verkope van ysterware, verf en ander selfdoenprodukte het die afgelope 16 maande in reële waarde gedaal of geen groei getoon nie. In Julie was verkope van dié produkte 1,7% laer as ’n jaar gelede.

Dit was in Julie die enigste van die sewe kategorieë wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) meet waaraan verbruikers minder bestee het nadat die uitwerking van prysstygings (inflasie) afgetrek is.

Kleinhandelverkope as geheel het die derde kwartaal op ’n stadige drafstap begin, met reële jaargroei van 2%. Dis wel effens traer as Junie se 2,4%.

Die sterkste groei was in die volgende kategorieë:

  • “Ander” kleinhandelaars (’n breë kategorie wat boekwinkels, juweliers en gebruikte goedere insluit): 7,9%;
  • Verkope van medisyne, toiletware en skoonheidsprodukte: 3,7%;
  • Verkope van klere en skoene: 3,2%; en
  • Verkope van meubels, huistoestelle en elektronika: 3,2%.

Verkope by algemene handelaars bly egter uiters traag. Dit het met net 0,1% gegroei. Dit beteken verbruikers bly in die algemeen baie versigtig wanneer hulle hul kosinkopies gaan doen en laai net die nodigste in.

Volgens die FNB-ekonoom Siphamandla Mkhwanazi dui die groei vir die jaar tot dusver, 1,6%, steeds op ’n omgewing van gedempte vraag. Kleinhandelaars is net nie in staat om skerp prysstygings deur te gee aan verbruikers nie.

Verkope in konstante randwaarde het met net 4,4% gestyg – net effens meer as Julie se inflasiekoers van 4%.

FNB verwag dat ’n moontlike verlaging van die rentekoers – dalk so gou as Donderdagmiddag – kan help om huishoudings se besteding aan te wakker, hoewel ’n deel sal wees as mense weer op krediet begin bestee.

“Dit sal egter teengewerk word deur die volgehoue druk op verbruikers se besteebare inkomste te midde van die swak arbeidsmark en hoër inkomstebelasting.”

Die Nedbank-ekonome Johannes Khosa en Dennis Dykes wys daarop dat verbruikers swaar trek weens die skerp styging in kragtariewe en ander geadministreerde pryse.

“Die nuwe Wysigingswet op die Nasionale Kredietwet – wat daarop gemik is om lae-inkomste-, skuldbelaaide kliënte te help – sal meebring dat kredietverskaffers kredietverlening aan dié mense beperk, wat hul bestedingsvermoë verder sal inperk. Huishoudings sal dus versigtiger moet wees en besteding op nie-noodsaaklike goedere en dienste beperk.”

Groothandelverkope

Verkope by groothandelaars het in Julie die hoogte ingeskiet. Die reële jaargroei van 6,7% en maandgroei van 9,3% is die sterkste in jare. Dis die eerste keer in drie maande dat die jaargroei in groothandelverkope positief is.

Motorhandelverkope

Verkope in die motorhandel het in Julie die sterkste sedert April gestyg. Reële verkope was gemiddeld 4,8% hoër as ’n jaar gelede en 1,1% hoër as in Junie.

SSA meet ses kategorieë, waarvan vier van jaar tot jaar stewig gestyg het. Selfs motorverkope het die kwartaal in vyfde rat begin, met verkope van gebruikte motors 12,8% hoër as ’n jaar gelede en van nuwe motors 8,7% hoër.

Net die verkope van brandstof (-2,7%) en verkope by vulstasies se geriefswinkels (-1,2%) het gedaal.

Só het al ses kategorieë gevaar:

  • Verkope van gebruikte motors: 12,8%
  • Verkope van nuwe motors: 8,7%
  • Verkope van motorbykomstighede: 7,8%
  • Besteding by werkwinkels: 1,5%
  • Verkope van brandstof: -2,7%
  • Verkope by vulstasies se geriefswinkels: -1,2%
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.