Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Mense wat eie eiendom besit – dís transformasie’

Pres. Cyril Ramaphosa het by die Goldman Sachs-beleggerskonferensie vrese van beleggers probeer besweer oor onteiening sonder vergoeding.

Chris Hattingh

Hy het by herhaling gesê dit gáán gebeur, maar ook probeer om Suid-Afrikaanse en oorsese beleggers te verseker dat hul beleggings en eiendom veilig is.

Dit is ’n duidelike weerspreking.

’n Mens kan nie vir mense sê hul eiendom sal veilig wees, maar ook deurdruk met ’n wysiging aan die Grondwet wat onteiening sonder vergoeding sal toelaat nie. Jy kan soveel as moontlik woordspeletjies speel, maar die logika maak net nie sin nie.

Jy kan nie mense laat glo A is A, maar dat A ook B is nie.

Dit sou irrasioneel vir enige belegger – plaaslik of oorsee – wees om te fokus op leë politieke versekering sonder om die implikasies van die parlementêre stem om art. 25 te wysig te oorweeg.

Suid-Afrika het belegging kritiek nodig om ware ekonomiese groei aan te help – en ’n mens kan maar net wonder hoeveel potensiële beleggers staan gereed en met asems opgehou om te kyk wat gebeur.

Die grondkwessie is dalk moeilik en kompleks in ’n paar opsigte, maar eiendomsreg is nie: Óf ons het individuele eiendomsregte óf ons het nie.

Jy kan soveel as moontlik woordspeletjies speel, maar die logika maak net nie sin nie.

Dit is ’n filosofiese onmoontlikheid om ’n konsep met al sy implikasies te aanvaar en dan nie in praktyk dieselfde konsep te aanvaar nie.

Deur art. 25 van die Grondwet te wysig, gee aan die staat die voorreg en status om alle eiendom in die land te besit, ongeag watter party op enige gegewe tyd aan die bewind is.

Dit is ’n groot fout om aan te neem dat wanneer die staat eiendom van iemand wegneem en die eiendom vir iemand anders gee, die ontvanger van die eiendom die “eienaar” word in enige regte sin van die woord.

Verblyfsekerheid hang hiervan af. Wanneer oor dié sekerheid getwyfel word, kan niemand enige regte langtermynvertroue hê om vir hulself en hul families ’n lewe te bou in die betrokke land nie.

Daar is geen punt daarin om te werk om jou lewe te verbeter indien dit oornag van jou af weggeneem kan word nie.

En terwyl sommige dalk dink dat slegs groot plase wat aan wit boere behoort weggevat gaan word, beteken ’n wysiging aan art. 25 dat alle eiendom wat aan enigiemand behoort in gedrang is – ongeag jou velkleur.

Die potensiaal vir vergrype deur die staat is net te groot.

Daar is talle historiese voorbeelde om te wys aan watter vergrype mense blootgestel word deur hul regerings wanneer eiendomsreg weggeneem word.

Maar selfs meer as die historiese presedent wat waarsku teen so ’n stap, is die morele kwessie.

Individuele eiendomsreg is die fondament van alle menseregte en daarsonder sal alle ander regte verwater word.

Eerder as om eiendomsreg weg te neem, behoort die Suid-Afrikaanse regering grondeiendomsreg op ’n positiewe manier te transformeer deur vir mense titelaktes te gee vir die huise waarin hulle al dekades woon.

Dis nie transformasie as die staat ons eiendom besit nie. Mense wat hul eie eiendom besit – dít is transformasie.

Dis nie transformasie as die staat ons eiendom besit nie.

Mense wat hul eie eiendom besit – dít is transformasie.

Dit laat hulle toe om daarin te belê, dit te gebruik as sekuriteit om krediet te bekom, of om dit te verkoop en die geld te gebruik om byvoorbeeld ’n nuwe eiendom nader aan ’n ekonomies aktiewe omgewing te koop.

Die staat besit groot stukke ongebruikte grond wat ontsluit en produktief gebruik kan word deur private individue.

Die grondhervormingskwessie gaan óf ’n wen-wen-situasie óf ’n verloor-verloor-situasie wees.

Aan die wenkant word eiendomsreg beskerm, titelaktes uitgereik en ongebruikte staatsgrond beskikbaar gestel.

Aan die verloorkant is ’n wysiging van art. 25 wat die staat die mag gee om te besluit wat met ons eiendom moet gebeur en daardeur die vordering sedert 1994 ongedaan maak.

Dit sal Suid-Afrika op dieselfde rampspoedige pad as Zimbabwe en Venezuela plaas.

  • Chris Hattingh is ’n navorser by die Vryemarkstigting.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.