Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Mense wat huis koop, help winkels se syfers

Vir die eerste keer in 11 maande het verbruikers meer bestee as in dieselfde maand van die vorige jaar.

Kleinhandelverkope het vooruitgeboer. Foto: Jaco Marais

In Februarie was kleinhandelverkope 2,3% meer as in Februarie 2020. Dis die eerste positiewe groei sedert Maart 2020, toe verbruikers paniekaankope gedoen het net voor die Covid-19-inperkings, het Statistieke Suid-Afrika (SSA) bekend gemaak.

Die 2,3%-groei is gemeet aan konstante 2015-rand, wat beteken die effek van prysstygings word uitgeskakel en dit verteenwoordig dus ook groei in volume. Verkope was ’n stewige 6,9% meer as in Januarie.

Februarie is dikwels ’n beter maand as Januarie omdat baie mense ná die Desember-vakansie leë beursies het, maar vanjaar was ’n rekordjaar. R92 miljard se goedere is verkoop.

Daar was ’n dubbelsyferstyging van 12,3% in die verkope van klere en skoene, wat deels verklaar kan word deur die feit dat skoolklere vanjaar eers in Februarie gekoop is. Staatskole het op 15 Februarie oopgemaak.

Verkope by spesialiswinkels vir kos en drank het met 8% opgeskiet. Siphamandla Mkhwanazi, senior FNB-ekonoom, skryf dit daaraan toe dat die drankverbod op 2 Februarie opgehef is en mense nie ’n oomblik verspeel het om bier of brandewyn te gaan koop nie.

’n Baie interessante verskynsel is dat verkope van meubels en huishoudelike toestelle met 17,3% opgeskiet het. Dit lyk dus asof mense steeds in hul woning belê – deel van die “tuisbly”-ekonomie wat as uitvloeisel van die Covid-19-pandemie beskou word.

Die Investec-ekonoom Lara Hodes waarsku dat pryse vanjaar kan aanhou styg weens ’n magdom bedryfsprobleme, insluitend die volgehoue ontwrigting van verskaffingskettings.

Mkhwanazi sê verkope van meubels en toestelle word ook gesteun deur die feit dat baie mense nou huis koop. Rekordgetalle huislenings word op die oomblik toegestaan soos mense met werk wat tot dusver gehuur het, die lae rentekoers benut om huiseienaars te word.

Verkope in die kategorie “ander kleinhandelaars” het egter met -23,6% geval. Dié kategorie sluit boeke, juweliersware, sporttoerusting en e-handelaars in, asook gebruikte goedere.

Die enigste ander negatiewe groei, van net 1,9%, was vir medisyne, toiletware en grimering.

In huidige randwaarde het verkope met 5% gestyg teenoor ’n jaar gelede en met 7,8% teenoor Januarie.

Vir die jaar tot dusver (dus Januarie en Februarie) is verkope effens negatief op -0,7% vergeleke met dieselfde twee maande van 2020.

Nedbank se ekonomiese eenheid onder leiding van Nicky Weimar verwag dat kleinhandelverkope ’n positiewe bydrae tot die eerste kwartaal se bruto binnelandse produk gaan lewer.

Daar is wel ’n vraagteken oor Maart, wat in 2020 mos ’n uitskietmaand was omdat mense vir die vale toiletpapier en blikkieskos gekoop het.

Vir die res van die jaar behoort kleinhandelverkope sterk positief te wees gegewe dat verkope in 2020 deur die inperkings in die wiele gery is en ’n lae basis dus gevorm is.

Die Investec-ekonoom Lara Hodes waarsku dat pryse vanjaar kan aanhou styg weens ’n magdom bedryfsprobleme, insluitend die volgehoue ontwrigting van verskaffingskettings.

Mkhwanazi sê die feit dat belastingkoerse verlaag is, behoort die styging in die prys van kos, petrol en krag teen te werk. “Ons is egter bekommerd oor die trae pas van die entstofprogram, te midde van die moontlikheid van ’n derde vlaag infeksies soos ons die winter nader, en volgehoue kragonderbrekings.

“Dit kan ekonomiese bedrywigheid ontwrig en die voortgesette herstel in verbruikersbesteding kniehalter.”

Groothandelverkope

Anders as in die kleinhandel was Februarie nie ’n goeie maand nie. Die volume verkope was 3,9% laer as ’n jaar gelede en net 1,3% hoër as in Januarie. Selfs in huidige randwaarde was verkope 0,9% laer op ’n jaargrondslag en net 0,7% hoër as in Januarie.

Vir die jaar tot dusver is groothandelverkope 5,1% laer.

Die sterkste groei was in die verkope van landbouprodukte, wat 23,2% hoër was as in Februarie 2020. Groothandelverkope van klere was 28,6% laer en van edelstene, juweliersware en silwerware 69,6% laer.

Groothandelverkope loop kleinhandelverkope vooruit, wat niks goeds voorspel vir Maart se kleinhandelsyfers nie.

Verkope in die motorhandel

Verkope in die motorhandel was vir die twaalfde agtereenvolgende maand negatief, op -3,7%. Dit was wel 3,4% meer as in Januarie.

SSA meet nie net die verkope van nuwe en gebruikte motors nie, maar ook van brandstof, motorbykomstighede, besteding in werkswinkels, en verkope by vulstasies se geriefswinkels.

Drie kategorieë se besteding het gedaal. Besteding in werkswinkels het met 11,5% gedaal, aan brandstof met 16,1% en in geriefswinkels met 7,5%. Laasgenoemde twee kategorieë weerspieël dat baie mense nog van die huis af werk en dus minder by ’n vulstasie stop – Februarie 2020 was nog voor die inperking.

Die daling kom ondanks ’n styging in brandstofpryse in Februarie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.