Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Met groei soos 2de kwartaal ‘is 3% per jaar moontlik’

As die verrassend stewige ekonomiese groei van 3,1% op ’n kwartaalgrondslag in die tweede kwartaal in die volgende jaar herhaal kan word, het Suid-Afrika die potensiaal om teen 3% per jaar te groei, sê Maarten Ackerman, hoofekonoom van Citadel.

Pres. Cyril Ramaphosa praat Donderdag op die tweede dag van die Wêreld- Ekonomiese Forum vir Afrika in Kaapstad. Foto: Getty Images

Ongelukkig is die groei in die bruto binnelandse produk (BBP) op ’n jaargrondslag net 0,9%. Dis laer as die bevolkingsgroei van 1,3%.

Die ekonomie móét vinniger as die bevolking groei as die land werkloosheid wil verminder, het Ackerman gesê in reaksie op die groeisyfers vir die tweede kwartaal wat Statistieke Suid-Afrika Dinsdag bekend gemaak het.

Daarna kan die land begin werk skep.

Suid-Afrika se BBP het in die tweede kwartaal met 3,1% op ’n kwartaalgrondslag gegroei teenoor ’n inkrimping van 3,2% in die eerste kwartaal. Met dié groei is ’n tegniese resessie afgeweer.

Die groeisyfer is aangehelp deur beter wêreldomstandighede wat uitvoer ’n hupstoot gegee het, beter mynbou-aktiwiteit nadat stakings die sektor in die eerste kwartaal geknou het en die feit dat daar in dié drie maande nie beurtkrag was nie, sê ekonome.

Volgens Ackerman is die styging van 14,4% in mynbou-aktiwiteit in die tweede kwartaal positief omdat mynbou ’n groot bydrae tot werkskepping lewer.

Andrew Bahlmann, besturende direkteur van Deal Leaders Africa wat private ondernemings help met samesmeltings en verkrygings, sê konstruksie is een van die sektore wat steeds baie swaar kry. Aktiwiteit was 1,6% laer as in die eerste kwartaal.

Volgens Bahlmann is dit die vierde agtereenvolgende kwartaal van inkrimping in die sektor en die negende die afgelope 10 kwartale.

In die lig van dié neerdrukkende saketoestande sukkel Deal Leaders om kopers vir plaaslike maatskappye in die konstruksiesektor te vind.

Buiten lae vlakke van sakevertroue word die bedryf ook getref deur die regering se beperkte infrastruktuurbesteding.

Daarteenoor vaar die finansiële, fintech- en inligtingstegnologie-sektore baie goed. Ondernemings wat in gevorderde finansiële tegnologie spesialiseer, sien maklik driesyfer-groeikoerse.

Die BBP-syfers toon die finansiële, eiendoms- en sakedienste-sektor het met 4,1% gegroei in die tweede kwartaal. Dit is die enigste subsektor wat in die afgelope vier jaar telkens gegroei het, sê Bahlmann.

Die sektor skep ook talle nuwe werkgeleenthede, met 4,9% meer werkgeleenthede in die tweede kwartaal teenoor die tweede kwartaal van 2018.

Nicky Weimar, Dennis Dykes en Johannes Khoza van Nedbank sê die BBP-syfer wys ’n mate van normalisering in sake-aktiwiteit danksy stabiele elektrisiteitstoevoer in die tweede kwartaal.

Daar is egter min bewyse van enige werklike opwaartse momentum in enige van die groot ekonomiese sektore. “Daarbenewens bly die ekonomie kwesbaar vir kragonderbrekings, enige verswakking in die wêreldekonomie, stygende kostedruk in die plaaslike mark en swak vertroue,” sê hulle.

Meer oor:  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.