Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Michael Jordaan: Inperking is ’n stomp instrument

As die vlak 4-inperking, waar ’n geraamde 60% van die ekonomie kan funksioneer, vir die res van die jaar voortduur, kan die land se ekonomie met 30% inkrimp. Dit sal die verspreiding van Covid-19 beperk, maar die land se gesondheid op soveel ander vlakke bedreig.

’n Seuntjie se bloeddruk word Vrydag by ’n Covid-19-toetsstasie in Diepsloot, Johannesburg, geneem. Die getal positiewe gevalle styg soos wat meer mense getoets word. Foto: Jerome Delay, AP

So sê Theuns de Wet, makrostrateeg van FirstRand, wat Vrydag aan ’n virtuele paneelbespreking deelgeneem het oor of en hoe die ekonomie te midde van die pandemie heropen moet word. Dit is aangebied deur die Centre for Development and Enterprise.

Suid-Afrika is sedert 1 Mei op vlak 4, wat effens meer ekonomiese bedrywighede toelaat as gedurende die totale inperking in April, soos vervaardiging, ’n persentasie van mynbedrywighede wat tot nou stilgestaan het, klerehandel en aflewering van kitskos.

Michael Jordaan, uitvoerende hoof van Montegray Capital, het gesê daar moet deeglik besin word oor besluite wat langtermyngevolge inhou en wat nie vinnig verander kan word nie.

Al glo hy die nasionale inperking was “99% die regte stap”, is dit duidelik dit het groot ekonomiese skade aangerig.

Niemand kan met sekerheid sê nie, maar voorspellings van ’n ekonomiese inkrimping wissel tussen 6% en 16% vir 2020. Tussen 1 miljoen en 7 miljoen poste kan verlore gaan.

Boonop kan die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) R285 miljard aan inkomste verloor. Edward Kieswetter, kommissaris van die SAID, het Dinsdag op ’n mediakonferensie gesê 15% tot 20% minder belasting kan ingevorder word as wat in die begroting in Februarie voorsien is.

LEES OOK: Is inperking 60% werkloosheid werd?

Volgens Jordaan is die verskillende vlakke van die inperking ’n stomp instrument omdat dit nie onderskei tussen kwesbare mense en dié wat minder kwesbaar is nie. Die siekte hou byvoorbeeld byna geen risiko in vir kinders nie. En ondernemings wat kan wys hulle kan veilig sake doen, behoort toegelaat te word om handel te dryf.

Stephan Malherbe, uitvoerende hoof van Genesis Analytics wat vroeër ’n peiling vir die regering se openbare-private-groei-inisiatief (PPGI) gedoen het, het gesê van die ses riglyne van die Wêreldgesondheidsorganisasie om inperkings op te hef, vaar Suid-Afrika taamlik goed in drie afdelings soos die bestuur van positiewe gevalle. Ons vaar egter slegter met toetse en nasporing, en om skielike uitbrekings van die siekte gou te beheer (soos in die Wes-Kaap).

Hy sê vlak 4 erken nie ekonomiese realiteite en logika nie. Differensiasie tussen inperkings in verskillende gebiede is baie belangrik, sê hy.

Business for South Africa (B4SA), ’n alliansie van vrywilligers uit die sakewêreld wat saam met die regering werk om die Covid-19-pandemie te beveg, het die afgelope week gepleit vir vinniger heropening van die ekonomie, terwyl pogings steeds ondersteun word om die impak van die siekte te minimaliseer.

Martin Kingston van B4SA sê ’n toename in armoede, honger­snood en moedeloosheid weens die inperking kan tot maatskaplike onrus lei en dit vir Suid-Afrika moeilik maak om die impak van Covid-19 suksesvol te hanteer.

Oor die uitwerking van die pandemie op belastinginsameling, het Kieswetter gesê benewens ’n afname in ekonomiese bedrywighede weens die pandemie, is die SAID bekommerd oor vermoëns in die ekonomie en werksgeleenthede wat permanent verlore sal gaan.

“Die volle impak hiervan . . . sal afhang van hoe die regering die infasering van ekonomiese aktiwiteit bestuur.”

Hy verwag baie ondernemings sal in die huidige krisis ondergaan of om sakeredding aansoek doen, met langtermyngevolge vir belastinginkomste.

Hy het gesê syfers wys in April vanjaar was daar reeds meer as 20 000 afleggings.

Uit voorlopige inkomstesyfers vir April, die eerste maand van die nuwe boekjaar, blyk ’n onderverhaling van sowat R9 miljard teenoor ’n jaar gelede. Van die belangrikste redes hiervoor is:

  • Inkomste uit die lopende betaalstelsel was in April 5,2% laer as in April 2019. Net meer as 65 200 werkgewers wat in April 2019 betaal het, het glad nie nou dié belasting betaal nie. Voorts het 87 137 werkgewers in April minder betaal.
  • Plaaslike BTW was 4,3% laer as in April 2019. 13% minder handelaars het BTW-verrekeninge ingedien en betaal. Maandelikse betalings van dié wat verrekeninge ingedien het, was 20% laer op ’n jaargrondslag en kom neer op R1,1 miljard minder.
  • Spesifieke aksynsbelasting was sowat 55% laer op ’n jaargrondslag. Dit kom op R1,3 miljard neer. (Die SAID het R1,7 miljard minder ingesamel weens die verbod op die verkoop van alkohol en sigarette, maar die hoër brandstofheffing het die verlies effens verklein.) Volgens Kieswetter is die SAID besorg oor die onwettige handel in sigarette en alkohol. Jan Taks het in April 43 besendings van onwettige goedere teruggehou (dit wissel van sigarette tot gesigsmaskers) en beslag gelê op 17 besendings onwettige sigarette, alkohol en vervalste klere en skoene ter waarde van R2,6 miljoen.
  • Maatskappybelasting vir die maand was 55% laer op ’n jaargrondslag. Buiten die daling in inkomste beteken die regering se belastingverligtingsmaatreëls aan ondernemings wat weens Covid-19 sukkel, R70 miljard se belastingbetalings word uitgestel.

Kieswetter het gesê dit sluit nie die verwagte afname in algemene belastingnakoming in wat kan volg bloot omdat ondernemings sukkel met kontantvloei of nie hul uitgestelde betalings in die huidige boekjaar kan betaal nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.