Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Mieliemeel amper 30% duurder as jaar gelede

Daar was nog nooit so ’n goeie rede as nou om stysel en suiker uit jou dieet te sny nie. Die prys van lekkergoed en van veral mieliemeel skiet op die oomblik die hoogte in, terwyl die styging in vleispryse kwalik die naald roer.

Kyk ook na die grafika hieronder.

Mieliemeel is tussen 17,7% en 27,5% duurder as ’n jaar gelede.

Volgens Patrick Kelly, uitvoerende direkteur van prysstatistieke van Statistieke Suid-Afrika (SSA), is Augustus se kosprysinflasie van 3,9% die hoogste in 18 maande. Dié syfer verteenwoordig met hoeveel ’n trollie kos, koffie, tee en koeldrank (alkoholiese drinkgoed uitgesluit) wat die gemiddelde Suid-Afrikaner koop, gestyg het tussen Augustus 2018 en Augustus 2019.

Die styging in die kategorie brood en graanprodukte, van 8,6%, is ook die hoogste in 18 maande, sedert Februarie 2017 se boonste draaipunt van 12,8%.

Toe is die prys van veral mieliemeel deur ’n voortslepende droogte in groot dele van die land opgejaag. Dié keer is dit volgens Johan Willemse, ekonoom van Agrimark Consultants, ’n kombinasie van ’n swak oes in die VSA weens vloede, die swakker rand en ’n kleiner plaaslike mielieoes wat mieliepryse skerp opdruk.

Volgens Kelly is sogenaamde “super”-mieliemeel nou 17,7% duurder as ’n jaar gelede en spesiale mieliemeel is 27,5% duurder.

Dié skerp styging het ’n enorme invloed op armes, wat ’n groter persentasie van hul inkomste aan kos moet bestee en vir wie mieliemeel ook ’n belangrike stapelvoedsel is.

Die 10% armste Suid-Afrikaners beleef nou ’n inflasiekoers van 5,6% – 1,3 persentasiepunte hoër as die algemene inflasiekoers van 4,3% – en die volgende 10% beleef 5,1%. Daarteenoor beleef middelklas- en welvarender verbruikers inflasie van tussen 4,1% en 4,5%.

Volgens die landbousakekamer Agbiz gaan die weer van Oktober vanjaar tot Februarie 2020 bepalend wees vir Suid-Afrika se mielieproduksie en daarom ook vir mieliepryse.

Vleispryse

Nadat gemiddelde vleispryse vroeër vanjaar nog gedaal het, het dit in Augustus vir die derde opeenvolgende maand duurder geword as in dieselfde maand ’n jaar gelede. Die inflasiekoers van vleis is boonop aan die styg. Waar dit in Julie 0,2% was, is dit nou 0,7%.

Dis egter steeds die basiese kossoort waarvan die prys gemiddeld die stadigste styg.

Suiker

Die inflasiekoers vir suiker, lekkers en poeding is vir die eerste keer in meer as twee jaar dubbelsyfers. Teen 10,1% is dit die hoogste sedert Julie 2017 se 14,5%.

Is daar goedkoper kos?

Geen basiese kossoorte het gemiddeld goedkoper geword as ’n jaar gelede nie, maar vleis (0,7%), melk, kaas en eiers (3%) en vrugte en groente (albei 4,3%) word op ’n jaargrondslag die stadigste duurder op die oomblik.

Tussen Julie en Augustus het vrugte (-1,5%), groente (-0,5%) en koffie en tee (-0,4%) goedkoper geword. Omdat vrugte en groente se pryse baie seisoenaal wissel, is daar geen waarborg dat pryse verder sal daal nie, maar dis dalk tog nou ’n goeie idee om sop en bredies op die spyskaart te plaas, met vars vrugte vir nagereg!

inflasie, vpi1908
Meer oor:  Kospryse  |  Brood  |  Inflasie  |  Mielies  |  Kosprysinflasie  |  Vleispryse  |  Inflasiekoers  |  Statistieke Suid-Afrika  |  Vleis  |  Mieliepryse
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.