Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Mike Schüssler: Gaan ekonomie wen of politiek?

In Suid-Afrika verteenwoordig algemene staatsbesteding meer as 43% van die bruto binnelandse produk (BBP).

Mike Schüssler

Hoewel dit alle regeringsvlakke insluit, sowel as staatsagentskappe en universiteite, het dié vlak van staatsbesteding in 40 jaar van 21,7% van die BBP tot 43,2% gestyg.

Teen 21,7% in 1980 was die Suid-Afrikaanse regering ook nie klein nie. Maar nou is die totale regering – staatsondernemings uitgesluit – onder die grootstes ter wêreld.

Internasionale data toon Suid-Afrika het een van die hoogste verhoudings van staatsbesteding tot BBP en die heel hoogste as besteding aan maatskaplike voordele weggelaat word.

Meer as ’n derde van die besteding is vir salarisse, die grootste item in die begroting.

Die gemiddelde salaris in die staatsdiens aan die begin van 2020 was 35% hoër as die gemiddelde formele sektor (

k

landbou uitgesluit), volgens Statistieke Suid-Afrika. In 2005 was die premie wat die gemiddelde staatsamptenaar meer verdien het, 20%.

Almal weet tog dat relatief tot die BBP die staatsdiens se salarisrekening moet afneem.

Tito Mboweni, minister van finansies, mik heeltemal tereg na dié probleem in sy 2021-begroting. Hy beplan nou om die rekening vir die volgende paar jaar met net 1,2% per jaar te laat styg.

Baie jare al stel die regering die moeilike taak uit om die enorme salarisrekening relatief tot die ekonomie te takel, in die hoop dat die een of ander wonderwerk sal gebeur wat die ekonomie sal laat groei en die erg onvolhoubare syfers beter sal laat lyk.

Die uitbreek van die Covid-19-pandemie en gevolglike inperking het beslis ’n einde gemaak aan die strategie om die probleem net uit te stel. Daar is nie meer pad oor om die blikkie in af te skop nie.

Soos in 1986 sal daar vanjaar ’n Rubicon wees wat ons moet oorsteek, of gebeure sal ons verswelg.

Om so ’n klein verhoging in die salarisrekening by die begroting in te skryf, is polities problematies, maar die heel belangrikste ekonomies.

As vakbonde staak en weier om bes te gee, maak dit pres. Cyril Ramaphosa – wat tradisioneel deur vakbonde gesteun word – kwesbaar. Baie van sy ministers kom ook van vakbonde; sy stryd teen staatskaping word deur die einste vakbonde gesteun.

Hoewel baie mense in die regering en selfs in die vakbonde begryp dat die vergoeding baie hoog is, sal hulle dit nie openlik sê nie. Vakbonde het deesdae te veel mededinging en wil nie eens dink wat ’n twee jaar lange bevriesing van salarisse kan meebring nie.

Ja, die begroting is heel positief, maar hoe dit in werking gestel gaan word, is die probleem.

Mboweni kon verlede jaar daarin slaag om geen verhogings in nasionale en provinsiale staatsdepartemente toe te staan nie, maar dit het ’n hofsaak geverg waarin die laaste uitspraak, deur die konstitusionele hof, nog afgewag word. Dit het die regering nagenoeg R37 miljard bespaar.

Dit maak hom die eerste minister in meer as ’n dekade wat sy voet oor salarisverhogings kon neersit.

Tito Mboweni, minister van finansies, tydens die begrotingsrede in Februarie. Foto: Jaco Marai

Daar moet egter onthou word dat plaaslike regerings, staatsagentskappe en universiteite se salarisse nié bevries is nie, so dit hou aan styg.

Die minister van finansies sal ander mense nodig hê om hom te steun – en dit gaan nie maklik wees nie.

Voeg daarby vinnige bevorderings, waardeur al hoe meer mense al hoe groter salarisse verdien – nog ’n probleem waarvoor Mboweni steun sal benodig.

Om die waarheid te sê, dissipline in elke liewe departement sal nodig wees.

Dis werklik hier waar die ekonomie en die politiek bymekaarkom. Die president staan nie so sterk nie, en ook nie sy vakbondvennote nie. Ander vakbonde wat nie op die regerende party steun nie, het die afgelope jare gefloreer.

Die Vereniging vir Staatsamptenare, byvoorbeeld, is ’n groot, onafhanklike stem wat sterk staan in onderhandelings.

Verwag vanjaar ’n groot staking – en dit sal baie moeilik vir die land wees.

Die groter risiko is nou ekonomiese probleme. Die kredietgraderingsagentskappe Moody’s en Fitch het reeds gewaarsku dat hulle nie deur beloftes geflous word nie – Suid-Afrika moet die syfers in die begroting behaal, of hulle sal nie huiwer om die land verder af te gradeer nie.

As ons die ekonomie bo politiek kies, het ons ’n kans om ’n skuldkrisis of wanbetaling af te weer.

Oorsese ontleders met wie ek praat, glo die regering nie regtig nie. Hulle wil optrede sien en wil hê die regering moet sy begrotingstekort in toom bring omdat dit tot sy skuldvlakke bydra.

Hulle hou van die begroting, maar reken die meeste staatsdepartemente sien dit as ’n vae “mikpunt” – net Mboweni en miskien enkele ander beskou dit as ’n vaste lyn. Hulle is skepties of ekonomiese logika sal wen. Baie glo die president sal bes gee in sy stryd om die mag te behou.

Suid-Afrika word gesien as vol beloftes, maar met min optrede.

Soos in 1986 sal daar vanjaar ’n Rubicon wees wat ons moet oorsteek, of gebeure sal ons verswelg. Miskien het ons nog ’n jaar of twee waarin iemand die beloftes in die begroting sal glo, maar die meeste wil nou bewyse sien.

As Suid-Afrika se salarisrekening nie vanjaar met baie minder as die inflasiekoers styg nie, sal beleggers aandring op hoër opbrengskoerse op staatseffekte – wat die regering se skuldrekening ook sal laat styg.

Ek hoop ons slaag of slaag merendeels. Anders gaan verskriklike keuses binne die volgende vyf jaar gemaak word – keuses wat ons aftreespaargeld gaan seermaak en ons kwesbaar gaan laat wanneer ons oud word.

As ons die ekonomie bo politiek kies, het ons ’n kans om ’n skuldkrisis of wanbetaling af te weer.

Die keuses is moeilik, maar, glo my, dis baie makliker as om aan pasiënte te moet sê daar is nie meer geld vir medisyne nie.

  • Mike Schüssler is die hoofekonoom van Economists.co.za en ’n voormalige wenner van Netwerk24, Beeld, Die Burger, Volksblad en Rapport se Ekonoom van die Jaar-kompetisie.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.