Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Mike Schüssler: Hoekom SA sy jong talent verloor

Die geskiedenis van die wêreldekonomie is een van die beste plekke waar jy oor die toekoms kan leer.

Mike Schüssler

Die meeste tendense is blykbaar langertermyntendense in die reële ekonomie as in die finansiële ekonomie. Bruto binnelandse produk (BBP) per capita is steeds die beste manier om lande en hul welstand te meet; baie ander metodes lewer probleme op.

Angus Maddison was ’n ekonoom wat gewerk het om die wêreldekonomie te probeer meet vanaf die jaar nul tot in 2000. Hoewel hy in 2011 oorlede is, is sy werk deur ander opgeneem in die Maddison-projek.

Dié projek het nou die langste geskiedenis om BBP per capita, oftewel inkomste per persoon, te vergelyk. Tendense tussen lande kan ook vergelyk word.

Die geskiedenis van Suid-Afrika en sy inkomste per persoon vertel ’n verhaal waarvan ek net enkele punte uitlig.

Vanaf 1950 tot 2018 is daar data vir 150 lande in die Maddison-projek.

Die internasionale vergelykingsprogram van die Wêreldbank doen dieselfde – vir meer lande (208, waarvan 195 lande s’n betroubaar is), maar vergelykbare data is eers vanaf 1990 beskikbaar en dis na my mening ’n relatief kort tydperk.

Die langtermyngegewens in die Maddison-projek stel ’n mens in staat om die gemiddelde inkomste van mense tussen lande oor sewe dekades te vergelyk.

Gister en die toekoms

In 1950 was Suid-Afrikaners die 31ste rykste mense van die 150 lande in die Maddison-datastel. Dis dalk ’n bietjie oorbeklemtoon, aangesien baie Europese en Asiatiese lande in 1950 besig was om te herbou ná die Tweede Wêreldoorlog.

k

In 1960 was Suid-Afrika nr. 43, waarskynlik soortgelyk aan ons posisie voor die oorlog. Suid-Afrikaners was in die boonste derde van die burgers ter wêreld.

Teen 1970 het Suid-Afrika na nr. 51 gegly toe olie-uitvoerders en sommige Asiatiese tiere die land verbygesteek het in die wêreldwye wedloop van inkomste. Teen 1980 het Suid-Afrika na nr. 59 gesak omdat Latyns-Amerikaanse lande en nog olie-uitvoerders die gemiddelde Suid-Afrikaanse inkomste per capita verbygesteek het.

Teen 1990 het ons nog agt plekke geval omdat die sanksies begin byt het. Ons absolute inkomste het in die 1980’s afgeneem en Suid-Afrikaners het nie net relatief armer geword nie, maar ook werklik armer omdat oorloë, apartheid en sanksies die ekonomie benadeel het.

Teen 2000 het die land net twee plekke teruggeval danksy die einde van apartheid. Interessant genoeg was een van die twee lande wat Suid-Afrikaners se inkomste verbygesteek het, Botswana. Die ander was Ekwatoriaal-Guinee, ’n olie-uitvoerder.

As talent ons verlaat, is dit nog moeiliker om die ekonomiese gety om te keer, skryf Mike Schüssler. Foto: Pixabay

Die oplewing van hulpbronpryse het gekeer dat Suid-Afrika in die 2000’s baie skerp val. Dit was om die waarheid te sê die dekade waarin inkomste per capita met 49% gegroei het – vinniger as in enige vorige tydperk.

In die agt jaar tot 2018 het Suid-Afrika met vier plekke gedaal omdat sewe lande ons inkomstevlakke oortref het, maar drie – Venezuela, Barbados en Sirië – het langs die pad geval.

As ons vorentoe kyk na aanleiding van die huidige tendense, toon die Maddison-projek en die vergelykingsdatastelle van die Wêreldbank dat ongeveer vyf of ses lande teen 2025 ryker sal word as Suid-Afrika, maar twee se burgers sal armer word.

Suid-Afrika behoort tot onder Egiptiese inkomste per capita sowel as Indonesiese inkomstevlakke te daal. Suid-Afrika is reeds onder die vlak van Sri Lanka, wat Suid-Afrika in alle opsigte in 2019 of 2020 oortref het.

In die daaropvolgende dekade, tot 2035, gaan Suid-Afrika waarskynlik deur ongeveer tien lande oortref word, waaronder lande met groot bevolkings, soos Indië, Viëtnam en die Filippyne.

Langtermyngroeipatrone dui daarop dat Suid-Afrika tussen 2040 en 2044 onder die armste derde van wêreldburgers sal wees, en die breër data van die Wêreldbank van 195 lande toon dat Suid-Afrika waarskynlik nr. 130 uit 195 lande sal staan, teenoor nr. 108 tans.

In die kleiner datastel, maar op langer termyn, sal die gemiddelde groei in Suid-Afrika ongeveer nr. 85 uit 150 lande wees.

Albei datastelle se neigings toon dat Suid-Afrikaners waarskynlik slegs enkele plekke in die volgende vier tot ses jaar sal verloor, maar dat die land in die dekade wat volg vanaf 2026 en selfs die dekade daarna waarskynlik vinnig plek sal verloor.

In die huidige tendense en op langer termyn sal Suid-Afrika relatief armer word.

Waarom dit saak maak

Dis belangrik aangesien dié tendense maatskappye dikwels inlig oor beleggingsbesluite. Maar oor die algemeen sal dit weinig verskil, want Suid-Afrika is in sommige datastelle reeds buite die 100 rykste lande.

En wat van hoe dit ons talentvolle jeug sal rig oor waarheen hulle moet gaan? Waarom in ’n armer wordende land woon as jy jonk en talentvol is?

Ek sien skrywers, aktiviste, entrepreneurs, ingenieurs en vele ander vertrek – mense wat in Afrika gebore en getoë is. Ook dié wat in die voorkeurgroepe vir diensbillikheid is, vertrek.

As ek vra “waarom”, is die antwoord: “Omdat dinge nie in Suid-Afrika gebeur nie”, “Omdat die korrupsie net endemies is"; of “Omdat die kans vir my beter is om ’n goeie werk en verdienste elders te kry.”

Ons land het mense se talent nooit baie gewaardeer nie, tensy dit vir hulle polities nuttig was. Die Nasionale Party het kaderontplooiing deur die Broederbond gereël en die ANC het dieselfde gedoen.

Die leiers van ons land beter kennis neem dat van ons beste talent weggaan. Ons voer nie veel nuwe talent in nie en ook weinig vaste beleggings.

Let ook op dat mense vandag sien hoe mense wêreldwyd leef en werk, soos nog nooit tevore nie. Vergelykings is nooit maklik of perfek nie, maar mense sien wel dat Suid-Afrika op ’n lang afdraandepad is.

Die probleem is dat die talentvolle mense dit dikwels eerste raaksien. Sommige mense ontken dalk dat dit gebeur, maar hul kinders doen dit nie.

’n Mens kan waarskynlik twee ekstra krieketspanne bou uit Suid-Afrikaanse spelers wat oorsee gaan speel – en dieselfde vir rugby, netbal, sokker.

Elon Musk is nie die enigste Suid-Afrikaanse entrepreneur in die VSA nie; ek reken minstens 20 Suid-Afrikaans gebore miljardêrs is in die VSA. Skrywers soos Justice Malala woon in die VSA, nes baie ander talentvolle mense uit Afrika as geheel.

Ons land het mense se talent nooit baie gewaardeer nie, tensy dit vir hulle polities nuttig was. Die Nasionale Party het kaderontplooiing deur die Broederbond gereël en die ANC het dieselfde gedoen.

Dié “bloedskande” van leierskap met faksiegevegte is ’n baie lang neiging in die land en het daartoe gelei dat gewone burgers ten minste relatief slegter daaraan toe geplaas word.

As talent ons verlaat, is dit nog moeiliker om die ekonomiese gety om te keer. Ons sal weer groei, ons sal weer goed vaar, maar nooit so goed soos die meeste ander lande nie.

In die woorde van Malala: “Ons het nou met ons landing begin.”

  • Mike Schüssler is ’n voormalige wenner van Netwerk24, Beeld, Die Burger en Volksblad se Ekonoom van die Jaar-kompetisie.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.