Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Mike Schüssler: Hou op om ‘rykes’ skuld te gee

Suid-Afrika se gemiddelde werkloosheidskoers in die afgelope 25 jaar sedert 1996 beloop 26%.

Mike Schüssler

Die uitgebreide definisie van werkloosheid, onder wie ook volwassenes wat opgehou het om werk te soek, was gemiddeld 38%. Tans het minder as vier uit tien volwassenes werk.

Sedert die eerste demokratiese verkiesing het politici belowe om werk te skep, armoede uit te wis en ongelykheid te verminder.

Presies die teenoorgestelde het gebeur: Werkloosheid en ongelykheid het deurgaans verhoog en armoede het sedert ongeveer 2010 ook toegeneem. Dít terwyl armoede in die grootste deel in die res van die wêreld verminder en werkgeleenthede vinniger as die bevolkingsgroei gestyg het.

Dit het minstens gegeld totdat Covid-19 toegeslaan het.

Ons politici soek iemand om te blameer en dit is té dikwels private ondernemings en rykes.

Politici wil nie die ooglopende aanvaar nie, naamlik dat ongelykheid deur werkloosheid veroorsaak word, en dat werkloosheid op sy beurt deur te min private entrepreneurs veroorsaak word.

Politici wil maatskappye melk omdat dit húlle (die politici) ryk maak, maar die land arm laat.

Die tekort aan entrepreneurs is ingewikkeld, maar dit is die gevolg van lae winsmarges, hoë belastingkoerse, oorregulering en onsekerheid. Voeg daarby ’n regering met die ingesteldheid dat hy al die antwoorde het en dat private ondernemings uitbuiters is.

Entrepreneurs word ook op verskillende maniere – van swart ekonomiese bemagtiging tot omkopery en “beskermingsgeld” – geteiken.

Daarbenewens word welvarende Suid-Afrikaners dikwels die skuld gegee en die top-10% of top-5% word dikwels vertel dat hulle te veel betaal word.

Hoë belastinglas

In 2019, voor die pandemie, het die formele sektor slegs aan 29% van volwassenes in sy diens gehad. Dié sektor betaal beter as die ander sektore (informele sektor, landbou en private huishoudings).

Mense wat persoonlike inkomstebelasting betaal, verteenwoordig minder as 20% van die volwasse bevolking.

As jy in 2019 R21 000 per maand verdien het – wat die gemiddeld vir die formele sektor was – was jy in die 10% Suid-Afrikaners wat die meeste verdien het. Jy sou 14,1% van jou salaris aan die belastinggaarder betaal het.

In Florida in die VSA sou jy ’n negatiewe belastingkoers hê, aangesien jy meer geld van die regering in die vorm van ’n behuisingsubsidie sou terugkry, asook kosseëls, aangesien jy minder as een derde van die mediaan verdien!

k

In lande soos Oostenryk is die enigste bydrae wat jy sou betaal, die maatskaplike sekerheid vir jou pensioen, terwyl die regering jou verskillende subsidies sou betaal.

Burgers in ontwikkelende lande soos Marokko en Chili sou ook onder die topverdieners wees, maar sou minder belasting as in Suid-Afrika betaal.

Wat inkomste betref, is die 11,2 miljoen mense wat in die formele sektor werk in die boonste derde van volwassenes.

Net 1,29 miljoen verdien egter ’n belasbare inkomste van meer as R500 000 per jaar.

Slegs 3,4% van alle volwassenes van werkende ouderdom het in 2019 R500 000 of meer verdien. Hulle het 21,3% van hul bruto inkomste aan belasting betaal.

In Indië sou dieselfde mense die belastinggaarder 19% moes gee, selfs al is Suid-Afrika se bruto binnelandse produk per capita vier keer meer as dié van Indië.

Duitsers met ’n inkomste van R500 000 per jaar betaal slegs 8,4% van hul bruto salaris aan belasting, terwyl dit in Brittanje 7,3% is.

Let wel: In ryk lande betaal mense wat dubbel die gemiddelde salaris vir die formele sektor verdien, baie minder belasting as die rykste 4% van Suid-Afrikaners.

Sommige van dié lande het egter belastingkoerse hoër as ons hoogste marginale koers. Die verskil is dat hul stelsels nie so progressief soos Suid-Afrika se inkomstekerwe is nie. Daarom is die totale belasting wat van salarisse geneem word veel minder as ons s’n.

Die feit is dat selfs ons rykste 10% en soms selfs die top-4% van volwassenes in Suid-Afrika in die rykste 50 lande as laer middelklas beskou sal word.

Ja, as jy R500 000 per jaar verdien, is jy in die rykste 4% van volwassenes in Suid-Afrika. Maar in baie ontwikkelde lande sal jy nie eens in die rykste 40% val nie.

As jy R1 miljoen of meer per jaar verdien, is jy onder die 0,8% rykste Suid-Afrikaners. Dié verdieners betaal ook meer belasting as persentasie van hul salarisse as Kanadese, Amerikaners, Duitsers en selfs Keniane. Teen R1 miljoen bevind jy jou in die wêreld se hoër middelklas, maar nie onder die ryk elite nie.

Selfs ons rykste 1% is dus nie veel beter af as gemiddeld in die meeste van die ontwikkelde wêreld nie.

Om tot die rykste 10% van werknemers in die ontwikkelde wêreld te kom, moet jy vandag minstens R3 miljoen per jaar verdien. In sommige state in die VSA sal jy R6 miljoen moet verdien.

Iemand wat in Suid-Afrika ’n gemiddelde salaris verdien, is elders ter wêreld eintlik laer middelklas.

Die vergelyking neem nie koopkragpariteit in ag nie. Dit sal Suid-Afrikaners weer “ryker” maak, maar ek glo steeds dat ons rykes hoofsaaklik nie noodwendig in die res van die wêreld rykes is nie.

Ons politici dink dat hulle dié mense net meer kan druk, terwyl hulle die skuld kry vir baie van die euwels soos armoede en lae ekonomiese groei. Waarom sal rykes aanhou om dié misbruik te verduur en meer belasting vir minder in ruil daarvoor te betaal?

Fokus op die probleem – werkloosheid

Die probleem is nie dat ons ’n paar ryk mense het nie, maar dat ons te min ryker Suid-Afrikaners het en te min mense wat ’n mens die “gevorderde-land-middelklas” kan noem.

Ongeveer 7,5 miljoen mense verdien genoeg om persoonlike inkomstebelasting in Suid-Afrika te betaal.

Dit is minder as 20% van ons volwasse bevolking. Ongeveer die helfte van diegene met werk betaal belasting.

Daar is 50% meer werkloses as die mense wat belasting betaal!

Die ANC-plakkate wat in 1994 “Jobs, Jobs, Jobs” gelui het, het nog nooit teruggekeer nie. Waarom? Want die werkloosheidsyfer is vandag dubbel soveel as destyds.

Die werklike werklose getalle is drie keer meer as die destydse 3,4 miljoen werkloses.

Ons moet ryk mense, entrepreneurs en werkgewers baie meer verwelkom as politici. Politici het meer vernietig en meer haat teenoor entrepreneurs as in enige ander land geskep.

Dit lyk asof Suid-Afrikaanse leiers dink dat elke mening wat die blaam op die sakesektor plaas, ons probleme sal oplos.

Suid-Afrika kan homself nie meer ’n land met ’n hoër middelinkomste noem nie, maar eerder ’n laer-middelinkomsteland, wat op pad is om ’n arm land te word.

Daar is min lande wat so suksesvol daarin geslaag het om werk te vernietig as Suid-Afrika. Op lang termyn is daar nie ’n land wat oor 25 jaar gemiddeld 25% plus werkloosheid het nie.

As jy die ondernemersklas belas, reguleer en verwyt, is dít wat gebeur. Soos ander arm lande sal ons kinders elders in die wêreld gaan werk.

Die tragedie begin met belasting en verwyt. Dit eindig met ’n volk in algehele armoede.

  • Mike Schüssler is die hoofekonoom van Economists.co.za. Hy is ’n voormalige wenner van Netwerk24, Beeld, Die Burger, Volksblad en Rapport se Ekonoom van die Jaar-kompetisie.
Meer oor:  Mike Schüss­Ler  |  Rykes  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Werkloosheid  |  Ongelykheid  |  Sakesiening  |  Entrepreneurs  |  Armoede  |  Indiensneming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.