Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Mike Schüssler: In 2021 sal net 1 uit 3 ’n werk hê

Die uitgebreide werkloosheidsyfer in Suid-Afrika kan teen Maart 2021 tot so hoog as 53,2% styg, teenoor 38% in Maart vanjaar.

Dit is Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za, se voorspelling vir uitgebreide werkloosheid in die nadraai van die resessie en die Covid-19-pandemie.

Werkloosheid gaan aanhou styg selfs ná die Covid-19-pandemie. Foto: Gallo Images

Dit sal die eerste keer wees dat werkloosheid in enige land die 50%-kerf verbysteek.

Schüssler het Vrydag sy vooruitsigte bespreek vir die land se ekonomie, en veral vir werkloosheid, in ’n aanlyn webinaar wat deur die vakbond Uasa aangebied is.

“Die werkloosheidsituasie in Suid-Afrika is depressie-styl. Daar is geen ander manier hoe om dit te stel nie,” sê Schüssler.

Hy sê wanneer daar na geskiedkundige syfers gekyk word, bevind Suid-Afrika hom reeds in ’n situasie waar daar groter werkloosheid in die land is as wat die geval in Amerika was in 1932 tydens die Groot Depressie. Amerika se werkloosheidskoers wat toe 25%.

“Suid-Afrika het die pandemie ingegaan waar ons reeds ’n krisissituasie op hande gehad het wat betref werkloosheid,” sê hy.

Die amptelike werkloosheidskoers in die eerste kwartaal van 2020 was 30,1%.

“Om die waarheid te sê, werkloosheid in Suid-Afrika is vir die afgelope 20 jaar al meer as 20%. Dis net nie volhoubaar nie,” sê hy.

Schüssler sê as die uitgebreide werkloosheidsyfer tot meer as 50% styg, beteken dit dat net sowat 35% van die land se volwassenes ’n salaris verdien.

Die invloed wat dit op die staat se belastinginkomste gaan hê, is beduidend.

Hy waarsku dat dit op sy beurt ’n enorme risiko bring vir maatskaplike onrus omdat die staat nie genoeg geld gaan hê om werklose mense mee te help nie.

Schüssler sê in dié stadium is daar egter nog baie onsekerhede wat die syfer betref.

Hy glo die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se Covid19Ters-skema het baie maatskappye gehelp om werknemers in diens te hou.

“Die vraag is wat gaan gebeur wanneer dié betalings nie meer gedoen word nie,” vra hy. Schüssler sê werkgewers gaan dalk vind dat hulle werknemers steeds nie kan betaal nie en hulle dan uit diens moet stel.

Eise vir die tydelike verligtingskema kan ingedien word vir salarisse van April tot middel Augustus. Baie eise word steeds verwerk.

  

Dekade nodig vir herstel

Schüssler voorspel dat dit waarskynlik tussen 11 en 14 jaar gaan neem voordat Suid-Afrika se bruto binnelandse produk per capita weer tot dieselfde vlakke styg as wat dit in 2014 was.

Mike Schüssler ’n onafhanklike ekonoom. Foto: Elvira Wood

“Mense gaan armer wees.”

Die meeste mense sal hul sente ’n paar keer moet omdraai voordat hulle ’n nuwe huis, motor of items soos meubels gaan koop.

Hy dink hul besteebare inkomste gaan ook minder wees, wat hulle ook uit restaurante gaan hou.

Schüssler verwag dat die ekonomie in die tweede kwartaal met 53% ingekrimp het teenoor die vorige kwartaal, en met 18,9% teenoor ’n jaar gelede.

Dié vooruitsig is erger as dié van Reuters wat onlangs ’n peiling onder ekonome gehou het oor dié kwessie. Dié peiling het gewys dat die ekonomie ’n inkrimping van 44,5% verwag.

  

Werk verander

Schüssler sê hoe mense in die toekoms gaan werk, gaan waarskynlik verander.

“Ons sien reeds dat baie mense goed aangepas het om van die huis af te werk. Daar sal gesien moet word of dié tendens gaan voortduur, want dit sal ’n groot invloed op die ekonomie hê.”

As mense in die toekoms ook van die huis af gaan werk, dan gaan daar moontlik ’n kleiner vraag wees na kantoorspasie.

“Hoe gaan die sentrale sakegebiede dan lyk in byvoorbeeld Kaapstad, Pretoria-Oos en Sandton?”

Hy vra ook wat die invloed van dié tendens op motorhandel en vervoer gaan wees, asook alle ondersteuningsdienste aan dié sektore.

Schüssler sê dié tendens kan egter tot die redding kom van restaurante en selfs kerke, juis omdat mense steeds bymekaar wil kom.

Meer oor:  Mike Schüssler  |  Werkloosheidskoers  |  Bbp  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Werkloosheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.