Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Mike Schüssler: Ons skuld jong mense ’n verskoning
mike schussler,ekonoom
Mike Schüssler.

Die wêreld verkeer in ’n ekonomiese krisis weens ’n virus – of liewers – omdat die helfte van die wêreld tussen drie weke en meer as twee maande ingeperk is.

Ons politici is mal oor hul nuwe rol en het voor die kameras kom staan en hul wetenskap geparadeer.

Hulle praat rond en bont, maar die kruks van die saak is dat hulle dink hulle kan die land van die impak van die inperking red deur ons kleinkinders se toekoms te bestee.

Die ryk wêreld het binne maande $17 000 miljard se skuld uitgereik, in verhouding tot die totale bruto binnelandse produk (BBP) van $63 000 miljard vir dié lande.

Die ontwikkelende wêreld het nie ’n gesamentlike syfer nie, maar die verwagting is dat hul skuld vanjaar met minstens $3 000 miljard op ’n BBP van sowat $26 000 miljard gaan ontplof.

Dus, ryk lande voeg sowat 27% tot hul skuld-tot-BBP-koers en ontwikkelende lande sowat 12%. Dis skuld wat in die meeste gevalle in minder as ’n jaar uitgereik is.

In baie gevalle sal regerings nie kan stop nie – politici is in staat gestel om die toekoms te stroop.

Die wêreld voeg basies $2 400 se skuld vir elke man, vrou en kind by, wanneer die eintlike BBP per capita sowat $11 400 per persoon is. Maar daar is reeds $8 000 per capita skuld wat afbetaal moet word.

Daarby gaan inkomste na verwagting vanjaar tot nagenoeg $11 000 per capita daal, aangesien die wêreld se BBP gaan daal.

Dit sluit nie verbruikerskrediet of sakeskuld in nie – net regeringskuld! Voeg al die skuld saam en ons skuld sowat drie keer die waarde van die wêreld-BBP per capita.

Ek glo in krisistye moet die regering geld aan ondernemings en mense beskikbaar stel, maar die meeste van die geld beweeg van sentrale banke na die regering na die mark vir bespiegeling.

Markte tree nou op asof die wêreld al herstel het of baie vinnig gaan herstel, maar die skuldlas is net te groot. Die vrees wat sosiale media en regerings geskep het oor byna miljoen sterftes is absurd.

Ons weet nou ons gaan nie minder lewens verloor danksy die inperking nie. Ons het net die kurwe platter gemaak, wat beteken die sterftes sal oor maande plaasvind eerder as oor weke.

Een of 2 miljoen sterftes klink dalk baie, maar die Spaanse griep het ’n eeu gelede byna 3% van die wêreldbevolking uitgewis. Dit sou vandag 235 miljoen mense gewees het. Wêreldwye sterftes gaan minder as 1% daarvan wees.

Spaanse griep, die Hongkong-pandemie en ander het jong én ou mense doodgemaak. Covid-19 is gemeen, maar maak nie baie jong mense dood nie.

VSA werkloosheid
VSA

Die tipiese mens wat in Europa aan Covid-19 dood is, was ouer as 80 jaar; in die ontwikkelende wêreld is die mediaan sowat 20 jaar jonger.

Minder mense van werkende ouderdom sterf aan Covid-19 as aan gewone griep.

Selfs in Suid-Afrika eis griep elke jaar nagenoeg 20 000 mense – die meeste van hulle ouer, maar meer onder ouderdomsgroepe versprei as Covid-19.

Die tipiese ouderdom waarop Suid-Afrikaners sterf, volgens Statistieke Suid-Afrika, is 57 jaar oud. Die tipiese Covid-19-sterfte is 62. Die tipiese ouderdom van ’n griepsterfte was in 2015 sowat agt jaar jonger (56). Dus word mense van werkende ouderdom in die algemeen nie die swaarste getref nie.

Dis egter in die ouderdomsgroep van mense van werkende ouderdom waar tussen 130 miljoen en 200 miljoen mense wêreldwyd hul werk verloor.

Net in Suid-Afrika is daar reeds meer as 3 miljoen eise vir die Werkloosheidsversekeringsfonds se Covid19Ters, wat mense help wat spesifiek weens die Covid-19-krisis werkloos is. Baie van dié poste sal weer terugkeer, maar in die mees optimistiese scenario gaan minstens miljoen meer mense teen die vierde kwartaal van 2020 werkloos wees. In die mees pessimistiese scenario is dit 7 miljoen bykomende werkloses.

Maar selfs miljoen meer werkloses wat ’n huishouding van gemiddeld 3,5 miljoen mense onderhou het, beteken 3,5 miljoen mense gaan honger ly.

Ramings oor hoeveel mense aan Covid-19 gaan sterf, wissel van 10 000 tot die regering se 45 000. Die Wêreldgesondheidsorganisasie raam 23 000.

Aangesien meer as die helfte van dié mense oor 60 jaar oud sal wees, het hulle nie afhanklikes in die ware sin van die woord nie, hoewel baie van hulle dalk na kleinkinders omsien.

Die punt is: Die miljoene wat werkloos gelaat word, is baie meer as die getal sterftes. Ramings is dat tussen 25 en 700 keer méér mense minstens ’n jaar lank werkloos gaan wees.

As ons die 10,4 miljoen mense wat tans reeds werkloos is, en nou selfs moeiliker werk sal kry, lyk die saak ten gunste van inperking na gekheid.

Werklike leiers het dalk die inperking begin, maar gekonsentreer daarop om die gesondheidstelsel gereed te kry en feite te bekom. Om die waarheid te sê, hulle sou na wetenskaplikes geluister het en opgemerk het dat hulle al maande gelede gesê het die behoefte aan inperking is verby.

Maar politici het te veel gewaag – nie net in Suid-Afrika nie, maar in baie lande. Hulle wou nie luister nie of het vasgevang gevoel en moes net aanhou voorgee hulle “weet”.

Hulle het hul egoïsme blootgestel en baie van die wêreldekonomie vernietig pleks daarvan om te fokus daarop om hul ekonomieë aan die gang te kry en kinders terug skool toe te stuur terwyl hulle bejaardes beskerm.

Hulle het nie na ander wetenskaplike stemme of ekonome of dokters of sakelui geluister nie – net na een soort model vanuit een oogpunt.

Baie kan teruggevoer word na een model in die oorspronklike koloniseerder, met die toepaslike naam Imperial College.

Die probleem met kitskennis gekombineer met groot “hulpvaardige” besluite is dat dit tot enorme foute lei.

Die wêreldekonomie sal met 6% inkrimp voor die impak verby is. Die meeste van die val – van 3,2% groei tot ’n inkrimping van 6% – is aan die inperkings te wyte. Kyk na Suid-Korea, Taiwan en Japan en hoe hul BBP-groei van die neiging afwyk. Ja, dis erger as vantevore, maar sommige lande sal positiewe groei toon al sink die res van die wêreld. Hulle sal nie die werkloosheidskoerse hê wat gesien word in lande met streng inperkings nie. Hulle sal nie soveel skuld maak nie (hoewel Japan wel baie skuld maak).

Weer eens sal ’n generasie leer dat gedrukte geld nie langdurige groei skep nie. Dit skuif die probleem net ’n bietjie uit.

Die Covid-19-krisis gaan binnekort plek maak vir die grootste skuld- en werkloosheidskrisis tot nog toe. Groter as tydens die Spaanse griep in 1920 en groter as die groot finansiële krisis van 2008.

Ons het ons kinders en kleinkinders teleurgestel. Jammer, jong mense, ons het julle in die steek gelaat.

* Schüssler is hoofekonoom van Economists.co.za en ’n voormalige wenner van Netwerk24, Beeld, Die Burger, Volksblad en Rapport se Ekonoom van die Jaar-wedstryd.

Meer oor:  Skuld  |  Ekonomiese Krisis  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.