Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Mike Schüssler: Só kan staat nie ongelykheid oplos

Die lande met die hoogste ongelykheid het ’n paar ekonomiese aanwysers in gemeen wat lyk of hulle onverwant is en waarna ontleders oor ongelykheid baie selde verwys.

Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za. Foto: Wikus de Wet

Miskien is ontleders en leiers onbewus van dié syfers, of dalk snap hulle bloot nie hoe belangrik dit is nie. Ek sien ook nie juis dat akademici die verband besef nie.

Suid-Afrika stel nou al lank die krisis oor sy buitensporige besteding en begrotingstekort uit. Ons staan nou naby die einde van die pad en ons kan nie net aanhou geld uitgee in die hoop dag dinge sal verbeter nie. Die Covid-19-krisis het die einde van die pad selfs nader gebring.

Die volgende aanwysers vererger ongelykheid en armoede in ontluikende lande.

  

1. Hoë werkloosheid

Alle lande met hoë ongelykheid het ook baie hoë werkloosheidskoerse. Al vyf lande in die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Sadu) – Suid-Afrika, Botswana, Lesotho, Namibië en Eswatini (voorheen Swaziland) – lê onder die tien lande met die hoogste werkloosheid ter wêreld en onder die 12 lande met die hoogste ongelykheid.

Brasilië is ook op albei dié lyste – ’n duidelike bewys dat hoë werkloosheid ’n goeie aanwyser vir hoë ongelykheid is.

Dis heel logies: Te min mense wat werk laat armoede styg en dit vererger ongelykheid.

  

2. Hoë belastinglas

Die verhouding van belasting tot die bruto binnelandse produk (BBP) is ’n faktor wat dalk nie gesien word as ’n aanwyser van ongelykheid nie. Dis egter duidelik dat baie ontluikende lande met ’n hoë belastinglas ook hoë ongelykheid beleef. Al vyf Sadu-lande is onder die 30 lande met die hoogste belastingkoerse.

k

  

3. Groot salarisrekening

Ontluikende lande waarvan die staat ’n hoër salarisrekening as ’n persentasie van die BBP het, is ook geneig om baie ongelyk te wees.

Namibië en Suid-Afrika is die lande wat die swaarste las van salarisse dra. Brasilië, Eswatini en Botswana is ook hoog op die lys.

Die hoogs ontwikkelde land Swede het ’n laer salarisrekening as die gemiddeld vir die Sadu-lande.

Gekombineer met ’n hoë belastinglas, beteken dit die meeste belastinggeld is vir verbruiksbesteding – salarisse – en ’n relatief klein groep burgers wat ’n groot sny koek kry. Weer eens is al die Sadu-lande onder die top-tien, saam met Brasilië. Zambië en Mosambiek is onder die top-20.

Vir ontluikende lande is ’n hoë openbare salarisrekening ’n baie goeie aanwyser van ongelykheid. Dit beteken regerings het nie veel geld oor vir medisyne, boeke of paaie nie.

k

  

4. Hoë rente op skuld

Regerings se skuldlas is ook ’n goeie aanwyser van stres in ’n ekonomie. Suid-Afrika se rentebetalings as persentasie van die BBP is die vierde hoogste van groot ontluikende lande. Die begrotingstekort is ook een van die hoogstes. Brasilië en ander Sadu-lande het ook ’n groot begrotingstekort.

Staatskuld is nie ’n ooglopende aanwyser van ongelykheid nie – dis eerder ’n voetboei aan potensiële groei en die vermoë van infrastruktuurbesteding om groei te lig. As die ekonomie nie groei nie, sal daar geen verbetering in armoede- en werkloosheidsvlakke wees nie.

  

Die eintlike probleem

Die probleem is dat sekere regerings en selfs baie akademici blykbaar glo die probleme van ongelykheid en armoede kan opgelos word as die staat meer bestee. Dis pertinent onwaar vir ontluikende lande, maar ook vir die meeste ander lande. Selfs reserwe-geldeenhede (soos die dollar, euro en pond) sal op die een of ander stadium inplof as skuldvlakke net aanhou styg.

Die werklike probleem is nie besteding nie, maar ondoeltreffendhede en misdaad.

Suid-Afrika slaag nie daarin om ondoeltreffende regeringsdepartemente, swak bestuurde staatsondernemings of funksies soos openbare vervoer om te keer nie. Die vernietiging deur korrupsie, wat elke moontlike faset van die regering verswelg het, duur net voort.

Die regering sal nie belasting in ’n swak ekonomie kan verhoog sonder om die gans dood te maak wat reeds gekraakte goue eiers lê nie.

Dis nou net afdraand aangesien die staat se beursie leeg is. Met die begrotingstekort wat vanjaar tot 14,6% van die BBP gaan opskiet en volgende jaar ook bo 10% gaan wees, is dit laf om te dink staatskuld gaan minder as 100% van die BBP bly.

Vanjaar word 52% van nierente-besteding deur skuld gefinansier. Dis nie eens naastenby volhoubaar nie. Meer as 40% is gewoonlik ’n duidelike teken van ’n skuld- of hiperinflasiekrisis wat aan die broei is.

Die buitensporige belastinglas druk enige groeipotensiaal dood, terwyl die geld meestal op verbruik (salarisse) bestee word. Ons presidensie maak staat op ’n oorheersende regering. En staatsbesteding en ’n belastingbestel wat ’n verlinkse vakverbond tevrede moet hou, sal nie sommer weggaan nie.

Maar soos skuldvlakke tot naby 100% van die BBP styg, sal die ruimte om dinge te doen, uitgewis word. Die regering sal nie belasting in ’n swak ekonomie kan verhoog sonder om die gans dood te maak wat reeds gekraakte goue eiers lê nie.

As massiewe hervorming nie in werking gestel word nie, breek ’n nagmerrie vir Suid-Afrika aan: Universiteite sal sluit, treine – van die Metrorail tot die Gautrein – sal nie meer loop nie, staatstoelaes sal waardeloos word en hospitale sal plekke word waar dokters werk, maar nie eens ’n Panado kan voorskryf nie.

Ongelykheid en armoede sal selfs verder styg. Werkloosheid sal die hoogte inskiet.

Ons kom al hoe nader aan dié scenario, waar die regering pensioenfondsregulasies sal verander, miljarde by die Internasionale Monetêre Fonds sal bedel en rykes met selfs hoër belasting sal slaan, wat werkskeppers landuit sal dryf.

Ek is glad nie ’n pessimis nie, maar ons moet eerlikwaar bid dat Tito Mboweni, minister van finansies, dinge dié keer kan regkry. Saam met ekonomiese groei sal hoop doodbloei.

Die groot veldslag is hier. Daar is geen manier om weg te hardloop of weg te kruip nie.

  • Schüssler is die hoofekonoom van Economists.co.za en ’n voormalige wenner van Netwerk24, Rapport, Volksblad, Beeld en Die Burger se Ekonoom van die Jaar-wedstryd.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.