Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Mike Schüssler: Só lyk pad na bankrotskap

“How did you go bankrupt?” Bill asked. “Two ways,” Mike said. “Gradually, then suddenly.” – Ernest Hemingway, The Sun Also Rises

mike schussler
Mike Schüssler, ekonoom van Economists.co.za.

“Elke keer as julle ekonome van ’n krisis praat, sien ek dit nie regtig nie,” sê ’n vriend ’n tyd terug. “Hoe lank praat julle nie al van afgraderings en skuldprobleme nie, maar die wêreld het nog nie tot ’n einde gekom nie?”

Ek het lank hieroor gedink, ook te midde van die inperking en krimpende ekonomie.

Baie mense voel nie veel van ’n impak nie – hulle kla dalk nou en dan oor slaggate en beurtkrag, maar hulle het hulself geïsoleer deur sportnutsvoertuie en kragopwekkers te koop om daardie lastighede te bowe te kom.

Suid-Afrikaners is veerkragtig in die lig van stygende druk soos die land krisis op krisis trotseer.

Reddingsboeie vir staatsondernemings en swak dienslewering raak baie mense slegs wanneer hul belastingrekening styg terwyl hulle ook self meer moet betaal om swak dienslewering te vermy – in die vorm van mediese versekering, skoolgeld en veiligheidsmaatskappye.

Suid-Afrika was meer as ’n dekade lank stadig aan die agteruitgaan nadat die hulpbron-opbloei getaan het en ’n swak regering opgang gemaak het. Die nasie het nuwe woorde geleer, soos staatskaping.

Elke nasionale begroting die afgelope paar jaar is as die “moeilikste nóg” beskryf. Nuwe inkomstebelastingkerwe is ingestel en kerwe is nie meer vir inflasie aangepas nie.

Sedert 2014 het almal ’n bietjie armer geword – nie baie op ’n slag nie, maar met ’n paar persentasiepunte elke jaar.

Mense het aangepas en dikwels die las op ander oorgedra, byvoorbeeld deur nie vir water en ligte te betaal nie. Swak skuld by munisipaliteite het tussen 2012 en 2020 met 164% opgeskiet.

Skuld wat afgeskryf is, het in dieselfde tyd met 246% gestyg, wat beteken die rekening van betalende huishoudings het met ’n onnodige 10% elk gestyg. Ja, munisipale rekenings het nie net opgeskiet weens stygende Eskom-tariewe nie, maar ook omdat ander huishoudings nie vir dienste betaal nie.

Nutsdiensrekeninge gaan volgende jaar weer skerp moet styg omdat sowel Eskom as munisipaliteite groot verliese moet inhaal.

Baie skole sukkel om bestuursliggaamposte te behou, waardeur klasse kleiner gehou word. Klasgrootte is baie belangrik vir beter uitkomste.

Treine, wat duisende mense by die werk moet kry, het so te sê tot stilstand gekom. Die meeste mense op treine betaal nie. Die Passasierspooragentskap (Prasa) en Gautrein sal hulppakkette benodig wat die staat nie kan bekostig nie.

Skuld

Dieselfde geld die SAUK, Denel, Eskom (alweer), dele van Transnet, en ’n hele horde staatsondernemings en -agentskappe.

Die “skielik” – soos in die Hemingway-aanhaling hierbo – is hier.

Die “geleidelik” was erg genoeg vir werkloosheid en armoede, wat albei tot groter ongelykheid gelei het. Om inflasieverwante verhogings toe te staan aan die 18 miljoen mense wat staatstoelaes ontvang, sou nie moontlik gewees het sonder om elders te besnoei nie.

Die rykste 30% van Suid-Afrikaners is dalk ’n bietjie ryker as die wêreldgemiddelde, maar sou in die meeste ontwikkelde lande werkersklas gewees het. In baie gevalle sou hulle minder belasting op hul inkomste moes betaal, en nie ekstra moes betaal vir goeie opvoeding en gesondheidsorg nie.

Die gemiddelde bruto salaris vir iemand in die private formele sektor (R21 455 per maand volgens Statistieke Suid-Afrika se kwartaallikse indiensnemingspeiling vir die tweede kwartaal) sou vir mense in die meeste Amerikaanse deelstate meer van die staat teruggekry het in gratis dienste as die belasting wat hulle moes betaal. In sommige deelstate sou hulle selfs as arm beskou word.

In Europa sou belastingdrempels teen huidige wisselkoerse beteken het die gemiddelde werknemer in die private sektor sou nie eens persoonlike inkomstebelasting hoef te betaal in onder meer Italië, Nederland of Swede nie.

As jy dit nie weet nie, reken jy dit is heeltemal normaal om baie hoë belasting te betaal én steeds ekstra vir opvoeding en gesondheidsorg te betaal.

Uiteraard weet ekonome ook nie presies wanneer die skielike deel van bankrotskap sal gebeur of hoe dit sal gebeur nie.

Wat ek weet, is dat die krisis baie gou op pad is – soos personeel van Denel, die Suid-Afrikaanse Lugdiens en SAUK kan getuig. Die kleinkas is leeg.

Die “Graaf van Magoebaskloof” – soos Tito Mboweni, minister van finansies na homself verwys – geniet oënskynlik sy status as die beroemdste “sjef” van daai deel van die wêreld. Kook hy dalk terwyl die res van die regering hom aansê wat om te doen?

Die laagste kredietgradering wat die land nóg gehad het, is ’n massiewe probleem en kan die “skielike” deel van bankrotskap versnel.

Die goeie nuus is dat van die keuses wat die regering nou begin doen, soos om toe te laat dat meer krag deur ander opgewek word, ’n bietjie sal help.

Die probleem is totdat die regering sy politieke kapitaal inspan om moeilike besluite te neem, sal die “skielik” steeds aanbreek. Dit sluit in dat elitistiese wetgewing soos swart ekonomiese bemagtiging geskrap moet word, dat baie staatsondernemings geprivatiseer moet word, dat die vrot appels in die tronk gegooi moet word, en dat die staat se salarisrekening verminder moet word.

Suid-Afrika is ’n kapitaalarm land en het spaargeld van oorsee nodig, maar die regering is traag om sy politieke kapitaal te bestee. Dis dalk waarom die “Sjef van Magoebaskloof” opsy geskuif is. Hy verstaan dat ’n mens politieke kapitaal moet blaas om ’n wen-ekonomie te bou.

Die SAL-reddingsboei en die geskree van ander staatsondernemings en ministers wys ons dat daar nie op die oomblik die bereidwilligheid of, selfs erger, vermoë is om moeilike besluite te neem nie. Dit sou bestaande oortuigings op hul kop keur.

Suid-Afrika hou dus aan om geld uit te gee om belangegroepe te paai.

Die rekening word egter enorm. Net die rente op staatskuld gaan binne ’n dekade waarskynlik tot meer as 9% van die bruto binnelandse produk (BBP) styg. Dit sal na aan 30% van staatsbesteding wees.

Die “geleidelike deel van bankrotskap eindig wanneer staatskuld tot meer as 100% van die BBP styg. Net een uit 53 lande waarvan verhouding 130% was, het nié ’n finansiële krisis gehad nie. Vir ontluikende lande kom die krisis lank voor daardie vlak.

’n Krisis sal meebring dat staatsbesteding radikaal beperk word. Dit kan lei tot streng perke op valutabeheer. Staatsamptenare se salarisse en toelae sal herstruktureer word.

Die private sektor beter sy stem nou begin dik maak of die pyn gaan hom swaar tref. Rentekoerse wat die hoogte inskiet en die ineenstorting van die rand sal aan die orde van die dag wees.

Verwag ’n vingerwysery en verbale aanslagte teen baie voordat die werklikheid intree.

En tog sal die son weer skyn.

  • Mike Schüssler van Economists.co.za is ’n voormalige wenner van Netwerk24, Beeld, Rapport, Die Burger en Volksblad se Ekonoom van die Jaar-kompetisie.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.