Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Mike Schüssler: Staat op snelweg na mislukking

Die swakste syfers oor die bruto binnelandse produk (BBP) word nie baie bespreek nie. Maar dit is belangrik vir ons toekoms dat dié onderliggende neigings verstaan word.

Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za. Foto: Wikus de Wet

Die eerste tendens is dat die nie-finansiële privaat sektor in vergeleke met ’n jaar gelede met 25% gedaal het. Dit is teenoor die daling van 17,2% van die hele ekonomie se BBP.

Die nie-finansiële privaat sektor het dus byna dubbeld soveel as die hele ekonomie gedaal.

Die regering se BBP is steeds 0,6% hoër as ’n jaar gelede en finansiële dienste net 7% laer. Maar dié twee sektore gaan moontlik jare lank sukkel om te groei omdat dit op die nie-finansiële private ekonomie vir belasting en kliënte staatmaak.

Eenvoudig gestel, is die 17,2%-daling nie die beste maatstaf om die toekomspotensiaal van Suid-Afrika te ontleed nie. Die nie-finansiële private ekonomie word dikwels die produktiewe ekonomie genoem – na my mening, die werklike ekonomie.

Bankiers en versekeraars het die werklike ekonomie nodig – hulle lewer dienste en het geen bestaansreg as niemand die dienste benodig nie. Kleinhandelaars kan nog ingevoerde goedere verkoop sonder vervaardigers; vervaardigers kan uitvoer indien hulle min Suid-Afrikaanse klante het.

Maar die regering kan nie firmas of mense in ander lande belas nie.

Banke word gelisensieer om geld in hul eie land uit te leen en versekeraars verkoop grootliks versekering in hul tuismark.

Statisties gesproke moet die werklike ekonomie met 33,4% groei om weer dieselfde vlak as ’n jaar gelede te bereik. Dit het uiteraard nog nooit so vinnig gegroei nie – oor die afgelope dekade het dit skaars met 10% gegroei as dit net tot die einde van die eerste kwartaal van 2020 gemeet word.

Die laaste keer wat dit met meer as 33% oor ’n hele dekade gegroei het, was vir die dekade tot einde 1974!

Terselfdertyd het die staatsektor by verstek groter geword en het dit meer inkomste nodig, van ’n baie kleiner werklike ekonomiese basis. Die grootte van die regering het van 22% van die werklike ekonomie tot 32% van die werklike ekonomie gestyg.

Staatskuld groei met meer as R60 miljard per maand.

k

Die kleiner werklike ekonomie moet dus nou ’n relatief baie groter staat ondersteun, sowel as staatskuld, wat tot byna 30% van die totale BBP gestyg het.

Teen die einde van die jaar sal die verhouding van staatskuld tot die private werklike ekonomie meer wees as die 113% wat dit einde Junie was.

k

Die grafiek is vreesaanjaend – dit toon hoe die private sektor verswak, onder druk weens hoër belasting, korrupsie en trae groei, minstens deels weens die regering se onvermoë om krag, water, paaie, riolering en selfs posdienste te verskaf.

Die dapper privaat sektor in perspektief

Private firmas probeer hard om die ekonomie vir hulle te laat werk, maar die deurlopende gebrek aan dienslewering en foute deur die regering, wat alles insluit van die toewysing van digitale spektrum tot ’n kultuur om die privaat sektor die skuld vir ’n klomp dinge te gee.

Dis asof die regering so ver in die verlede leef dat hy die privaat sektor heeltyd probeer terugsuig. Die Suid-Afrikaanse BBP per capita is nou kleiner as in die 1970’s en die meeste van die 1980’s.

Die nie-finansiële sektor verteenwoordig nou slegs 58% van die werklike ekonomie. Dis die laagste persentasie nóg!

Hoewel die meeste lande wêreldwyd skerp dalings in hul BBP ondervind, het ek nog nie een gesien waarvan die per capita-inkomste laer as in die 1970’s is nie.

k

Met ’n baie kleiner privaat sektor en armer inwoners gaan dit moeilik wees om die groeileer te klim. Die ekonomie gaan minstens vyf jaar vat om weer tot die vlakke aan die einde van 2019 te kom. Die produktiewe ekonomie is waar dit in 2004 was. ’n Hele 16 jaar van toegevoegde waarde is vernietig!

Hoewel die ekonomie sal terugspring en minstens die helfte van die verliese in die volgende jaar sal herwin, sal dit nog ’n dekade duur voordat die werklike ekonomie terug is waar dit in 2019 was – dis nou gegrond op ons powere groeiprestasie.

Dit sal veranderinge afdwing wat ons nog nooit voorheen gesien het nie. Die staat sal sy besteding noodgedwonge moet besnoei.

Voorspellings oor die staat

Ek glo die veranderinge wat oor die volgende vier jaar op Suid-Afrika afgedwing gaan word, gaan enorm wees. Hier is ’n paar van my voorspellings.

  • ’n Enorme verkleining van die staatsdiens of van hul salarisse.
  • Dit kan klasse in staatskole met tot 50% laat styg, want onderwysers gaan ook afgelê word. Meer as 40 kinders per klas gaan die nuwe standaard wees, maar meer as 50 kinders glad nie ongewoon nie.
  • Suid-Afrika sal binne vyf jaar minder as tien universiteite hê, en binne ’n dekade dalk net vyf. Ons gaan eenvoudig nie meer die geld hê nie. Unisa sal een daarvan wees, maar die res is onseker. Kimberley en Mbombela kan vergeet van die universiteite wat hulle het.
  • Die polisie en weermag sal drasties verklein word.
  • Maatskaplike toelae sal nie juis verminder word nie – die stemme wat dit bring, is te belangrik.
  • Die meeste staatsondernemings sal verkoop of gelikwideer word. Eskom en Transnet sal verkoop word en so ook die meeste staatsgrond.
  • Die Gautrein en Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa, wat Metrorail bedryf) sal toegemaak moet word aangesien die subsidies onbekostigbaar sal wees.
  • Hospitale sal dalk personeel hê, maar nie genoeg medisyne of toerusting nie.
  • Administratiewe departemente soos arbeid, handel, mynbou en die tesourie se personeel sal met die helfte gesny word of hul salarisse gaan gesny word.
  • Kleiner departemente soos sport, kuns en kultuur en wetenskap, vroue en die jeug sal in een of twee departemente saamsmelt.
  • Suid-Afrika sal 15 ministers en ’n president hê.

Bid maar dat dié voorspellings waar word, want die alternatief is dat die regering sal probeer om selfs hoër belasting deur te voer – wat die land op ’n snelweg na ’n mislukte staat sal plaas.

Daar is eenvoudig nie meer vermoë in die werklike ekonomie om die enorme skuld- of belastinglas te dra nie. Mense sal emigreer of ondernemings sal bloot krimp ten einde aandag te ontwyk.

Suid-Afrika loop die risiko dat sy grootste uitvoerproduk talentvolle jong mense gaan wees.

Covid-19 as ’n siekte was dalk onaangenaam, maar as ’n ekonomiese ramp het dit geen vergelyke nie. Dit wys alte duidelik dat die keiser kaal is.

  • Mike Schüssler is die hoofekonoom van Economists.co.za en ’n voormalige wenner van Netwerk24, Rapport, Die Burger, Beeld en Volksblad se Ekonoom van die Jaar-kompetisie.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.