Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Mike Schüssler: Vryemark maak reg wat staat verbrou

Tydens die inperkingstyd het die staat se gebreke vir my al hoe duideliker geword.

Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za. Foto: Wikus de Wet

Ja, ons weet almal van die probleme met krag en water in baie streke en hoe vrywilligers moet inspring, soos die geval al baie in die Oos-Vrystaat was.

Private krag-ingrypings

Maar ek sien al hoe meer hoe die mark werk soos gesinne sonkrag kry (as hulle dit kan bekostig), nie net vir lig nie, maar ook vir waterpompe wat met sonkrag werk.

Rykes ontkoppel hulself van die kragnetwerk, terwyl die middelklas net meer gereeld braai.

Ysterwarewinkels maak geld soos bossies uit alarmbatterye, wat weens al die beurtkrag net ’n jaar of twee hou.

Entrepreneuriese jong mense adverteer hul dienste om kragopwekkers of rugsteunstelsels vir rekenaars (UPS) te herstel of op te gradeer.

Kritici kan maklik uitwys dat opwekkers en wisselrigtoestelle duur is; dis inderdaad welvarende huishoudings wat hulle tot dié produkte wend.

Maar arm en middelklas-huishoudings maak ook planne. Hulle skaf byvoorbeeld LED-ligte aan wat met herlaaibare batterye aangedryf kan word; teen minder as R400 kan ’n mens minstens in die donker goed doen, of koop sonkragligte in Consol-glashouers.

Sonkrag-warmwaterstelsels word sommer in my plaaslike Chinese sentrum verkoop en een winkeleienaar sê elke keer as beurtkrag hervat word, verkoop dit soos soetkoek.

Gasverkope floreer behoorlik soos wat voorstedelike huishoudings oorskakel na gas om kos te maak.

Mense koop bottels water op grootmaat aan.

Die punt is: Die mark los die probleem van Eskom se onbetroubare kragverskaffing en met die munisipale waterverskaffing op 1 000 mikro-maniere op.

k

Private herwinning

Een van die interessanter markingrypings is die duisende mense wat op klein skaal vullis verwyder. Mense laai berge vol herbruikbare rommel in winkeltrollies en maak ’n bestaan.

Munisipale vullisverwydering is deesdae gereeld dae laat omdat vragmotors breek.

Laasweek het ek sewe trollies pad-af gesien ry met genoeg rommel om minstens een vullisverwyderingsvragmotor vol te maak.

Dié ingryping deur die “private sektor” vind in elke stad en dorp plaas.

As al dié mikro-ondernemings wegval, sal munisipaliteite waarskynlik ’n derde meer vragmotors moet aanskaf.

Dis dalk ’n geskarrel om oorlewing, maar dié mense speel nie net ’n ekonomiese rol nie, maar ook ’n omgewingsrol. Dink net hoe sou die rotte die strate oorgeneem het as die rommel net dae lank bly lê het.

Om nie eens te praat van die omgewingsvoordeel van die sortering en herwinning, en hergebruik, van soveel rommel nie.

Private vervoer

Suid-Afrika se private sektor het ook toegetree tot die ineenstorting van die passasierspoorstelsel. Meer as 95% van betalende klante ry nie meer trein nie – treine is net te onbetroubaar en onveilig. Plek-plek is treinspore gesteel en mense woon nou waar die treine voorheen gery het.

Baie van ons verpes dalk taxi’s, maar hulle kry derduisende mense daagliks by die werk.

Dis ’n gegewe dat baie mense taxi ry wat vroeër trein gery het. Tydens verlede jaar se inperkings was taxi’s op roetes langs Johannesburg se ou treinspoor baie voller as dié in die stadskern.

Die Gautrein het ook tydens die inperking byna stilgestaan, wat mense sonder motors genoodsaak het om hulle tot ander opsies te wend. Baie het saamrygeleenthede gekry, ander het net meer begin stap of fietsry. En natuurlik is daar nou Uber en soortgelyke dienste.

k

Ander geleenthede

Die inperking het ook geleenthede in die sluikhandel geskep wat nie voorheen bestaan het nie – soos die grootliks onsuksesvolle verbod op sigaret- en drankverkope gewys het.

Veiligheidsmaatskappye en private hospitale is maar net simptome van die staatsmislukking, en so ook buurtwagte.

Met dié dat onderrig verlede jaar met groot vrug aanlyn beweeg het, en ook vanjaar aanlyn vir baie skole begin, is nuwe geleenthede in die mark geskep. Baie buitelandse instellings bied internasionale diplomas plaaslik aan.

Die verstommende ding is dat die private sektor en die mikrosektor die staat se werk doen teen ’n fraksie van wat die staat daarvoor betaal, met diensvlakke waarmee die staat nie kan meeding nie.

Die staat is ’n doring in die vlees van vordering.

Suid-Afrika is ’n soort mislukte diensstaat, maar mense maak planne. Dis regtig ongelooflik as ’n mens eers begin oplet daarna.

  • Schüssler is ’n meermalige wenner van Sake, Die Burger, Beeld, Volksblad en Rapport se Ekonoom van die Jaar-wedstryd. Hy is die hoofekonoom van Economists.co.za.
Meer oor:  Mike Schüssler  |  Private Sektor  |  Krag  |  Elektrisiteit  |  Privatisering  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.