Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Mike Schüssler: Vuurpyl is die antwoord, of hoe?

In Januarie 2019 het Suid-Afrika ’n minimum loon van R3 500 per maand in werking gestel. Dis dalk vir baie mense nie veel nie, maar vir heelwat mense het dit nogal baie beteken.

werkloosheid
Nagenoeg 3 miljoen Suid-Afrikaners het tussen Februarie en April hul werk verloor. Foto: Getty Images

Meer as 99% van alle ondernemings voldoen aan die minimum loon, gegewe hoe min sake by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) aanhangig gemaak is.

Die meeste salarisse is reeds baie meer as die minimum loon, minstens in die formele sektor.

Daar was baie min netto werkverliese tussen Desember 2018 en Maart 2020.

Op die oog af lyk dit dus asof die nasionale minimumloon sonder haakplekke in werking gestel is.

Enkele bedrywe het in die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) aangedui dat hulle probleme verwag, maar dit lyk asof daar min besware was buite die landbou, kleinhandelaars, haarkappers en miskien veiligheid.

Sedert die inwerkingstelling van die minimum loon het die getal werkloses egter met 1,1 miljoen toegeneem. Net 151 000 poste is in die jaar verlore – die groter probleem is dat geen poste geskep is nie, en intussen het byna miljoen jong mense hulle by die arbeidsmark aangesluit.

k

Werkloosheid het gestyg reeds voordat Covid-19 Suid-Afrika getref het – ek verwys na syfers van die eerste kwartaal. Die aantal werkloses het met die grootste getal gestyg sedert 2016.

Die persentasie volwassenes met werk – bekend as arbeidsabsorpsie – het tot die laagste vlak geval sedert vroeg in 2012, toe Suid-Afrika net uit die finansiële resessie begin kom het.

Wêreldbankdata wys reeds daarop dat Suid-Afrika een van die laagste vlakke van arbeidsabsorpsie op die planeet het.

Suid-Afrikaanse mans se indiensnemingskoers is die vierde laagste ter wêreld – net 46%, volgens die Internasionale Arbeidsorganiasasie. Dis teenoor die wêreldgemiddelde van 70,2%.

k

Die feit dat net sowat 15% van Suid-Afrikaners vir hulself werk – ’n derde van die wêreldgemiddelde – wys dat Suid-Afrikaners swaar steun op gereelde salarisse. ’n Hoër persentasie Suid-Afrikaners met werk ontvang ’n gereelde salaris as die gemiddelde vir die eurogebied.

Suid-Afrika se gemiddelde inkomste per werkende persoon is omtrent 10% bo die wêreldgemiddelde. Dit het die afgelope dekade effens gedaal. Ons verdien ’n premie selfs al is die gemiddelde getal jare opvoeding twee jaar minder as die wêreldgemiddelde.

k

Dis teenoor die algehele bruto binnelandse produk (BBP) per capita, wat nou 25% onder die wêreldgemiddelde is.

Die jongste verslag oor die vierde nywerheidsrevolusie wat die Wêreld- Ekonomiese Forum (WEF) uitgereik het, toon minder as 30% van Suid-Afrika se bevolking het “digitale vaardighede”. Minder as 30% van die arbeidsmag het hoërskool voltooi – en dan praat ons nog nie eens van die gehalte van onderrig nie.

Baie ontwikkelde ekonomieë het ’n arbeidsmag waarvan ’n groter persentasie universiteitsgrade het as die persentasie Suid-Afrikaners met matriek of meer. Dis feite wat ek nie op een verslag oor die minimum loon gesien het nie.

Dis nie ontkenning nie, dis kitsch.

Dis asof ons leiers en akademici kitsch is. Milan Kundera het dié Duitse woord die beste beskryf toe hy gesê het dis die absolute ontkenning van twak. Dis soos die knikkende kop van ’n ornament van ’n hond in ’n motor se agtervenster – dit kyk die verkeerde rigting en lyk nie soos ’n regte hond nie; dis oulik sonder enige punt.

Ons nywerheidsbeleid lê die klem op enorme beleggings in infrastruktuur en vinnige digitale toegang vir almal. Maar dit help baie min as jy honger is en sukkel om te lees. Om data goedkoper te maak, help nie as jy geen inkomste het nie.

Die WEF wys ook uit dat Suid-Afrikaanse maatskappye kla oor die gebrek aan ondervinding van ’n groot deel van die bevolking van werkende ouderdom.

Voordat ons satelliete in die naglug opskiet, moet ons vra waarom treine nie werkende mense by die werk kan kry nie.

Die feit dat baie staatsamptenare met die staat sake doen, en só belastingbetalers meer laat betaal vir dienste, en dan boonop elke vyfde werkdag af is, word min genoem. Jare lank het ons ontken dat Eskom-werknemers gemiddeld onder die 1% mense in die land is wat die meeste verdien. Nou weet ons ook 13% van hulle het sake met hul werkgewer gedoen.

Elke toespraak wat ons hoor, is net ’n ontkenning van die werklikheid vir werklose mense. Dis wreed om ’n toelae van R350 per maand uit te deel of tydelike regeringsposte teen R1 800 per maand te skep, maar dit dan onwettig te maak dat iemand vir, sê maar, R2 700 per maand in die private sektor mag werk. Die staatsposte hou nie lank nie en dit help boonop as jy iemand ken . . .

Ek was verras toe ek hoor baie vakbondleiers weet nie eens dat min treine op die oomblik loop nie, maar nietemin glo dat die privatisering van ons passasierspoorstelsel ons werkers sal verarm. As hulle nie ’n trein kan kry nie, moet hulle vyf keer méér vir ’n taxi betaal – en as jy, as vakbondleier, dit nie weet nie, het jy jou ook tred met die werklikheid verloor.

Die meeste vakbondleiers woon saam met die kapitaliste wat hulle voorgee om te haat, terwyl hulle daardie welbekende Marxistiese handelsname bestuur – julle weet, BMW’s en Audi’s, mos.

Baie mense meen werkloosheid en ongelykheid kan reggeklap word met meer geld, maar dis verkeerd. Dis ’n drogredenasie dat ’n verhoging in die minimum loon ongelykheid kan help verlig – jy ontneem net nog meer werkloses van die geleentheid om ’n inkomste en ervaring op te doen.

Niemand wat ten gunste was van die minimum loon het voorsien dat werkloosheid met meer as ’n miljoen mense gaan toeneem nie.

Die inperking het sedertdien die werk vernietig van duisende kwesbare mense wat nie die vaardighede het om in die meer digitale ekonomie mee te dring nie.

Ja, daar sal meer koerierdrywers wees, maar poste is vernietig by toerisme-ondernemings, restaurante en persoonlike dienste soos persoonlike afrigters en haarkappers. Ongelykheid gaan nou skerp styg.

Dis ’n wêreldwye probleem – die raming is dat 100 miljoen poste verlore is. Ons weet reeds Suid-Afrika het 2,2 miljoen poste afgeskryf – meer as 2% van die verwagte wêreldwye verlies, hoewel Suid-Afrika net 0,7% van die wêreldbevolking verteenwoordig.

Nie ’n enkele beleidsvoorstel dink aan die tipiese Suid-Afrikaners nie. Daardie mense se bestaan word ontken, al gee baie van ons leiers voor hulle praat namens hulle. Dis in hul naam wat ons tenders en planne sien wat eindelik net ’n paar mense verryk. Dis in hul naam wat van ons radikale vakbondleiers op Zoom-konferensies praat vanuit sitkamers in Morningside.

Maar hulle word nie raakgesien nie.

David Kramer sing in “Dry Wine”:

And her husband asks the waiter

‘Are these prawns from Mozambique?’

And the waiter he just nods his head

And he smiles but doesn’t speak

And knowing it all

As I watch from the sidelines

My thoughts are my own

As I swallow my dry wine.

Hoe meer dinge verander, hoe meer onsigbaar bly hulle.

  • Mike Schüssler is die hoofekonoom van Economists.co.za en ’n voormalige wenner van Netwerk24, Beeld, Die Burger, Volksblad se Ekonoom van die Jaar-wedstryd.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.