Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Miljarde se invoer uit China is doring in die vlees

Die jaar het rof begin. Sakevertroue is steeds maar eina, die rand het met sowat 6% teenoor die Amerikaanse dollar verswak, ’n liederlike virus in China jaag die hele wêreld op hol en die vervaardigingsektor hou aan inkrimp.

Dr. Roelof Botha

Daar kan nog heelwat op dié lys voortgeborduur word, maar uiteindelik dui die slotsom van kernaanwysers op nog ’n jaar van swak ekonomiese groei.

Een ligpunt is dat pres. Cyril Ramaphosa in sy jongste staatsrede die land se werkloosheidsprobleem as ’n krisis beskryf en verreikende nuwe maatreëls aangekondig het om dié probleem die hoof te bied.

In geen stadium in oudpres. Jacob Zuma se ampstermyn is soveel klem op die noodsaak van werkskepping gelê nie. Onder die dekmantel van kaderontplooiing het nepotisme en die aanstelling van onbevoegde staatsamptenare op alle vlakke van regering tot die stelselmatige aftakeling van die staat se doeltreffendheid gelei.

Ramaphosa het al by verskeie geleenthede beklemtoon dat dié toedrag van sake stap vir stap ongedaan gemaak gaan word. Dit is net ’n kwessie van tyd voordat die nasionale vervolgingsgesag nóg van die sogenaamde Zuptas gaan vervolg.

In geen stadium in oudpres. Jacob Zuma se ampstermyn is soveel klem op die noodsaak van werkskepping gelê nie.

Intussen sal die skade wat die Zuma-bewind die ekonomie berokken het, nie oornag verdwyn nie.

Daarby moet Rama­phosa ook ’n wakende oog oor die ondergrawers in sy eie party hou.

Sterk aanwysers

Gelukkig is daar darem ook belangrike ekonomiese aanwysers wat kan bydra om ’n grondslag vir behoorlike ekonomiese herstel te bou. Een hiervan is die merkwaardige verbetering in kapitaalvorming wat in die tweede en derde kwartaal van 2019 plaasgevind het.

Nog een is die sterk toename in direkte buitelandse investering sedert Ramaphosa as staatshoof oorgeneem het.

’n Derde een is die mooi vertoning van die land se handelsrekening met die res van die wêreld wat verlede jaar vir die derde opeenvolgende jaar ’n surplus opgelewer het. Nie dat ’n tekort op die handelsrekening noodwendig sleg vir ’n ontwikkelende land se ekonomie is nie – dit kan immers ’n teken wees van groter investering in produksievermoë.

k

Teen die agtergrond van ’n dreigende afgradering van Suid-Afrika se staatskuld deur Moody’s Investors Service en ’n wisselvallige en effens onderwaardeerde rand, is ’n handelsurplus egter goeie nuus.

Verlede jaar is ’n surplus van byna R25 miljard aangeteken en die kumulatiewe surplus op die land se handelsrekening beloop sedert 2017 meer as R116 miljard. Dit volg op ’n sesjaar-tydperk waarin ’n kumulatiewe tekort van meer as R272 miljard ontstaan het.

SA voer nie net kommoditeite uit

Nog ’n bemoedigende aspek van verlede jaar se handel met die res van die wêreld is die feit dat voedsel, voertuie, masjinerie en produkte van yster en staal gesamentlik meer as 43% van die land se totale uitvoer beloop het. Hiermee word die mite dat Suid-Afrika slegs ’n uitvoerder van kommoditeite is, die nek ingeslaan.

’n Ontleding van individuele lande se handelsrekeninge met Suid-Afrika bevestig die kernbelangrike rol van Afrikalande, veral die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG).

Hoewel China ’n goeie mark vir Suid-Afrika se hulpbronne is, word te veel produkte ingevoer wat plaaslik vervaardig kan word en werk kan skep. Foto: Jaco Marais

Laasgenoemde groepering het in 2019 ’n allemintige R227 miljard tot Suid-Afrika se netto buitelandse handel bygedra. Was dit nie vir dié handelsvennote nie, sou Suid-Afrika se betalingsbalans onder groot druk verkeer het.

Die reusehandelstekort met China bly ’n kopseer. Dié land voer hoofsaaklik steenkool en ystererts van Suid-Afrika in, maar het verlede jaar R235 miljard se produkte na Suid-Afrika uitgevoer – waarvan die meeste uit China se vervaardigingsektor kom.

Suid-Afrika se handelsrekening met China was met meer as R96 miljard in die rooi.

Die boodskap vir die departement van handel en nywerheid behoort duidelik te wees: Oorweeg kwotas op produkte wat van China af ingevoer word waarvoor voldoende produksievermoë in Suid-Afrika bestaan.

Dit sal die betalingsbalans versterk en werkskepping bevorder.

  • Dr. Roelof Botha is die ekonomiese raadgewer van die Optimum-beleggingsgroep en ’n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd.
Meer oor:  Roelof Botha  |  China  |  Handel  |  Begrotingstekort  |  Ekonomie  |  Handelsbalans  |  Handelstekort
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.