Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Min munisipaliteite finansieel volhoubaar, wys indeks

Die 100 kleiner munisipaliteite in Suid-Afrika het ’n bedryfsverlies van R15,6 miljard in 2019 gely.

Mosselbaai in die Wes-Kaap. Dié dorp se munisipaliteit is die finansieel volhoubaarste kleiner munisipaliteit in Suid-Afrika. Foto: Argief

Net 19 uit die 100 het ’n bedryfswins getoon, met ’n gekombineerde bedryfswins van R651 miljoen.

In 2018 het 23 van hierdie munisipaliteite ’n gekombineerde bedryfswins van R1,4 miljard behaal.

Die bedrae sluit die sewe groot metro’s uit.

Ratings Afrika het Vrydag sy indeks oor die finansiële volhoubaarheid van munisipaliteite uitgereik. (Sien ook die grafika hierby.)

Die indeks ontleed die sewe groot metro’s en die 100 kleiner munisipaliteite in die land. Vir die jongste indeks is hul finansiële state vir die jaar tot einde Junie 2019 gebruik.

Vanjaar het Ratings Afrika wel die state vir Mangaung ontvang en kon hy dié metro by sy berekeninge insluit. Hy het dit nie verlede jaar ontvang nie.

Ratings Afrika bereken ’n punt uit 100 om aan te dui wat ’n munisipaliteit se finansiële volhoubaarheid is.

’n Punt van 50 of hoër wys dat munisipaliteite waarskynlik hul finansies behoorlik en tot voordeel van inwoners bestuur.

“As dit onder 50 is, sal jy dit waarskynlik heel duidelik aan die toestand van die infrastruktuur in dorpe en stede kan sien,” sê Leon Claassen van Ratings Afrika.

Metro’s

Die situasie in die groot metro’s het van 2018 tot 2019 agteruitgeboer.

Die gemiddelde punt vir 2019 is 48 teenoor 50 die vorige jaar.

Johannesburg, wat die metro was wat die grootste agteruitgang tussen 2016 en 2017 getoon het, is net soos in 2018 een van die metro’s wat in 2019 ’n verbetering getoon het.

Hy het nou ’n punt van 47 teenoor die 35 van 2018.

Kaapstad, met 74 indekspunte, het net soos vorige jare die beste presteer. Sy punt in 2019 is dieselfde as in 2018.

Ekurhuleni het die grootste agteruitgang getoon.

Hy het van 53 in 2018 tot 46 in 2019 verswak.

Kaapstad en Johannesburg was die enigste twee metro’s wat ’n bedryfsurplus in 2019 gehad het.

Veral Johannesburg het goed gevaar deur sy bedryfstekort van R672 miljoen in 2018 na ’n bedryfsurplus van R3,3 miljard in 2019 om te swaai.

Kaapstad se bedryfswins het R4,3 miljard beloop.

Metro’s waaroor Ratings Afrika bekommerd is, is Ekurhuleni, met ’n bedryfstekort van R2,8 miljard, en Tshwane met ’n bedryfstekort van R1,6 miljard.

Kleiner munisipaliteite

Die gemiddelde punt van die kleiner munisipaliteite was 37 teenoor 38 in 2018.

“Die munisipaliteite is in finansiële nood. Die meeste van hulle is bloot nie finansieel volhoubaar nie,” sê Claassen.

Die munisipaliteit wat die beste gevaar het, was Mosselbaai (76) gevolg deur Saldanhabaai (74) en Swartland (73). Al drie dié munisipaliteite is in die Wes-Kaap.

Die drie munisipaliteite wat die swakste gevaar het, is Amahlathi (Stutterheim) in die Oos-Kaap, Victor Khanye (Delmas) in Mpumalanga en Madibeng (Brits) in Noordwes. Hulle het almal ’n telling van net 11 gehad.

Provinsies

Die provinsie wat die beste gevaar het, is net soos in 2017 en 2018 die Wes-Kaap, met ’n gemiddeld van 59 punte teenoor 58 punte die vorige jaar.

Claassen sê dié provinsie is die enigste wat ’n punt van meer as 50 gekry het en wat die laaste vyf jaar telkens verbeter het.

Die Vrystaat, met 21 punte, het weer die swakste gevaar. Dit is dieselfde punt as ’n jaar tevore.

Met die Wes-Kaap buite berekening, is die res van die provinsies se gemiddelde net 31 uit 100 teenoor 32 ’n jaar gelede.

Altesaam 64 van die 100 munisipaliteite het ’n punt van 40 of minder.

Volgens Ratings Afrika beteken dit dat hulle baie onvolhoubaar is en moontlik nie dienste na behore lewer nie.

“Dit is duidelik dat die rade van hierdie munisipaliteite misluk het ten opsigte van hul bestuursverantwoordelikhede deur hulle toe te laat om in hierdie desperate, onvolhoubare finansiële situasie te sink,” sê Claassen.

Meer oor:  Indeks  |  Staatskas  |  Munisipaliteite  |  Oudit  |  Finansies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.