Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Minder as 2% van ondernemings kry van staat se lenings

Ten spyte van groot verwagtinge oor die staat se gewaarborgde leningskema het nog net 1,3% van die verwagte 700 000 ondernemings al daarin geslaag om ’n lening hierdeur te kry.

Pres. Cyril Ramaphosa was van mening dat die staat se gewaarborgde leningskema die grondslag sou wees vir die regering se ondersteuning aan ondernemings tydens die staat van inperking. Foto: Getty Images

Baie min doen selfs aansoek hiervoor.

Die R100 miljard-leningskema was veronderstel om die grootste hulp aan ondernemings te wees vanuit die totale R500 miljard-stimuluspakket wat die regering in April aangekondig het om die ekonomie te help tydens die staat van inperking.

Die regering het selfs aangedui dat hy bereid is om die skema tot R200 miljard te vergroot, indien nodig.

Maar verskeie rolspelers het al gekla die streng vereistes van die leningskema maak dit onaantreklik vir selfs ondernemings wat deur sluiting in die gesig gestaar word.

Die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) het Dinsdag gesê hy hoop meer ondernemings sal die skema voortaan benut aangesien die vereistes onlangs verslap is.

Maar slegs 6,6% van die moontlike R200 miljard is al uitbetaal en daar is geen aanduiding dat die koers van aansoeke toeneem nie.

Nog net 9 125 ondernemings se lening ingevolge die skema het al geslaag.

Basa sê tot 1 Augustus het 39 677 ondernemings al aansoek gedoen vir die lenings.

Nog net 23% is goedgekeur en 36% wag nog vir ’n antwoord.

Banke het die finale sê oor of hulle die lenings wil toestaan aangesien hulle die eerste buffer is teen die verwagte verliese van die skema. Die tesourie dek nie outomaties alle slegte skuld nie.

Uit die 39 677 aansoeke is 28% al deur die banke afgekeur en net 10% op grond van die tesourie se vereistes.

Die geld kon tot dusver net gebruik word vir bedryfsdoeleindes, soos salarisse of huurgeld, maar nie om beleggings te doen, skuld af te betaal, dividende te betaal, skuld aan aandeelhouers af te betaal of bonusse uit te betaal nie.

Volgens Basa is talle ondernemings egter juis op soek na geld vir dié doeleindes.

Die tesourie verduidelik die skema is nie bedoel om winsgewend te wees nie. Alle lenings wat met rente terugbetaal word, sal dien as die eerste buffer vir die verwagte verliese wat die skema kan ly. Banke dra dan self die risiko van swak lenings tot 6% van die waarde van die lenings wat die betrokke bank toegeken het.

Laastens sal die tesourie pa staan vir enige slegte lenings bo en behalwe die vorige buffers.

Van die verslappings van die vereistes sluit in dat enige onderneming nou kan aansoek doen, nie net ondernemings met ’n omset van minder as R300 miljoen per jaar nie.

Ondernemings sal ook die geld mag gebruik vir enige verwante koste gekoppel aan heropening ná die staat van inperking.

Maar die grootste kopseer vir ondernemings is dat hulle:

  • ’n Goeie reputasie by die bank moet hê ten opsigte van bestaande skuld; en
  • Dat hulle op meriete beoordeel sal word gegrond op hul prestasie net voor die staat van inperking.

Dié vereistes is nou ietwat verslap.

Die waardasie is aanvanklik van 29 Februarie af gedoen, maar word nou van 31 Desember gedoen aangesien daar reeds van die begin van die jaar af, voordat die staat van inperking ingetree het, moeilike sake-omstandighede geheers het.

Banke het ook beloof om minder streng te wees met hul krediet-evaluerings.

Maar sedert die verslapping in Julie aangekondig is, het uitbetalings ingevolge die skema met net ’n skamele 3,6% toegeneem.

Wat pres. Cyril Ramaphosa as die grondslag van hulp in dié moeilike tye beskryf het, is nog net R13,26 miljard uitbetaal, en nog verslappings sal nodig wees indien die fonds enigsins ’n verskil wil maak.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Covid-19  |  Lenings  |  Staat Van Inperking  |  Banke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.