Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Minder poste oor beurtkrag’

Volgehoue beurtkrag kan beteken dat Suid-Afrika vanjaar sowat 200 000 poste minder sal skep as die geskatte 650 000 nuwe poste wat die ekonomie daarsonder sou kon byvoeg, sê PwC in sy jongste ekonomiese vooruitsig vir 2021.

Mense wag in Maart buite die Alberton-arbeidsentrum. Die inperkings het tot baie werksverliese gelei. Foto: Fani Mahuntsi

Op 32,6% (die eng definisie wat ontmoedigde werksoekers uitsluit) is Suid-Afrika se werkloosheidskoers nou die hoogste in die geskiedenis, het Mike Schüssler, ekonoom en ’n raadgewer by Brenthurst Wealth, Donderdag op ’n gespreksgeleentheid van die Vryemarkstigting uitgewys.

Die koers is reeds die afgelope 25 jaar gemiddeld 26%, wat selfs hoër is as Amerika se 25% tydens die Groot Depressie.

Schüssler sê hoe hoër die werkloosheidskoers, hoe groter die ongelykheid in die land omdat so baie mense nie ’n inkomste het nie.

Volgens PwC se basislyn-aanname kan Suid-Afrika vanjaar sowat 445 000 poste herwin, maar dit kan veel meer wees as ons beurtkrag kan uitskakel.

Luidens die verslag het Suid-Afrika in Maart vanjaar net 91% van die getal poste van einde 2019 gehad.

Dumo Mbethe, uitvoerende hoof van Momentum Korporatief, het Donderdag op ’n webinaar gesê volgens navorsing onder sowat 700 respondente het 50% van klein, 64% van middelslag- en 40% van groot ondernemings aangedui hulle moes personeel afdank omdat die pandemie hulle finansieel benadeel het.

Die personeelgetalle van Momentum Korporatief se kliënte is met 7,5% verminder en daar was ’n 220%-toename in afleggings in die tweede helfte van die jaar, het Mbethe gesê.

Lullu Krugel, vennoot en hoofekonoom van PwC, sê om teen 2024 ’n werkloosheidskoers laer as 30% te haal (soos voor die Covid-19-pandemie), is groei van 3,5% per jaar tussen 2021 en 2024 nodig.

PwC se basislyn-aanname vir dié tydperk is egter 2,4% per jaar en vir vanjaar 3,7%.

Die land kan maklik 500 000 tot ’n miljoen poste in die mynbou-, vervoer- en vervaardigingsbedryf skep as ons die beste maak van die kommoditeitslopie.
Mike Schüssler

Krugel en haar span sê die 3,7% is gegrond op aangepaste vlak 3-inperkings in Julie, die verslapping van inperkings in Augustus en September, en waarskynlik vlak 1-inperkings tot einde vanjaar, asook gereelde beurtkrag.

Onder die positiewe scenario met minder dae van beurtkrag, minder streng inperkings danksy vordering met Covid-19-inentings en die opheffing van alle inperkings teen September, lok rooskleurige groei van 5,9% vir vanjaar.

PwC se slegter scenario aanvaar daar sal ’n erge derde vlaag Covid-19-infeksies en een of ander vorm van inperking tot 2022 wees. Dit beteken powere groei van 1,3% vir die jaar.

Volgens PwC is daar groen lote in die ekonomie wat nie aan basiseffekte toegeskryf kan word nie. (Die goeie vertoning is dus nie net vanaf ’n baie lae basis verlede jaar tydens streng inperkings nie.)

Só sê die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) uitvoer het in die eerste kwartaal van 2021 met 25% gestyg op ’n jaargrondslag. Dis grootliks ondersteun deur mineraalverkope waarvan die waarde volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) 32,4% hoër is as ’n jaar gelede.

SSA se April-syfers wat Donderdag gepubliseer is, wys seisoensaangepaste mynbouproduksie was in die drie maande tot einde April 6,5% hoër as in die vorige drie maande.

Van die grootste positiewe bydraes was die platinumgroepmetale (+24,9%), goud (+7,1%) en mangaanertse (+6,9%).

In die drie maande tot einde April 2021 was die waarde van mineraalverkope (seisoensaangepas teen huidige pryse) sowat 19% hoër as die vorige drie maande.

Nedbank se ekonomiese eenheid sê ’n herstel in nywerheidsaktiwiteit in die res van die wêreld en hoër kommoditeitspryse behoort die sektor te ondersteun. Plaaslike faktore soos beurtkrag en beleidsonsekerheid kan egter ’n remskoen wees.

Schüssler sê die land het ’n kans om voordeel te trek uit die huidige kommoditeitslopie. Ons kan in die volgende drie of vier jaar baie baat vind sou rentekoerse wêreldwyd laag bly, kommoditeitspryse hoog bly en ons ons spoorlyne herstel en opknap om mynbouprodukte vinnig by hawens te kry vir uitvoer.

“Die land kan maklik 500 000 tot ’n miljoen poste in die mynbou-, vervoer- en vervaardigingsbedryf skep as ons die beste maak van die kommoditeitslopie.”

Thanda Sithole, ’n ekonoom van FNB, sê in ’n verklaring die vooruitsig vir herstel in die vervaardigingsektor is positief omdat die inperkings nou minder streng is as in 2020 en danksy hoër vraag na produkte.

Seisoensaangepaste vervaardiging was in die drie maande tot einde April 0,9% hoër as die vorige drie maande. Volgens SSA het vier uit die tien vervaardigingsektore in dié tydperk gegroei.

PwC sê ongelukkig is daar nog bedrywe wat baie sukkel. SSA-data wys inkomste vir restaurante, koffiewinkels en spyseniers was in die eerste kwartaal van vanjaar 20% laer op ’n jaargrondslag, terwyl inkomste uit toeristeverblyf meer as 60% laer is.

Meer oor:  Mike Schüssler  |  Kommoditeite  |  Armoede  |  Indiensneming  |  Werkskepping  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Beurtkrag  |  Werkloosheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.