Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Minibus-taxi’s bly ‘probleem’ vir openbare vervoer

Finansiering vir minibustaxi-operateurs is gewoonlik hoërisiko-finansiering en ongestruktureerd, maar daar is ruimte vir die regering om daarby betrokke te raak en die gehalte van voertuie te verbeter.

Die polisie hou toesig by ’n taxistaanplek in Chatsworth, Durban. Die Mededingingskommissie se markondersoek na openbare vervoer lig die probleme uit om die minibustaxibedryf met openbare vervoer te integreer. Foto: Jabulani Langa

Minibustaxi’s het oor die jare heen gevestigde roetes ontwikkel, maar dis nie noodwendig altyd die beste benutting van bates op grond van die vraag van pendelaars nie.

Die gebrek aan vertroue tussen verskillende taxiverenigings en tussen die minibustaxibedryf en owerhede is ’n probleem.

Dit is van die uitdagings om die minibustaxibedryf te integreer met ’n nuwe, geïntegreerde netwerk van openbare vervoer in stede, sê Ricardo Collins, direkteur vir landvervoerkontrakte in die Wes-Kaapse regering.

Hy het dié probleme uitgestippel as deel van sy aanbieding Woensdag voor die Mededingingskommissie se markondersoek na openbare vervoer.

Terwyl die minibustaxibedryf oor ’n lang tydperk sekere vervoerroetes ontwikkel het, meen Collins dit is soms nodig om af te wyk van die gevestigde netwerke om die stelsel doeltreffender en lewensvatbaarder te maak.

Collins sê die provinsie probeer geïntegreerde openbarevervoernetwerke in groot munisipaliteite instel. In George het dit in sommige gevalle beteken dat minibustaxi’s se netwerke vervang word.

Kyle Reyneke, adjunkdirekteur-generaal vir vervoerbestuur in die provinsie, sê volhoubare en optimale netwerke beteken nie minibustaxi’s word noodwendig heeltemal vervang nie.

Volgens Collins is openbare vervoer ’n maatskaplike diens en moet dit veilig, betroubaar en bekostigbaar wees. Dit is dus noodsaaklik dat pryse gereguleer moet word.

Die uitdaging is ongesubsidieerde dienste soos minibustaxi’s. Hy gee toe subsidies behoort uitgebrei te word om mededinging te bevorder.

Die snelbusdienste moenie beskou word as ’n afsonderlike diens nie, maar moet geïntegreer wees met die openbarevervoerstelsel, sê Collins.

Wetgewing word tans deur die Nasionale Raad van Provinsies verwerk wat sekere funksies vir openbare vervoer van provinsiale regerings na plaaslike owerhede sal afwentel. Kleiner munisipaliteite buite Kaapstad het egter nie die vermoë om vervoerbeplanning te doen nie en die provinsiale regering help hulle daarmee, sê hy.

Go George

In George is daar ’n moratorium op die toekenning van nuwe vervoerpermitte. Volgens Deidre Ribbonaar, hoofdirekteur vir vervoerbedrywighede in die Wes-Kaapse regering, is die rede vir die moratorium dat gereageer word op die vraag en aanbod in die gebied. Dit het drie jaar geduur om die kontrakte vir die Go George-busdiens te beding.

Sy meen die wantroue tussen die minibustaxibedryf en die owerhede is gegrond in die verskillende sakemodelle van minibustaxi’s en konvensionele busdienste. In George is alle gelisensieerde taxi-operateurs die kans gegun om deel te word van die nuwe, openbarevervoerstelsel en net een van hulle wou nie deel daarvan word nie.

Reyneke meen baie van die wantroue spruit uit vrees vir verandering en vir die onbekende, en die gevoel dat ’n taxi-operateur se gevestigde markposisie bedreig word.

Meer oor:  Myciti  |  Minibustaxi  |  Mededingingskommissie  |  Taxi's  |  Busse  |  Openbare Vervoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.