Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Minimum loon gaan nog duisende hul werk kos’

Suid-Afrika se werkloosheidskoers is op nog ’n rekord – die sesde in sewe kwartale – en dít op die vooraand van ’n verhoging in die nasionale minimum loon.

Volgens Statistieke Suid-Afrika was die amptelike werkloosheidskoers 32,5% in die vierde kwartaal van 2020, teenoor 30,8% in die derde kwartaal. Soos meer mense begin werk soek het danksy die laer vlakke van inperking, het die uitgebreide werkloosheidskoers wel effens gedaal, vanaf 43,1% tot 42,6%.

LEES OOK: Byna 1,4 miljoen verloor werk in 2020

Suid-Afrika het nou net meer as 15 miljoen mense met werk – so min soos laas in 2013 gesien is.

Afleggings oor minimum loon verwag

Plaaswerkers moet vanaf 1 Maart R21,69 verdien, tensy boere amptelik aansoek doen om vrystelling van die minimum loon.

Veral die styging van 16,1% in plaaswerkers se minimum loon, wat dit gelykstel met die nasionale minimum loon van R21,69, en die styging van 22,6% in die minimum loon van huiswerkers, tot R19,09, gaan dalk tot nóg afleggings in dié kwesbare bedrywe lei. Die nuwe lone word op 1 Maart van krag.

In 2020 het nagenoeg 89 000 huiswerkers (insluitend skoonmakers, tuinwerkers en kinderoppassers) hul werk verloor, en 75 000 plaaswerkers. In 2020 het 1,394 miljoen mense hul werk verloor.

Volgens ’n Agri SA-peiling reken tot 80% van boere dat hulle weens die hoër lone werkers gaan aflê.

Impak van derde vlaag

Voeg daarby die feit dat ekonome verwag dat strenger inperkings vir die derde vlaag Covid-19-infeksies die land reeds teen Mei weer op vlak 3-inperkings sal plaas, wat die herstel van indiensneming weer sal vertraag.

“Ondanks die entstofprogram, stem mediese kenners saam dat die pas van inentings ons nie in staat sal stel om ’n derde vlaag af te weer nie. Die intensiteit van die middel-van-die-jaar-golf, en dus die strengheid van gepaardgaande inperkings, sal die aard van die ekonomiese herstel bepaal,” sê Lullu Krugel, hoofekonoom van PwC Strategy& Africa, en dr. Christie Viljoen, ekonoom van PwC Strategy&.

In syfers

Die grootste verlies aan poste in die loop van 2020 was die 256 000 poste wat in finansiële en sakedienste verlore gegaan het, gevolg deur 241 000 poste in gemeenskapsdienste (grootliks die staat) en 230 000 poste in vervaardiging.

Handel – die sektor wat ook restaurante en verblyfondernemings insluit – het 186 000 poste verloor en konstruksie 184 000. Verblyfondernemings en restaurante en kroeë is bes moontlik die ergste deur die inperkings geraak, maar winkels en motorhandelaars trek ook swaar weens die druk op verbruikers se besteding.

Altesame is 11,1 miljoen Suid-Afrikaners sonder werk. Dit sluit in 7,2 miljoen mense wat werk soek, 2,9 miljoen ontmoedigde werksoekers en nog byna miljoen ander mense wat op die randjie van die arbeidsmark staan vir geen goeie rede nie – hulle studeer nie, is nie tuisteskeppers nie en is nie siek of amptelik afgetree nie.

Arbeidshervorming

Volgens die DA-LP dr. Michael Cardo onderstreep die syfers die behoefte aan dringende veranderinge aan wetgewing om die arbeidsmark buigsamer te maak.

Hy is veral bekommerd oor die 63,2% van jong mense (15 tot 24 jaar) wat nie op skool is, studeer of werk nie. Ook werkloosheid onder mense van 25 tot 34 jaar is hemelhoog op 41,2% (dis die amptelike syfer, nie die uitgebreide syfer nie).

“Hoewel pres. Cyril Ramaphosa in sy staatsrede lippediens gedoen het aan die private sektor as die primêre werkskepper, hou hy en sy administrasie kortsigtig aan fokus op die openbare sektor om indiensneming te stimuleer.”

Cardo verwys na die skep van 430 000 poste in die regering se program vir uitgebreide openbare werke, maar sê dis korttermynposte (en ook teen baie minder as die nasionale minimum loon) “wat baie min sal doen om die werkloosheidskrisis in die land op te los”.

“Net die private sektor kan werk skep teen skaal en die oorheersend ongeskoolde werknemers in die ekonomie absorbeer. Dit beteken dat ondernemings van die wurggreep van staatsregulering bevry moet word.”

Hy kap die uitbreiding van kollektiewe bedinging na partye wat nie deel was van ooreenkomste nie, soos onlangs in die restaurantbedryf gebeur het – iets wat die Restaurantvereniging van Suid-Afrika in die hof betwis.

Die DA verwag dat ’n “bloedbad van poste” ook vir 2021 voorlê.

Landbou

Wandile Sihlobo, ekonoom van die landbousakekamer Agbiz, sê die slagting van poste in die landbou is grootliks weens die verbod op drankverkope. Van die nagenoeg 75 000 plaaswerkers wat hul werk verloor het, was 51 000 in die Wes-Kaap, die hartland van die wynbedryf.

LEES OOK: Só styg, daal werkloosheid in elke provinsie

Hy sê baie boere het ook baie minder seisoenwerkers aangestel soos gewoonlik om te help met someroeste van groente en vrugte, in ’n poging om sosiale distansiëring te handhaaf.

Pad vorentoe

Volgens Nedbank se ekonomiese eenheid kan die verspreiding van entstowwe, sowel plaaslik as wêreldwyd, help om sakevertroue te laat styg. Dit kan maatskappye dalk aanmoedig om hul produksievermoë te verhoog en werknemers aan te stel. “Die meeste van die strukturele tekortkomings, soos kragtekorte, beleidsonsekerheid, en vaardigheidstekorte, bly egter onopgelos, wat die pas van herstel in indiensneming beperk.

“Voeg daarby die aantal ontmoedigde werksoekers wat weer tot die arbeidsmark toetree, en die werkloosheidskoers sal na verwagting op mediumtermyn struktureel hoog bly.”

Krugel en Viljoen verwag dat dit drie tot vier jaar sal duur voordat Suid-Afrika net soveel mense met werk het as voor die aanvang van die Covid-19-pandemie. Omdat al hoe meer jong mense natuurlik elke jaar die arbeidsmark betree, sal dit tot tien jaar duur voordat die werkloosheidskoers self begin daal, selfs al groei indiensneming.

qlfs2004
 qlfs2004
 qlfs2004
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.