Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Minimum loon nou wet: Wat jy moet weet

Die nasionale minimum loon, wat met net enkele uitsonderings op alle werknemers in Suid-Afrika van toepassing gaan wees, geld van 1 Januarie 2019 af.

Plaaswerkers moet van Januarie af minstens R18 per uur verdien.

Pres. Cyril Ramaphosa het Vrydag die Wet op die Minimum Loon onderteken nadat die wet jare lank gesloer het. Hoewel ’n amptelike verklaring nog nie deur die presidensie uitgereik is nie, het ’n woordvoerder van Cosatu gesê hy verneem dit is so en die ACDP het ’n verklaring uitgestuur waarin die party dit verwelkom.

Die vakbond Sactwu en ’n bron binne die departement van arbeid het ook vroegoggend gesê hulle verwag die aankondiging Vrydag.

Die minimum loon gaan R20 per uur of R3 500 per maand beloop vir iemand wat vyf dae per week agt uur per dag werk.

Uitsonderings gaan vir die volgende paar jaar van toepassing wees op huiswerkers, plaaswerkers, mense wat die regering se openbarewereprogram werk en interns.

  • Plaaswerkers (sluit ook die bosbou in): R18 per uur (90% van die minimum loon).
  • Huiswerkers (huishulpe, tuiniers en kinderoppassers in private huishoudings): R15 per uur (75% van die minimum loon).
  • Werknemers van die uitgebreide openbarewerkeprogram: R11 per uur.
  • Vakleerlinge en interns: Dit gaan afsonderlik gereguleer word. Verdere inligting is nog bekend nie.

Ondernemings sal ook aansoek kan doen om vrystelling van die minimum loon indien hulle dit nie kan bekostig nie.

Die loon van huis- en plaaswerkers gaan oor twee jaar tot by die nasionale minimum loon gebring word.

Ramaphosa se kantoor het reeds twee weke gelede laat weet hy kyk dringend na die ondertekening van die wysigings aan die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, die Wet op Arbeidsverhoudinge en die nuwe Wet op die Nasionale Minimum Loon. Die ander wette is glo ook Vrydag onderteken.

Die oorspronklike teiken was dat Ramaphosa die wette al in Mei vanjaar sou onderteken, met die inwerkingstelling van die loon teen Augustus, maar die proses is vertraag deur onder meer die oorvloed kommentaar wat in die openbare sittings oor die wetgewing verwerk moes word.

Die arbeidsregfirma BCHC het die wet verwelkom. Dié firma is deur Nedlac, die bedingingsliggaam tussen die regering, sake- en arbeidsektor, aangestel om die wet op te stel, asook die wysigings aan die Wet op Arbeidsverhoudinge, wat ook Vrydag onderteken is.

“Suid-Afrika is een van die mees ongelyke samelewings ter wêreld, met ongelykheid wat ’n dimensie van ras en geslag aanneem – die grootste inkomstegaping is tussen wit mans en swart vroue, ondanks wetgewing oor regstellende aksie,” sê Bradley Conradie, ’n vennoot van BCHC.

“Suid-Afrika se arbeidswette probeer nog die maatskaplik-ekonomiese probleme wat die land moet trotseer, oplos. Die feit dat die staat moes ingryp om ’n minimum loon van R20 per uur in te stel, wys op die uitdagings wat ons het.”

Conradie sê die meeste werkgewers hoef nie oor die minimum loon bekommerd te wees nie aangesien hulle reeds meer as dit betaal.

Die vakverbond Cosatu het die nuus van die wette verwelkom.

Cosatu en werkers veg al vir dekades daarvoor, sê Matthew Parks, parlementêre koördineerder van Cosatu, in ’n verklaring. Dit sal die lone van sowat die helfte van die bestaande arbeidsmag verhoog, volgens Parks.

Dit sal ’n kontantinspuiting in werkers se sak wees en ’n stimulus vir die ekonomie beteken, sê Parks.

Volgens Parks sal Cosatu veg vir ’n verhoging van meer as inflasie in 2019.

Die klerewerkersvakbond Sactwu het ook die nuus oor die ondertekening van die wette verwelkom. “Dis ’n oorwinning vir baie kwesbare werkers. Dit sal die lone van tussen 4 miljoen en 6 miljoen Suid-Afrikaners verhoog,” sê André Kriel, hoofsekretaris van Sactwu.

Meer oor:  André Kriel  |  Cyril Ramapahosa  |  Matthew Parks  |  Sactwu  |  Plaaswerkers  |  Minimum Loon  |  Huiswerkers  |  Cosatu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.