Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Minimum loon plaas enorme druk op kommissie

Sake rakende werkers wat nie die nasionale minimum loon betaal word nie óf waar daar nie aan die Wet op Basiese Diensvoorwaardes voldoen word nie, plaas baie groot druk op die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA).

'n Optog van Saftu in 2018 toe hy 'n landwye staking teen die nasionale minimum loon van R20 per uur geloots het. Foto: Adrian de Kock

Kwessies oor die minimum loon – wat in Januarie in werking getree het – het reeds 2% uitgemaak van die 193 732 sake wat in die jaar tot einde Maart by die KVBA aangemeld is.

Cameron Morajane, direkteur van die KVBA, het Maandag die verwagte invloed van veral klagte rakende die minimum loon by die kommissie bespreek tydens die bekendstelling van die KVBA se jaarverslag by sy hoofkantoor in Johannesburg.

“Toe die minimum loon ingestel is, is verwag dat sowat ses miljoen Suid-Afrikaners daarvoor sal kwalifiseer. Ons verwag egter dat dié getal veel hoër gaan wees gegewe die groot aantal werksverliese wat ons die afgelope maande in Suid-Afrika gesien het,” voorspel hy.

Met die instelling van die minimum loon is die KVBA die jurisdiksie gegee om klagte te behartig wanneer werkers nie dié bedrag betaal word nie.

“Werkgewers moet volgens wet aansoek doen om vrygestel te word daarvan om die minimum loon te betaal as hulle dit nie kan bekostig nie. Indien hulle dit nie doen nie, moet hulle betaal en stel hulle hulself bloot aan klagte,” waarsku hy.

Morajane sê met dié dat hulle verwag dat in die toekoms tot 25% van die klagte wat by die KVBA ingedien word op die minimum loon betrekking gaan hê, dit die kommissie moontlik gaan verhoed om aan spertye te voldoen soos wat die wet van hom vereis.

“Ons sal kommissarisse moet aanstel om al die sake te behartig. Weens die vereiste prosedures en koste daaraan verbonde, neem dit egter maande om net een kommissaris aan te stel.

“Sonder meer mense gaan ons sukkel om binne 30 dae vandat ’n klag ingedien is, daarop te reageer en om binne 14 dae nadat ’n saak aangehoor is, uitspraak daarop te lewer,” waarsku hy.

Dit geld nie net vir klagte oor die minimum loon nie, maar alle klagte wat by die KVBA ingedien word.

Die KVBA behartig deesdae ook klagte wat met oortredings van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes verband hou, iets waaroor hy nie voorheen jurisdiksie gehad het nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.