Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Minimum loon sal werkloosheid vererger’
Lumka Yengeni

Die voorgestelde minimum loon van R3 500 per maand sal werkers se omstandighede nie verbeter nie en sal toegang tot die arbeidsmag verder bemoeilik vir werkloses, sê die Instituut vir Rasseverhoudinge, terwyl die DA om ’n onafhanklike paneel vra om sektorale minimum lone vas te stel.

Dit is van die uiteenlopende reaksies op adj.pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging eergister.

In die parlement het Lumka Yengeni, voorsitter van die portefeuljekomitee oor arbeid, gesê die voorgestelde nasionale minimum loon van R20 per uur sal die kwesbaarste werkers teen uitbuiting beskerm.

Yengeni sê die portefeuljekomitee waardeer die geleentheid wat Ramaphosa belanghebbendes gebied het om die voorstel verder te bespreek.

“Die parlement sal die voorgestelde minimum loon ook bespreek. Die paneel (wat dit ondersoek het) het self wyd gekonsulteer en het ook die ekonomie in ag geneem,” sê Yengeni.

Maar Gabriela Mackay, navorsingsontleder van die Instituut vir Rasseverhoudinge, sê die nuwe minimum loon sal dit net veel moeiliker maak vir huidige werkloses om ooit werk te kry en dis ’n nuwe hindernis in die totstandkoming van klein ondernemings. Dit kan deur gevestigde maatskappye misbruik word as meganisme om die opkoms van klein mededingers te ondermyn.

Mackay meen die voorgestelde minimum is so laag dat dit die sakesektor, die ANC en die regering net verder sal blootstel aan beskuldigings dat hulle armes uitbuit.

Annika van Heerden van die Nasionale Werkgewersvereniging van Suid-Afrika ­(Neasa) het benadruk dat die minimum loon nog net ’n aanbeveling is en dat die fynere besonderhede nog in die ­Nasionale Ekonomiese Ontwikkelings- en Arbeidsraad (Nedlac) uitgetrap word.

’n Proses van wye openbare oorlegpleging sal gevolg word voordat Nedlac ’n finale besluit neem.

Neil Hamman, voorsitter van die landbou-organisasie Agri SA se arbeidsbeleidskomitee, sê Agri SA verwelkom die voorgestelde geheime stemming voordat vakbonde mag begin staak. Dit is een van die voorstelle wat eergister saam met dié oor die minimum loon ter tafel gelê is. Volgens Hamman sal Agri SA wyd met boere oorlegpleeg oor die minimum loon, want ’n gelukkige en tevrede arbeidsmag is noodsaaklik vir optimale produksie in die landbou, benewens dat arbeidskoste ’n groot kostedrywer is.

“As die delikate balans tussen lone en die volhoubaarheid van boerdery-ondernemings in die gedrang kom, sal dit onbedoelde gevolge, soos werkverliese en meganisering, beteken.”

Geen petroljoggie, kassier, veiligheidswag ensovoorts behoort minder as R5 000 te verdien nie
Elias Muller van Forum 4 Service Delivery.

Agri SA vra dieptenavorsing en oorlegpleging met veral boere in droogtegeteisterde gebiede, opkomende boere en dié wat teen strawwe internasionale mededinging te staan kom.

Hamman sê hulle verwelkom die toegewing dat sukkelende boere steeds toegang sal hê tot die voorsiening in die Wet op Basiese Diensvoorwaardes om van ministeriële vasstellings kwytgeskeld te word.

Forum 4 Service Delivery sê in ’n sterk bewoorde verklaring R3 500 per maand kan nie ongelykheid en die loonkloof oorbrug of armoede verlig nie.

“Geen petroljoggie, kassier, veiligheidswag, ensovoorts, behoort minder as R5 000 te verdien nie – dit is wat die vertrekpunt by Nedlac moes gewees het: R5 000! Enigiets minder as dit is net ’n middelvinger aan die nasie,” sê Elias Muller van Forum 4 Service Delivery.

Ian Ollis

Ian Ollis, DA-woordvoerder oor arbeid, sê die DA steun minimum lone vir verskillende sektore om werkerregte te beskerm, maar ’n enkele oplossing, soos die voorstel oor ’n nasionale minimum loon, sal nog werkverliese veroorsaak.

Hy meen ’n onafhanklike paneel moet aangestel word om minimum lone vir elke sektor vas te stel en alle relevante faktore in ag te neem. Hy meen in sommige sektore sal daar dan selfs ’n hoër minimum loon vasgestel kan word as R3 500.

Myburgh sê dit is hoog tyd dat Suid-Afrika geheime stemmings oor stakings instel. “Dis ’n eenvoudige, demokratiese maatreël wat wyd en suksesvol in vrye lande gebruik word.” Dit sal oorheersing deur faksies in vakbonde vermy en behoort ook intimidasie en geweld te help verminder.

Die voorgestelde minimum loon is gister deur die voedsel- en verwante werkersvakbond Fawu verwerp wat sê dat hy alles in sy vermoë sal doen om te verseker dat ’n minimum loon van R5 700 aanvaar word.

Katishi Masemola, Fawu se hoofsekretaris, sê die vakbond verstaan nie waarom plaaswerkers en huiswerkers uitgesluit word nie, veral omdat dié sektore sowat 47% uitmaak van ­alle werkers wat minder as R3 500 verdien.

Masemola sê Fawu verwelkom wel dat Suid-Afrika uiteindelik besef het dat die na­sionale minimum loon deel moet wees van sy beleid, aangesien dit die afgelope 22 jaar ontbreek het.

Masemola sê Fawu sal ook ’n veldtog dryf om rykes swaarder te belas, om persoonlike en korporatiewe belasting te verhoog tot op “apartheidstyd-vlakke” en te verseker dat alle kontantreserwes met 10% belas word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.