Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Moederstad lok steeds nuwe beleggings
Ten spyte van die taai ekonomie, lok Kaapstad steeds beleggings.Foto: Istock

Die res van die land se ekonomie is onder groot druk, maar Kaapstad lok steeds nuwe beleggings, volgens die jongste verslag van die Kaapstad Sentrale Stadsverbeteringsdistrik (CCID).

Die ekonomiese navorser Sandra Gordon het Dinsdag met die bekendstelling van die verslag gesê ses nuwe ontwikkelings van meer as R968 miljoen is reeds tot dusver vanjaar aangeteken, nadat die waarde van eiendom in die middestad van die 2016-’17- tot die 2018-’19-boekjaar met byna 40% tot R42,86 miljard gegroei het.

Daar is al 950 km se internetvesel in die middestad gelê wat aan 300 stadsgeboue internet verskaf en 400 WiFi-kolle geskep het.

Kaapstad het al 51 000 werkgeleenthede by inbelsentrums geskep, sê Gordon. Brittanje is die grootste belegger in die sakedienstesektor in die Kaapse middestad, en sy meen as Brexit gebeur, kan daar moontlik nog Britse beleggings in die sektor kom.

Hoewel meer kantoorruimte in die afgelope jaar in die stad leeg staan, het Kaapstad steeds die laagste leegstaansyfer vir kantoorruimte onder die vyf grootste stede in Suid-Afrika, wys die verslag.

Meer as 80% van die mense wat in die middestad woon eet minstens een keer per week uit en besoek ’n koffiewinkel, wat volgens Gordon wys dat die inwoners in die middestad help om die kleinhandelsektor aan die gang te hou.

Kaapse middestad in syfers:
  • Waarde van eiendom: R42,86 miljard
  • Eiendom wat in 2018 ontwikkel is: R2,798 miljard
  • Eiendom in aanbou: R1,747 miljard
  • Eiendom in beplanning: R4,296 miljard
  • Totale kantoorruimte: 1 miljoen vierkante meter waarvan 11,8% leegstaan
  • Totale winkelruimte: 266 478 m², waarvan 7% leegstaan
  • Getal woonstelblokke in die middestad: 61
  • Getal woonstelle wat in 2018 verkoop is: 361
  • Gemiddelde prys/m² vir verkope in 2018: R35 431
  • Gemiddelde prys per woonstel wat in 2018 verkoop is: R2,1 miljoen
  • Gemiddelde grootte van woonstelle wat in 2018 verkoop is: 77,6 m²

Groeipotensiaal vir die stad lê volgens Gordon in halaal-toerisme, met Moslem-toeriste wat internasionaal met 30% groei. In 2017 was daar meer as 81 000 toeriste uit die Midde-Ooste in Kaapstad.

Die passasierskip-bedryf wys ook potensiaal, met een werkgeleentheid wat in Kaapstad geskep word vir elke 12 passasiers van plesierskepe wat in die stad aandoen.

Rob Kane, voorsitter van die CCID-direksie, verwag die totale waarde van eiendom in die middestad sal waarskynlik nog verander as die beoordeling van besware teen die Kaapstad-metro se onlangse waardasierol afgehandel is.

Gordon sê Kaapstad is nie heeltemal verskans teen die nasionale ekonomiese insinking nie. Dit wys in die daling in verkooppryse in sekere eiendomskategorieë vergeleke met ’n jaar gelede.

Ander nuwe tendense in residensiële eiendom in Kaapstad is studentebehuising asook mikro-wooneenhede, waar meubels weggepak of opgevou word as die persoon soggens gaan werk, en waar mense toenemend die goed wat hulle gebruik (selfs klere) eerder huur as besit.

Sakeondernemings in die middestad:
  • Hotel- en reisondernemings: 161
  • Argiteks- en ingenieursfirmas: 110
  • Media-, kommunikasie- en advertensiefirmas: 101
  • Konferensiegeriewe: 61
  • Deelkantore: 17
  • Maatskappyhoofkantore: 68
  • Finansiële dienste: 201
  • Inligtingstegnologie- en telekommunikasiemaatskappye: 117
  • Nieregeringsorganisasies: 96
  • Regsfirmas en advokaatkantore: 639
  • Mediese sentra: 197
  • Vrag-, verskeping- en in- en uitvoermaatskappye: 59

Meer oor:  Kaapstad  |  Moederstad  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Belegging  |  Beleggers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.