Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Moeilike reisregulasies krap selfs Britte om

Dis nie net die Suid-Afrikaanse toerismebedryf wat wens die Britse regering hersien sy gebruik van “verkeersligkleure” om reisigers se kom en gaan uit die land te beheer nie.

Pres. Cyril Ramaphosa en Boris Johnson, Britse premier, by die G 7-beraad vroeër vanjaar in Cornwall, Engeland. Foto: Getty Images

In die Britse media klink skerp kritiek ook nou op teen die wyse waarop die Britse regering sy burgers en inwoners se reise beperk.

Die joernalis Allison Pearson, rubriekskrywer en onderhoudvoerder van The Telegraph, skryf vandeesweek Brittanje se stelsel is ’n totale ramp. “Wat my regtig pla, is dat internasionale reis ’n skokkende nuwe vorm van apartheid aanneem. As jy ryk genoeg is, baie (Covid-)toetse kan bekostig en met private vliegtuie vlieg, kan jy gaan waarheen jy wil. As jy ’n ‘niemand’ is, gaan jy nêrens.”

Sy sê Britte wat nie ryk is nie, kan omtrent nêrens heen reis nie weens Brittanje se regulasies en reisbeperkings.

Sy verwys ook na Brittanje se “verkeersligbeleid” as iets uit Monty Python se Flying Circus, maar net sonder al die gelag.

Die Britse regering gebruik ’n stelsel van kleure as deel van sy Covid-19-regulasies sodat sy burgers die risiko’s verstaan om na lande te reis.

Die verskillende kleure – groen, oranje en rooi – dui ook aan watter reisbeperkings geld vir elke lys.

Brittanje raai mense af om na lande op die rooilys, soos Suid-Afrika, te reis.

Die Britse buitelandse, gemenebes- en ontwikkelingskantoor sê gegewe die Covid-19-risiko in Suid-Afrika, word reise hierheen afgeraai, behalwe in gevalle waar dit regtig noodsaaklik is.

LEES OOK: Brittanje hou SA op rooilys

Net Britse en Ierse burgers – asook mense met verblyfreg in Brittanje – word toegelaat om na Brittanje terug te keer as hulle van ’n rooilysland kom.

Boonop sal hierdie reisigers vir tien dae onder verpligte kwarantyn moet bly in hotelle wat daarvoor ingerig is.

Hierdie reisigers dok self op vir die koste om in so ’n hotel te bly en vir verpligte Covid-toetse.

Pearson beskryf hierdie stelsel as ’n ramp en volgens haar is dit tyd dat die Britse regering vir ’n slag kyk hoe Amerika reisbeperkings hanteer.

’n Gekompliseerde stelsel

Nog ’n rubriekskrywer van The Telegraph skryf Britte smeek dat ’n eenvoudige stelsel gebruik word. 

Robert Taylor kritiseer die regering se gebruik van die gekompliseerde stelsel, wat volgens hom vir vakansiegangers en die toerismebedryf probleme skep.

Volgens hom kos dit reeds £1 750 per volwassene aan hotelverblyf vir die verpligte kwarantyn wat geld vir reisigers wat terugkeer van rooilyslande.

Hy sê die kleure is ’n spel vir wiskundiges en veroorsaak dat lande sonder kennisgewing op die Britse lyste rondgeskuif word.

Reisigers wat reeds uit die land vertrek het en wil terugkeer, moet dan skarrel om hul reëlings by die regulasies aan te pas.

Hy verwys ook na die effek van die Britse stelsel op Suid-Afrika. Taylor bevraagteken Suid-Afrika se naam op die rooilys omdat die infeksiekoers van Suid-Afrika volgens hom tans laer is as dié van Brittanje en die Europese Unie.

“Die verlies aan Britse besoekers het baie Afrikalande tot armoede gedryf en jare se beleggings in bewaring ongedaan gemaak.”

Hy sê intussen besluit baie Britte om eerder by die huis te bly en die reën aan te durf weens die streng regulasies.

Pogings om SA van rooilys te kry

Suid-Afrika se toerismebedryf probeer al geruime tyd om die Britse regering te oortuig om sy uitkyk op Suid-Afrika se risiko ten opsigte van Covid-19 te verander.

Die Suid-Afrikaanse Toerismedienstevereniging (Satsa) het die hulp van ’n Britse skakelmaatskappy, Eterna Partners, ingespan om Suid-Afrika van die rooilys af te haal.

Dié week het Brett Hendricks, voorsitter van Kaapstad Toerisme se direksie, gesê Brittanje se stappe en besluite het in werklikheid sy burgers geblok om na Suid-Afrika en ander Afrikalande te reis.

Volgens hom wys Statistieke Suid-Afrika se inligting oorsese reisigers uit Brittanje was in 2019 en 2020 verantwoordelik vir die meeste besoeke aan Suid-Afrika.

Hendricks sê Kaapstad Toerisme gooi daarom ook sy gewig agter Satsa in.

Volgens Hendricks is verskeie bedryfsinstellings hard besig om dit vir Britse politici maklik te maak om die embargo te lig wat Suid-Afrika op die rooilys vir reis plaas.

“Om dít reg te kry, werk ons saam met Suid-Afrika se wetenskaplike en mediese gemeenskap om te wys die land het die nodige kundigheid.

“Ons hoop hierdie planne sal help om aan Suid-Afrika ’n stem te gee in die Britse reisdebat wat tans aan die gang is.”

Brittanje se reëls vir reis vanaf rooilyslande kan hier gelees word.

Meer oor:  Rooilys  |  Toerisme  |  Pandemie  |  Inentingskoers  |  Toerismebedryf  |  Satsa  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.