Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Moenie rol van salonne onderskat – ekonome
Haarkappers mag steeds onder vlak 3 van die inperking nie werk nie. Foto: Pixabay

Die rol wat haarsalonne, kleuterskole, gastehuise, restaurante en die talle ander kleiner ondernemings in die ekonomie speel, maar wat steeds gedurende vlak 3 van die inperking nie mag oopmaak nie, moenie onderskat word nie.

Dié ondernemings dra miljarde rand tot die fiskus by deur middel van hul belastingbydraes en gee werk aan honderdduisende mense.

Tog waarsku ekonome dat dié sektore nie net tans geen bydrae tot die sukkelende ekonomie kan maak nie, maar daar is ook ’n groot kans dat baie van die ondernemings nie die inperkingstyd gaan oorleef nie.

Ulrich Joubert, onafhanklike ekonoom, sê hy is veral bekommerd oor wat die impak van die pandemie op die toerismesektor gaan wees. Hy glo dit behoort juis dié sektor te wees wat gesteun moet word om die land se ekonomie aan die gang te kry.

“Ongelukkig is die aanduidings dat hierdie sektor nog baie werknemers uit diens gaan stel en dat baie ondernemings bankrot kan speel. Tesame met restaurante, haarkappers en sport wat steeds ingeperk word, is dit baie nadelig vir die totale ekonomie – veral weens die rimpeleffek wat dit op ander sektore het.”

Joubert verduidelik dat restaurante wat gesluit is ’n groot uitwerking op onder meer talle groente- en vleisprodusente ook het. Haarkappers en die hele skoonheidsbedryf wat gesluit is, het weer ’n rimpeleffek op vervaardigers van haarwasmiddels en skoonheidsprodukte en sport op die advertensiebedryf en uitsaaiwese.

Luidens die departement van toerisme was dié sektor se bydrae tot die land se bruto binnelandse inkomste (BBP) 8,2% in 2018. Die sektor is ook verantwoordelik vir 4,2% van die totale indiensneming in die land. Die indirekte bydrae tot indiensneming was 9,2% in 2018.

Restaurante

Wanneer dit by restaurante kom, is hul bydrae tot die ekonomie ook beduidend. Luidens syfers van Statistieke Suid-Afrika het dié sektor net in die drie maande van Desember 2019 tot Februarie 2020, ’n totale inkomste van bykans R15 miljard verdien.

Hoewel restaurante reeds onder vlak 4 van die inperking aanlyn bestellings kon lewer, gaan hul inkomste na verwagting erg geknou wees weens die totale sluiting gedurende April en beperkte bedrywighede sedertdien.

Ongelukkig is die aanduidings dat hierdie sektor nog baie werknemers uit diens gaan stel en dat baie ondernemings bankrot kan speel.
Ulrich Joubert

Famous Brands, wat restaurante soos Wimpy, Steers en Debonairs Pizza besit, is een van die groepe wat reeds aangedui het dat net sommige van sy restaurante weer in bedryf gestel kon word gedurende vlak 4. Daar is ook geen verwagting dat al die groep se restaurante skielik nou onder vlak 3 weer gaan oopmaak nie.

Darren Hele, uitvoerende direkteur van Famous Brands, sê Dinsdag as deel van sy voorlegging van dié groep se resultate vir die jaar tot einde Februarie, dat in Mei, onder vlak 4 van die inperking, net 40% van die groep se Leading-handelsmerke – wat Wimpy, Steers en Debonairs Pizza insluit – weer in bedryf gestel kon word. Hulle kon net sowat 20% van hul inkomste genereer. Dit is teenoor ’n jaar tevore.

Wanneer dit by dié groep se Signature-handelsmerke kom, wat restaurante soos Tashas, Vovo Telo, Mythos, Paul en Turn ’n Tender is, kon net 14% van dié restaurante weer hul bedrywighede hervat en het hulle net 9% van hul inkomste verdien in gevergelyking met die vorige jaar.

In Junie, sê Hele, hoop hy dat 67% van sy Leading-handelsmerke weer in bedryf kan wees. Die verwagting is dat hulle net 43% van hul inkomste in vergelyking met die vorige jaar gaan verdien. Die groep verwag dat net 20% van sy Signature-handelsmerke weer in bedryf sal wees en dat hulle net sowat 15% van hul inkomste in Junie sal verdien.

Haarkappers en skoonheidsalonne

Luidens die onderwys- en opleidingsowerheid vir die dienstesektor het haarkappers in 2017 ’n bydrae van 0,62% tot die land se bruto binnelandse ekonomie (BBP) gelewer. Die sektor se bydrae tot die fiskus in die vorm van belasting het R8,75 miljard beloop.

Haarkappers het reeds ’n aansoek by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien waar hulle vra om toegelaat te word om hul bedrywighede te hervat. IOL berig luidens dié sektor se beëdigde verklaring dat hulle sowat 90 000 geregistreerde haarkappers verteenwoordig en ’n verdere 120 000 wat nie geregistreer is nie.

Die verklaring lui verder dat sowat een miljoen mense van dié sektor vir hul inkomste afhanklik is. Hulle kan tans geen inkomste verdien nie en daar is onsekerheid oor hoeveel van hulle hul salon sal moet sluit.

Sorbet, wat skoonheidsalonne bedryf, het vroeër in Mei gewaarsku dat as die sektor gesluit bly, die hele sektor bankrot kan speel. Die maatskappy het aan BusinessTech gesê hy reken sowat 40% van sy salonne sal teen 1 Junie moet sluit. Sorbet het voor die pandemie 220 salonne besit wat 3 500 mense in diens gehad het.

Kleuterskole

Dawie Klopper, beleggingsekonoom by PSG Wealth, sê die een sektor wat nie baie aandag geniet nie, maar wat erg deurloop weens die staat van inperking, is kleuterskole.

“Ouers wat nou na hul werk kan terugkeer, gaan sukkel omdat daar nie iemand is wat na hul kinders kan omsien nie,” sê hy.

“Dit is ’n komplekse saak en terwyl lande oorsee bereid is om hul kleuterskole oop te maak, gee die minister van maatskaplike ontwikkeling nie hieraan aandag nie. Dit kan ’n groot hindernis wees vir die ekonomie om produktief oop te maak.”

Parent24 berig dat ’n peiling deur ’n groep diensverskaffers in dié sektor, onder leiding van Bridge, ’n organisasie sonder winsbejag, wys dat 99% van kleuterskole sê dat ouers opgehou het om hul skoolgeld gedurende die staat van inperking te betaal. Soveel as 83% van die kleuterskole kan dus nie hul personeel se salarisse ten volle betaal nie, terwyl 96% ook sê hulle het nie genoeg geld om hul bedryfskoste te dek nie.

Soveel as 68% van hulle het aangedui dat hulle nie weet of hulle weer hul deure sal kan oopmaak nie.

Meer oor:  Haarkappers  |  Kleuterskole  |  Vlak 3  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.