Suid-Afrika is die agteros in Moody’s Investors Service se vooruitsig vir ontluikende markte se fiskale posisies ná Covid-19. Die kredietgradeerder kan nie sien hoe die land staatskuld sal kan stabiliseer nie.

Selfs in vergelyking met ander ontluikende markte is Suid-Afrika se staatskuld byna op onhanteerbare vlakke. Foto: Getty Images
En as Suid-Afrika nie sy staatskuld kan stabiliseer oor die volgende paar jaar nie, is Moody’s bevrees nóg afgraderings dieper in rommelstatus in sal volg.
Moody’s het Dinsdag sy jongste verslag oor die 19 ontluikende markte se staatskuld uitgereik.
Suid-Afrika is volgens byna elke maatstaf die agteros saam met Chili.
Hoewel talle ander ontluikende markte, nes ontwikkelde lande, tans enorme stygings in staatskuld ervaar, is dit net ’n paar, waaronder Suid-Afrika, wat nie sommer weer ontslae sal kan raak van al die skuld nie.
Volgens Moody’s se ranglys sal Suid-Afrika die meeste ekonomiese groei en grootste begrotingsoorskot nodig hê van al die ontluikende markte om sy skuld teen 2023 te stabiliseer.
Hy verwag Suid-Afrika sal minstens ekonomiese groei van 4% tot 6% per jaar benodig om uit sy skuldstrik te ontsnap.
Dit sal ook gepaard moet gaan met ’n vernouing van die tekort op die primêre begrotingsbalans van ook tussen 4% en 6% van die bruto binnelandse produk vir Suid-Afrika om enigsins ’n kans te staan.
Dis die absolute minimum wat nodig sal wees vir staatskuld om te begin stabiliseer.
“Selfs hoër groei en nouer tekorte sal nodig wees om die koers van staatskuld te begin omkeer,” sê Moody’s.
Moody’s is veral bekommerd oor hoe hoog die rentekoerse op Suid-Afrika se staatskuld is terwyl dit ongelooflik vinnig vergroot.
Sowat 20% van die ganse begroting word tans bestee op slegs die rente op skuld, sê Moody’s.
Hy sê dit kan maklik ’n weghol-skuldsituasie word waar die land toenemend meer moet leen om bestaande skuld af te betaal, nes Eskom.
Moody’s sê egter ook in sy verslag as enigsins méér ondersteuning aan staatsondernemings gebied word, sal dit gou-gou Suid-Afrika se kredietprofiel raak en die vermoë om staatskuld in bedwang te kry heeltemal kniehalter.
Sonder noemenswaardige ingryping én gunstige ekonomiese faktore sal Suid-Afrika eersdaags nie meer sy skuld kan bekostig nie.
Moody’s rig dié waarskuwing ook vir Indië en Indonesië.
Die vooruitsig dat die staat die situasie deur middel van verbeterde belastinginvordering sal kan hokslaan, bly bedenklik.
Moody’s sê Suid-Afrika se vermoë om belastingteikens op medium termyn te haal, gaan onder druk bly weens die pandemie se uitwerking op toerisme en die plaaslike ekonomie.
Intussen is daar geen meer fiskale ruimte vir enige ander rampe nie.
Die kredietgradeerder sê die volgende paar jaar sal van kernbelang wees om broodnodige beleid reg te kry wat die ekonomie weer aan die gang skop of die gevolge kan werklik rampspoedig wees.