Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Moody’s-besluit: Dís wat ekonome verwag

’n Oorweldigende 80% van die ekonome wat aan Netwerk24 se peiling deelgeneem het, reken dat Moody’s Investors Service Suid-Afrika se kredietgradering Vrydag op beleggingsgraad gaan hou.

Net 20%, oftewel twee uit die tien ekonome, verwag dat Moody’s alle staatskuld – in sowel rand as buitelandse geldeenhede – tot rommelstatus sal afgradeer.

Nie een ekonoom reken slegs staatskuld in rand of slegs staatskuld in buitelandse geldeenhede gaan afgegradeer word nie, wat in pas is met Moody’s se benadering om alle soorte staatskuld op dieselfde kerf te hou.

Moody’s se besluit word Vrydagmiddag laat verwag. Standard & Poor’s Global Ratings en Fitch Ratings se eerste besluit vir 2018 word ook oor die volgende paar weke verwag.

As Moody’s Suid-Afrika afgradeer, sal staatskuld by al drie die wêreld se grootste kredietgradeerders op rommelstatus wees en sal staatseffekte uit al die wêreldindekse vir staatseffekte moet val. Dit sal miljarde rande se buitelandse beleggings landuit laat vloei, wat die rand ’n gevoelige knou sal gee.

Maar as Suid-Afrika nié afgegradeer word nie, moet mense nie verwag dat die rand beduidend gaan versterk nie.

Wat dit vir jou beteken
  • As Moody’s staatskuld op beleggingsgraad hou, verwyder dit die laaste groot gebeurlikheidsrisiko wat die rand kan laat verswak en inflasie skerp kan laat styg. Die meeste ekonome is optimisties dat die Reserwebank dan volgende Woensdag die rentekoers sal verlaag, hoewel met net 0,25 persentasiepunt.
  • As Moody’s die land afgradeer, is ’n swakker rand almal se voorland, wat beteken pryse gaan deur die bank skerper styg en ’n rentekoersverlaging is hoogs onwaarskynlik.

Besluit 'gedeeltelik ingeprys'

Die meeste ekonome reken die verwagting dat Moody’s die land ’n vrypas sal gee, is reeds grootliks in die waarde van die rand ingereken. Ten beste sal dit die rand effens laat versterk.

“Die besluit is gedeeltelik ingeprys, so dit gaan ’n beperkte versterking volgende week tot gevolg hê,” sê Emile du Plessis, ekonoom by Finometrica.

“Die rand sal ’n bietjie veld wen as die uitkoms positief is, hoewel ’n beduidende Cyril Ramaphosa-premie reeds in die geldeenheid ingeprys is,” sê Maarten Ackerman, hoofekonoom van Citadel.

Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, meen egter ’n onveranderde gradering is slegs gedeeltelik verreken, “so die rand het ruimte vir wisselvalligheid”.

Koos Coetzee, ekonoom van die Melkprodusente-organisasie, reken ook die rand kan aansienlik versterk of verswak na gelang van die besluit. Hy wys daarop dat die huidige randsterkte ook aan die swakker Amerikaanse dollar toegeskryf kan word en dus nie nét aan optimisme oor die plaaslike politiek – wat “Ramaforie” gedoop is – nie.

Grondonteiening, staatskuld

Coetzee en Fanie Brink, onafhanklike landbou-ekonoom, is die twee kundiges wat reken dat Moody’s staatskuld tot rommelstatus gaan afgradeer.

Brink sê Moody’s móét die land se hoër skuldvlakke in verhouding tot die bruto binnelandse produk (BBP) in ag neem “omdat die regering se skuldlas ook net al hoe groter gaan word weens voortgesette korrupsie en wanbesteding, asook die feit dat sy inkomste nie sal toeneem nie, weens geen noemenswaardige kans dat ekonomiese groei sal versnel nie”.

Brink sê Moody’s moet ook die verhoging in belasting op toegevoegde waarde in ag neem. “Die feit dat die staatsondernemings nog baie lank gaan vat om weer ’n positiewe bydrae tot ekonomiese groei te lewer, sal ook ’n deurslaggewende rol moet speel.”

Ramaforie

Coetzee sê Ramaphosa se “speletjies met grondonteiening” – onteiening sonder vergoeding, wat die president in sy staatsrede ondersteun het nadat dit in Desember as ANC-beleid bekragtig is – gaan dalk een van die redes vir Moody’s se afgradering wees.

Ettienne le Roux, hoofekonoom van RMB, sê Moody’s sal nié afgradeer nie, danksy “gunstige politieke ontwikkelings sedert Desember, ’n nuwe direksie by Eskom (wat volg op dié van die Suid-Afrikaanse Lugdiens), die skorsing van Tom Moyane, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens, ’n duidelike verbetering in sakevertroue en ’n stadig maar seker oplewing in ekonomiese groei”.

Dr. Roelof Botha

Dr. Roelof Botha, ’n dosent aan die sakeskool Gibs, sê die opbrengskoers op langtermyn-staatseffekte het sedert Ramaphosa se verkiesing tot ANC-president in Desember met meer as 100 basispunte gedaal, “wat beteken dat ’n afgradering onsinnig sal wees”.

Dié opbrengskoers is die rente wat die staat op sy skuld moet betaal.

Botha sê die Februarie-begroting, wat nog deur Malusi Gigaba as minister van finansies ter tafel gelê is, het ’n duidelike plan uitgestippel om die styging in die land se skuld-tot-BBP-verhouding hok te slaan.

Ackerman sê al die “beslissende stappe” wat Ramaphosa al geneem het van die oomblik dat oudpres. Jacob Zuma gevra is om te bedank, “ondersteun die terugkeer na fiskale dissipline en die pad na herstel”.

Meer oor:  Moody's  |  Fitch  |  Roelof Botha  |  Fanie Brink  |  Annabel Bishop  |  Ekonome  |  Kredietgradeerders  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.