Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Moody’s: Eskom is SA se grootste risiko
A monitor displays Moodys Corp. signage on the flo
Moody's se hoofkantoor in New York. Foto: Getty Images

Eskom bly die grootste risiko vir die staat se geldsake en vir die ekonomie, waarsku Moody’s Investors Service in ’n kredietmening wat Dinsdagmiddag uitgereik is.

Eskom se skuld beloop byna 8% van die bruto binnelandse produk (BBP), en die deel van sy skuld wat deur die staat gewaarborg word bedra 5% van BBP, sê Lucie Villa, Moody’s se hoofontleder vir Suid-Afrika.

“Kapitaaloordragte van die regering, tesame met die tariefverhogings van minder as waarvoor Eskom gevra het wat die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) in Maart aangekondig het, gaan dalk onvoldoende wees om die maatskappy se langdurige finansiële probleme op te los.”

Moody’s waarsku ook dat beurtkrag die ekonomie gaan knou. Moody’s het sy verwagting vir groei vir vanjaar afgeskaal tot net 1,3%, vanaf 1,5% voorheen. Die kredietgradeerder verwag groei van net 1,5% in 2020.

Moody’s het Vrydagnag besluit om geen kredietgraderingsbesluit te neem nie. Staatskuld is dus steeds net-net beleggingsgraad, met die vooruitsig vir die gradering stabiel.

Ekonome waarsku die besluit om geen besluit te neem nie, beteken Moody’s kan ter enige tyd sy vooruitsig of selfs gradering verander. Dawie Roodt, hoofekonoom van Efficient Group, is onder dié wat reken Moody’s wag vir die uitslag van die verkiesing op 8 Mei.

Wat die verkiesing betref, waarsku Villa soos voorheen daar is ’n “geskiedenis van politieke binnegevegte wat in die verlede beleidonsekerheid veroorsaak het”. Aan die positiewe kant reken sy die “onlangse veranderinge in Suid-Afrika se politieke landskap” verminder die risiko dat staatsinstellings verder ondermyn word, “en bied die vooruitsig van hernude pogings tot hervorming”.

Die Reserwebank en regbank se volgehoue institusionele krag word opnuut as sterk punte uitgelig.Nog ’n refrein wat al voorheen opgeklink het, is die “strukturele probleme wat ekonomiese groei en indiensneming beperk”.

Moody’s beklemtoon dat Suid-Afrika se fiskale maatstawwe in pas is met dié van ander lande op Baa3, die gradeerder se laagste beleggingsgraad, selfs al het dit agteruitgegaan.

“Ons verwag dat die regering se beleid en die instellings gefokus sal bly daarop om die neiging om te keer, maar enige ommeswaai sal ten beste geleidelik wees gegewe hoe moeilik dit is om die maatskaplike, ekonomiese en fiskale beleidsdoelwitte te versoen.”

Meer oor:  Moody’S Investors Service  |  Moody's  |  Eskom  |  Belegging  |  Risiko  |  Kredietgradeerders
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.