Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Moody’s gee SA ’n heel, heel laaste kans

Dis erg, maar dit kon veel erger gewees het.

Moody’s Investors Service – die laaste van die drie groot gradeerders wat Suid-Afrika se staatskuld op beleggingsgraad het – het dié gradering Vrydagnag onveranderd gehou.

A monitor displays Moodys Corp. signage on the flo
Moody's se hoofkantoor in New York. Foto: Getty Images

Moody’s het wel, soos alom verwag is, die vooruitsig vir die gradering van stabiel in negatief verander.

Die instansie maak dit ook baie duidelik dat volgende jaar se begrotingsrede gaan bepaal of Suid-Afrika tot volslae rommelstatus afgegradeer gaan word.

Moody’s was duidelik ook nie beïndruk deur Tito Mboweni, minister van finansies, se mediumtermynbegrotingsrede (MTBR) nie.

Lucie Villa, Moody’s se hoofontleder oor Suid-Afrika, sê in ’n verklaring daar word te min oor besnoeiingsmaatreëls gesê en slegs verwys na “bykomende bedryfs- en finansiële hervormings wat nodig is om die las van Eskom en ander staatsondernemings op die fiskus te stuit”: “Dié week se aankondiginge verteenwoordig nog nie ’n ontwikkelde, geloofwaardige fiskale strategie nie. Die ontwikkeling van ’n geloofwaardige fiskale strategie om die styging in staatskuld in toom te hou, insluitend die 2020-begrotingsproses en -rede, sal deurslaggewend wees om die kredietgradering op sy huidige vlak te behou.”

Villa sê Eskom se las op die staatskas is ’n groot bron van kommer, maar dis ook duidelik die land is in ’n strik van lae ekonomiese groei vasgevang.

Moody’s se besluit weerspieël die “wesentlike risiko dat die regering nie daarin sal slaag om die agteruitgang van sy geldsake deur ’n oplewing in ekonomiese groei en fiskale konsolidasie” te stuit nie.

“Die uitdagings wat die regering moet trotseer, is duidelik in die voortslepende agteruitgang van Suid-Afrika se neiging van groei en staatskuldlas, ondanks voortdurende beleidsreaksie.” 

Sy skryf ook staatsondernemings, veral Eskom, is onder “akute finansiële stres”.

Tesourie se reaksie

Die tesourie het laatnag in ’n verklaring gesê Tito Mboweni, minister van finansies, het op ’n ander uitkoms gehoop, maar erken Moody’s se besluit “met ’n swaar hart”.

“Mede-Suid-Afrikaners, dis nou die tyd om ons moue op te rol en te doen wat ons moet doen. Dis nou of nooit. Ons het alle hande nodig. Die regering, arbeidsektor, sakesektor en burgerlike samelewing – ons het mekaar nou nodiger as ooit vantevore.”

Luidens die verklaring toon die graderingsbesluit Suid-Afrika het min tyd oor om vinnig en konkrete hervormings deur te voer. Dit lys vordering wat gemaak is, onder meer met visumregulasies, die geïntegreerde hulpbronplan en breëbandspektrum, maar erken ook dat kort- en mediumtermynhervormings dringend nodig is om die land se ekonomie te verbeter.

Moody’s het hom daarvan weerhou om die gradering op hersiening te neem, nog iets wat wyd gevrees is. ’n Hersiening sou beteken het die land se gradering gaan binne drie maande hersien word – en daar is weinig wat die staat binne die volgende drie maande sou kon doen om sy skuldkrisis om te keer.

Indien Moody’s Suid-Afrika afgradeer, sal Suid-Afrikaanse staatseffekte uitval uit indekse soos Citigroup se World Government Bond Index (WGBI). Dié indeks belê slegs in beleggingsgraadeffekte. Na raming kan tot R200 miljard se beleggings van buitelanders landuit vloei indien dit gebeur.

So ’n kapitaaluitvloei sal die rand kwaai laat verswak, wat op sy beurt die prys van alle ingevoerde produkte – insluitend brandstof – sal laat styg. Die bose kringloop van hoër inflasie kan die rentekoers wat verbruikers op hul skuld betaal, mettertyd weer opdruk.

Die rand het juis dié week met meer as 3% verswak sedert voor Woensdag se MTBR tot en met Vrydag se sluitingstydprys. Vrydag het dit egter selfs R15,18 getref.

Intussen sal die staat dadelik hoër rentekoerse op sy skuld moet begin betaal, wat staatskuld in verhouding tot die bruto binnelandse produk (BBP) – een van die faktore wat juis die afgradering meegebring het – selfs verder sal laat opskiet.

Mboweni het Woensdag in sy MTBR aangekondig staatskuld kan teen einde Maart 2023 reeds verby 70% van die BBP wees.

Staatskuld gaan in die lopende boekjaar tot einde Maart 2020 sowat R124 miljard meer wees as wat in Februarie se begroting voorspel is. Die totale bruto skuld gaan teen die einde van die boekjaar R3 167,6 miljard wees.

Volgens Mboweni gaan staatskuld tot amper R4 500 miljard styg aan die einde van die mediumtermynbegrotingstydperk, naamlik einde Maart 2023.

Meer oor:  Moody's  |  Tito Mboweni  |  Staatskuld  |  Rommelstatus  |  Kredietgradeerders  |  Kredietgradering  |  Mtbr2019
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.