Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Moody’s gradeer SA metro’s dieper in rommelstatus in

Moody’s Investors Service het Vrydag die mes ingelê in die kredietgraderings van vier van Suid-Afrika se metro’s en een plaaslike munisipaliteit.

Moody’s Investors Service het die land se grootste metro’s Vrydag verder afgegradeer. Foto: Getty Images

Hy sê in ’n verklaring die vermoë van hierdie munisipaliteite om nog rampe te weerstaan, is heeltemal uitgeput.

Hy moes dus noodgedwonge die kredietgraderings van die Kaapstad-metro, die Johannesburg-metro, Ekurhuleni, die Nelson Mandelabaai-metro en die uMhlathuze- plaaslike munisipaliteit afgradeer.

Die Kaapstad-metro, wat nog tot dusver ’n langtermyn- internasionale skuld-kredietgradering van Ba2 gehad het – reeds twee vlakke onder beleggingsgraad – is nou nog verder tot Ba3 afgegradeer.

Die Johannesburg-metro is ook van Ba2 tot Ba3 afgegradeer.

Ekurhuleni is van B1 tot B2 afgegradeer – vyf vlakke onder beleggingsgraad.

Die Nelson Mandelabaai-metro is ook dieper in rommelstatus met ’n afgradering van Ba2 tot Ba3.

uMhlathuze, waaronder Richardsbaai val, is van Ba3 tot B1 afgegradeer.

“Die besluit om die langtermyngraderings tegelykertyd te verlaag, weerspieël die stygende likiditeitsdruk op die munisipaliteite weens wesenlike tekorte in die invordering van inkomste, wat Moody’s verwag sal voortduur in die konteks van baie swak ekonomiese groei,” sê die graderingsagentskap.

Moody’s reken plaaslike regerings gaan aanhou sukkel om heffings en belastings in te vorder namate die staat van inperking voortduur en druk op verbruikers plaas.

Hierdie munisipaliteite is besig om toenemend van hul reserwes te gebruik om basiese dienste te lewer, en Moody’s is bekommerd dat dit hul vermoë om verdere skokke te hanteer, sal kniehalter.

Hy is veral bekommerd daaroor dat die munisipaliteite se kapitaalbesteding sal moet krimp in die huidige en volgende paar boekjare.

Dit beteken dat munisipaliteite wat reeds ’n enorme infrastruktuuragterstand het, nou nóg minder sal kan belê in noodsaaklike infrastruktuur.

Dit voorspel niks goeds vir die munisipaliteite se kredietgraderings nie. Daarom het Moody’s ook die vooruitsig van die munisipaliteite na negatief verander en onder hersiening geplaas vir verdere afgradering.

Met die ekonomiese strop wat al hoe nouer trek om die munisipaliteite, sal hulle nog moeiliker skuld kan invorder om bedrywighede te finansier, wat tot ’n bose kringloop sal lei waar nog minder infrastruktuur en dienste gelewer word, wat verdere afgraderings sal meebring en dit dus nog moeiliker vir hulle sal maak om skuld aan te gaan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.