Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Moody’s gradeer Tshwane af

Die internasionale kredietgraderingsagentskap Moody’s het die Tshwane-metro se kredietgradering verlaag weens sy geldsake wat in die vorige boekjaar agteruitgegaan het toe sy bedryfsuitgawes met 16% gestyg het.

Die drie standbeelde voor die Pretoria-stadsaal. Foto: Deaan Vivier

Moody’s sê in ’n verklaring die afgradering weerspieël die stad se negatiewe bedryfsresultate vir die 2020-boekjaar en dat die swak vertoning waarskynlik op medium- tot langtermyn sal voortduur.

Die afgradering weerspieël ook die swakker likiditeitsposisie van die metro wat hom kwesbaarder maak vir skokke soos die Covid-19-pandemie.

Volgens Moody’s het die stad se bedryfstekort in die boekjaar tot einde Junie 2020 beduidend verhoog omdat sy uitgawes groter is as sy inkomste.

Die bedryfstekort het tot 7% van bedryfsinkomste gestyg, toon die ongeouditeerde finansiële state. Dit is vergeleke met ’n bedryfstekort van 0,5% wat in die voorlopige resultate getoon is.

Die stad het vir ’n inkomste van R35,4 miljard en uitgawes van R35,4 miljard in die boekjaar begroot.

Sy grootste inkomste kom uit dienstekoste en dan eiendomsbelasting. Die grootste inkomste uit dienstekoste kom uit die verkoop van krag; gevolg deur die verkoop van water; afvalverwydering en sanitasiedienste. Die metro verdien ook geld uit boetes, lisensies en die verhuring van eiendom.

Moody’s verwag die metro se bedryfsprestasie sal swak bly en sy bedryfstekort sal in die komende drie jaar voortduur weens die land se swak ekonomiese groei.

Die beduidende agteruitgang in die bedryfsprestasie in die boekjaar is toegeskryf aan bedryfsinkomste wat nie gestyg het nie.

Terselfdertyd het die bedryfsuitgawes met 16% gestyg weens ’n beduidende toename in salariskoste en groter voorsiening vir slegte skuld.

Die styging in salariskoste hou verband met die aansienlike salarisaanpassings wat in die boekjaar toegelaat is ná protesoptrede deur munisipale werkers.

Volgens Moody’s het die stad se kontant, insluitende korttermynbeleggings, van Junie verlede jaar van R2,2 miljard tot R1,1 miljard in Februarie vanjaar afgeneem. Dit benadeel die stad se vermoë om sy korttermynverpligtinge na te kom.

Volgens Moody’s het die likiditeitsdruk veroorsaak dat die metro geld van sy delgingsfonds se beleggings onttrek het.

Dié fonds word belê vir die terugbetaling van die R2,2 miljard se skuldbriewe waarvan 65% in April 2023 hul vervaldatum bereik en die res in 2028.

Munisipaliteite reik skuldbriewe in die skuldmark uit om geld van beleggers in te samel. Dit is dié skuldbriewe wat nou afgradeer is.

Teen 13 April was die balans in die delgingsfonds R341 miljoen vergeleke met R969 miljoen in Februarie.

Die metro beplan om sy reserwes weer op te bou, maar Moody’s glo dat die likiditeitsdruk nog ’n geruime tyd sal voortduur weens die voortgaande swak invordering van inkomste en beduidende bestedingsdruk.

Die vooruitsig vir die kredietgradering bly negatief.

Volgens Moody’s toon dit die risiko dat die metro se finansiële vertoning aansienlik verder kan verswak as wat tans verwag word.

“Die ekonomiese inkrimping weens die pandemie en toename in werkloosheid het verdere druk op die metro se inkomste-invordering geplaas en likiditeit beperk.”

Meer oor:  Tshwane  |  Moody's  |  Kredietgradering  |  Stadsraad  |  Munisipaliteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.