Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Moody’s hou SA aan ’n lyntjie

Suid-Afrika het ongeskonde afgekom van sy eerste kredietgradering van 2021.

Moody’s Investors Service het Vrydagnag net ná 22:30 aangekondig hy gaan nie nou ’n graderingsbesluit oor Suid-Afrika neem nie.

Dit beteken effektiewelik hy handhaaf die gradering van Ba2 op staatseffekte in sowel rand as buitelandse geldeenhede. Dis twee vlakke onder beleggingsgraad. 

Die besluit is wat die mark verwag het, met 87,5% van ekonome in Netwerk24 se peiling wat voorspel het Moody’s gaan óf die gradering onveranderd hou óf geen graderingsbesluit neem nie. Die rand het ook Vrydag tot sy sterkste vlak in 16 maande, R14,06 teenoor die dollar, versterk in afwagting op goeie nuus. 

moody's, fitch, s&P
Die stand van Suid-Afrika se kredietgraderings.

Die feit dat daar geen afgradering was nie, is goeie nuus vir die land se geldsake omdat dit beteken die rente wat die staat op sy skuld moet betaal, sal nie oombliklik styg nie. Dis ook goeie nuus vir gewone Suid-Afrikaners omdat dit bes moontlik die rand sal ondersteun, wat onder meer die prys van brandstof in toom kan hou.

Die slegte nuus is dat dit ook beteken Moody’s se vooruitsig op die gradering bly onveranderd op negatief. Dit beteken tensy Suid-Afrika se ekonomie en fiskale situasie tussen nou en November se gradering verbeter, is ’n afgradering steeds Suid-Afrika se voorland.

Lucie Villa, Moody’s se hoofontleder vir Suid-Afrika, het net ná die begrotingsrede in Februarie gewaarsku Suid-Afrika wankel op ’n fiskale afgrond. Staatskuld, Eskom se skuld, staatsamptenare se salariseise en trae ekonomiese groei, ook in die lig van die Covid-19-pandemie, bly die faktore wat die risiko verhoog dat Suid-Afrika agterstallig kan raak met sy die afbetaling van sy skuld - effektiewelik wat die kredietgradering beteken.

Moody’s het Suid-Afrika in 2020 twee keer afgegradeer, wat die land vir die eerste keer op rommelstatus geplaas het sedert Moody’s die land in 1994 gradeer.

Valbyl op 21 Mei?

Die tweede van die drie groot kredietgradeerders, Standard & Poor’s Global Ratings (S&P) besluit op 21 Mei oor Suid-Afrika se gradering. S&P se gradering vir staatskuld in buitelandse geldeenhede is op die laagste B-vlak. ’n Afgradering sal die eerste C-gradering beteken wat die land nóg gehad het.

Fitch Ratings maak nie die datum van sy graderings bekend nie, maar dit val dikwels saam met dié van S&P. Fitch gradeer staatskuld ook op die laagste B-vlak, vir sowel effekte wat in rand as buitelandse geldeenhede uitgereik is.



Meer oor:  Fitch  |  Moody's  |  S&P  |  Eskom  |  Tito Mboweni  |  Staatsamptenare  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Staatskuld  |  Kredietgradering  |  Rommelstatus  |  Kredietgradeerders  |  Tesourie  |  Afgradering  |  Loononderhandelinge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.