Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Moody’s klink spyt oor nuwe status vir Kaap, PE

Kaapstad en Port Elizabeth is onder die munisipaliteite wat voortaan waarskynlik meer vir hul skuld sal moet betaal omdat die nasionale regering se geldsake so swak lyk.

Die Kaapstad-stadion in Groenpunt, met Tafelberg op die agtergrond. Foto: Bruce Sutherland

Moody’s Investors Service het pas die vooruitsig vir munisipale graderings wat stabiel was, na negatief verander. Dit sluit in die groot metropolitaanse munisipaliteite van Kaapstad, die Nelson Mandelabaai- metropolitaanse munisipaliteit (wat Port Elizabeth insluit) en Ekurhuleni.

Moody’s sê hy gee toe dat Kaapstad en Nelson Mandelabaai “gekenmerk word deur lae skuldvlakke en robuuste bedryfsprestasie”, maar die gradeerder sê in Suid-Afrika is daar ’n baie noue finansiële verwantskap tussen plaaslike regerings en die nasionale regering.

Dit beteken ’n munisipaliteit kan nooit ’n hoër gradering of selfs ’n beter vooruitsig op dieselfde gradering hê as die nasionale regering nie.

Die vooruitsig vir Johannesburg was reeds negatief en dié vooruitsig is gehandhaaf.

Moody’s sê baie faktore wat hom verlede jaar genoop het om die vooruitsig vir Johannesburg se gradering te verander – soos ’n stewige styging in bedryfsinkomste – het verbeter. Johannesburg se vooruitsig kan egter nie na stabiel verander word noudat die land ’n negatiewe vooruitsig gekry het nie.

Al dié metrorade se skuld word op die laagste beleggingsgraad gegradeer, soos dié van die land as geheel.

Moody’s se aankondiging oor munisipaliteite is ’n uitvloeisel van verlede Vrydag se graderingsbesluit oor Suid-Afrika. Hoewel Moody’s die land op beleggingsgraad gehou het, is die vooruitsig van stabiel na negatief verander. Dit beteken ’n afgradering na rommelstatus deur Moody’s – die laaste groot gradeerder wat die land op beleggingsgraad het – is nou ’n baie groot moontlikheid.

LEES OOK: Dís wat op SA wag as rommelstatus kom

Moody’s het die land gewaarsku dat die Februarie-begroting deurslaggewend kan wees vir sy volgende graderingsbesluit.

Ander besluite oor munisipaliteite wat pas geneem is, sluit in:

  • Die stabiele vooruitsig van Tswhane (wat Pretoria insluit), Breedevallei en uMhlathuze is gehandhaaf. Dié munisipaliteite is reeds op rommelstatus gegradeer.
  • Die negatiewe vooruitsig van Mangaung (Bloemfontein) is gehandhaaf. Moody’s het Mangaung in Augustus met drie kerwe tot ses kerwe onder beleggingsgraad gegradeer weens ernstige finansiële wanbestuur en kontantvloeiprobleme by dié munisipaliteit.
  • Rustenburg is nog een vlak laer tot drie kerwe onder beleggingsgraad afgegradeer en die vooruitsig is van stabiel na negatief verander.

Ander instellings wat verander is, sluit in:

  • Die vooruitsig vir die gradering van die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) is van stabiel na negatief verander.

Verskeie maatskappye het ook deurgeloop deurdat die vooruitsig vir hul gradering na negatief verander is. Nie een is afgegradeer nie:

  • Growthpoint
  • Redefine
  • Barloworld
  • Bidvest
  • Telkom

Die nuutste aankondigings kom nadat Moody’s reeds dié week onder meer die vooruitsig vir banke se gradering na negatief verander het en Eskom selfs dieper na rommelstatus afgegradeer het. Eskom is nou net drie vlakke van die status wat aan wanbetalers toegeken word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.