Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Moody’s ’n doemprofeet oor groei in Afrika
Moody’s verwag nie dat ekonomieë van lande in Afrika suid van Sahara in 2020 goed gaan presteer nie.Foto: Bloomberg

As die kredietgradeerder Moody’s Investors Service reg is, dan gaan 2020 nie ’n goeie jaar vir lande in Afrika suid van die Sahara wees nie.

Die kredietgradeerder het Maandagaand sy verslag uitgereik.

“Die negatiewe vooruitsigte vir 2020 vir soewereine kredietwaardigheid in Afrika suid van die Sahara weerspieël die verslegtende eksterne omgewing, swak staatsfinansies en gedempte ekonomiese groei,” sê Moody’ in die verslag.

Moody’s sê regerings het min vordering gemaak wanneer dit by die vermindering van risiko’s verbonde aan ’n verhoogde skuldlas en die betaling van skuld kom, en dat groei nie sterk genoeg sal wees om hul inkomste sinvol te verhoog of hul ekonomiese veerkragtigheid te verhoog nie.

“Die minder voorspelbare eksterne omgewing vererger die uitdagings van lande in Afrika suid van die Sahara, wat hulle weer meer kwesbaar maak vir risiko,” sê David Rogovic, senior ontleder by Moody’s en medeouteur van die verslag.

“Die meeste regerings se beperkte kapasiteit om selfs op beskeie negatiewe eksterne skokke te reageer, vererger die sensitiwiteit van die streek wat betref die negatiewe globale omgewing.”

Moody’s sê hy verwag dat die fiskale tekort van die streek as geheel wel tot 3% van die bruto binnelandse produk (BBP) sal verbeter. Dit is teenoor die 3,3% van 2019. Hy verwag ook dat die streek se gekombineerde staatskuld tot 51% van die BBP sal daal. Dit is teenoor die 54,5% van 2019.

Dit bly egter beduidend hoër as die 40% van vyf jaar gelede, sê Moody’s in die verslag.

Vir ’n streek as geheel, voorspel Moody’s ekonomiese groei van 3,5% in 2020. Dit is hoër as die 3,1% wat hy vir 2019 verwag.

Hy sê die rede hoekom hy nie beter groei verwag nie, is omdat die ekonomieë van Suid-Afrika en Nigerië waarskynlik swaar gaan trek in 2020.

Moody’s het in November sy vooruitsig vir ekonomiese groei in Suid-Afrika aangepas.

Hy het toe gesê dat hy verwag die land se ekonomie het in 2019 met net 0,7% gegroei. Dis teenoor die voorspelling van 0,8% in Augustus.

Dis egter steeds hoër as die nasionale tesourie se verwagting dat die ekonomie in 2019 met net 0,5% gaan groei – ’n skokaankondiging wat Tito Mboweni, minister van finansies, in Oktober in sy mediumtermynbegrotingsraamwerk gedoen het.

Moody’s reken groei in 2020 gaan versnel tot 1%, teenoor die 0,7% wat in Augustus voorspel is, maar in 2021 gaan groei traer wees as wat voorheen verwag is – 1,2% eerder as 1,5%.

Moody’s wys daarop in sy jongste verslag dat groei van net 1% laer is as die gemiddelde groei van 1,7% die afgelope dekade.

“Hoë werkloosheid, inkomsteongelykheid en die maatskaplike en politieke uitdagings wat dit vir beleidmakers inhou, is ’n groot struikelblok vir die regering se planne om groei te verbeter,” lui die verslag.

Moody’s sê hy verwag dat die Nigeriese ekonomie in 2020 met 2,5% sal groei. Dit is teenoor verwagte groei van 2% in 2019.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.