Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Moody’s se besluit weeg lig teen Covid-19

Maak dit regtig saak as Moody’s Suid-Afrika vanaand tot rommelstatus afgradeer?

moodys
Moody’s se graderingsbesluit word skuinns voor middernag verwag. Foto: Getty Images

Net ure voor die graderingsbesluit is ekonome steeds verdeeld – maar grootliks effens ongeërg in die lig van die ekonomiese ramp wat hom reeds in Suid-Afrika afspeel weens die Covid-19-pandemie.

Die besluit word laatnag verwag. Netwerk24 sal lesers op hoogte hou.

Dr. Michael Jordaan, stigter van Bank Zero, het Donderdag getwiet ’n “hartseer voorspelling” is dat Moody’s die land wel sal afgradeer.

“’n Goeie voorspelling is dat dit markte nie soveel gaan raak nie.”

Dis met verwysing na die enorme wisselvalligheid wat aandelebeurse en geldeenhede die afgelope weke skommel weens die uitkringende uitwerking van die Covid-19-pandemie.

Veral ontluikende lande se geldeenhede is teen die toue soos internasionale batebestuurders hulle na sogenaamde toevlugsoorde wend in die tyd van onsekerheid. Die rand het tot selfs R17,90 teenoor die dollar verswak.

Dis juis die uitvloei van kapitaal en gevolglike verswakking in die rand wat die grootste uitwerking van ’n afgradering kan wees, maar baie ontleders reken die geldeenheid kan kwalik verder verswak.

Verskeie ekonome glo dat Moody’s weens die erge, maar steeds onmeetbare, impak van Covid-19 sal besluit om die graderingsbesluit uit te stel.

Hugo Pienaar, ekonoom van die Universiteit van Stellenbosch, wys egter daarop dat Mexiko pas deur Standard & Poor’s Global Ratings (S&P) afgegradeer is in die lig van die risiko’s wat die virussiekte skep. S&P en Fitch Ratings het Suid-Afrika reeds in April 2017 afgegradeer.

Moody’s self toon ook geen genade aan maatskappye wat deur Covid-19 lamgelê word nie. Die motorvervaardigers soos Toyota, Honda en Nissan is vroeër vandag afgegradeer.

Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, tel onder die ekonome wat steeds hoop op ’n opskorting van die “vonnis”, “met ’n uiters klein speling”.

Sy sê Moody’s sal in ag neem dat alle lande deur Covid-19 geraak word.

“Moody’s vergelyk Suid-Afrika met sy eweknieë, en hulle gaan almal waarskynlik vanjaar ’n negatiewe groei-skok hê.”

Daar is konsensus onder ekonome dat die wêreldekonomie oor die volgende jaar ’n resessie gaan beleef weens die pandemie.

Bishop sê gegewe hoe moeilik dit vir Moody’s gaan wees om die finale impak op lande te meet, sal hy eers wag. Moody’s sal ook versigtig wees om markte in dié onsekere tye verder te ontwrig, reken sy.

Moody’s sal egter die vooruitsig vir die gradering negatief hou, wat die risiko van ’n afgradering in November verhoog.

Bishop verwag nié dat die gradering op hersiening geneem sal word nie. Hersiening beteken die gradeerder stel ’n spertyd van drie maande vir sy besluit, eerder as om tot sy volgende geskeduleerde hersiening, in November, te wag.

Bishop sê drie maande sal te kort wees om die impak van Covid-19 op Suid-Afrika te meet.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.