Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Moody’s sny SA groei tot onder 1% oor beurtkrag

Die kredietgraderingsagentskap Moody’s het die verwagting oor Suid-Afrika se ekonomiese groeikoers vir 2020 tot onder 1% gesny.

Die vorige verwagting, in November, was 1%. Nou word verwag die groei vir die jaar gaan net 0,7% wees.

Moody's het die groeivooruitsig vir China vir vanjaar tot 5,2% verlaag.

Die groei wat vir 2019 verwag word, is ook afwaarts aangepas en beloop nou 0,3%. Dié syfer word in Maart bekend gemaak.

“Ons skryf die volgehoue swak ekonomie in Suid-Afrika toe aan die flou vraag vanuit die private sektor – sowel huishoudelike besteding as investering – asook die nadelige uitwerking van wydverspreide kragonderbrekings op vervaardiging en die mynwese.”

Boonop word daar nou ook verwag die land se bruto binnelandse produk (BBP) gaan volgende jaar met minder as 1% groei, naamlik met 0,9%. Voorheen is verwag dit gaan 1,2% wees.

LEES OOK: Moody’s sny verwagting vir SA groei wéér

Die inligting is deel van Moody’s se jongste vooruitsig vir internasionale ekonomiese groei.

Suid-Afrika is onder vier opkomende lande wie se groeivooruitsig afwaarts aangepas is en daarmee die G20-lande s’n afgetrek het tot gemiddeld 2,4% vir vanjaar.

Dit sluit in China se groeivooruitsig weens die impak van die nuwe koronavirus.

Moody’s sê in sy verklaring die groeivooruitsig vir Suid-Afrika, Indië en Mexiko is wesenlik afwaarts aangepas, maar dit weerspieël eerder binnelandse probleme as eksterne faktore.

Die groeikoers vir die hele wêreldekonomie is met 0,2 persentasiepunte vir vanjaar verlaag.

“Die koronavirus-epidemie skep ’n nuwe risiko vir die vooruitsig van die begin van die stabilisering van wêreldwye groei vanjaar danksy die skietstilstand in die handelsoorlog tussen Amerika en China.”

Die groeiverwagting vir China vir vanjaar is tot 5,2% verlaag.

“Die uitbreking gaan eerstens en die meeste vir China raak deurdat dit die besteebare inkomste van verbruikers gaan verlaag wat betref vervoer, kleinhandel, toerisme en vermaak,” sê Madhavi Bokil, visepresident van Moody’s.

“Met die virus wat nog verder versprei in China en in ander dele van die wêreld, is dit nog te vroeg om ’n finale ontleding van die impak op die land en die wêreldekonomie te gee.”

Moody’s het ook die groeivooruitsigte vir Korea, Japan en Australië verlaag weens die krisis met die virus.

“Die skok vir China se ekonomie kan die stabilisering en herstel van ander ekonomieë deur handels- en toerisme-kanale benadeel.”

Die groeivooruitsig vir ontwikkelde lande is meestal onveranderd gelaat.

Moody’s sê Suid-Afrika se ekonomie het in die derde kwartaal van 2019 met 0,6% ingekrimp. “Ons verwag dat die voljaargroei gemiddeld 0,3% sal wees. Aanwysers oor nywerheidsproduksie en die aankoopbestuurdersindeks toon nywerhede bly swak. Sake- en verbruikersvertroue het ook die afgelope twee jaar afgeneem.

“Die reële BBP per capita het elke jaar die afgelope vyf jaar gekrimp. Die bestendige styging in die werkloosheidsyfer sedert 2018, wat nou op 29% staan, weerspieël die probleme om die groeiende arbeidsmag in die ekonomie op te neem.

“Die trae groei in ekonomiese aktiwiteite belemmer die pas waarteen werk geskep word.”

Meer oor:  Moody's  |  Suid-Afrika  |  China  |  Amerika  |  Ekonomiese Groei  |  Kredietgradering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.