Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Moody’s verwag SA ekonomie gaan met 4,5% groei

Die internasionale kredietgraderingsagentskap Moody’s verwag die Suid-Afrikaanse ekonomie gaan vanjaar met 4,5% groei.

Etosha
Lande wat erg afhanklik is van toerisme het ook baie swaar gekry in 2020, volgens Moody's. Leeus stap oor 'n grondpad in Etosha Nasionale Park in Namibië. Foto: Danie Brand

Moody’s raam Afrika Suid van die Sahara het as streek in 2020 sy eerste ekonomiese inkrimping in drie dekades beleef.

Hoewel die skok wat die koronaviruspandemie veroorsaak het, kleiner was as op gevorderde ekonomieë en ander opkomende markte, glo Moody’s die blywende invloed daarvan gaan groter wees.

Die streek se herstel op langer termyn gaan meer sukkel omdat dié lande min fiskale ruimte het om die pandemie se negatiewe invloed op hul ekonomiese aktiwiteite teen te werk.

“Die strukturele faktore in hierdie lande is oor die algemeen ook minder bevorderlik vir ’n herstel teenoor ander opkomende ekonomieë.”

Groot hulpbron- en toerismelande is veral erg getref.

Vanjaar word weer verwag dat lande wat olie uitvoer, asook dié wat van toerisme afhanklik is, ’n stadiger herstel gaan beleef.

“As gevolg van die onderbrekings in verskaffingskettings wêreldwyd, swakker vraag en die daling in sommige kommoditeitspryse, gaan die ekonomiese herstel stadig en ongelyk wees.”

Angola en Nigerië gaan die ergste geraak word met reële BBP-groei van onderskeidelik net 2,5% en 2,1% wat verwag word.

“Ons verwag dat internasionale toerisme matig gaan wees tot in die tweede helfte van die jaar en dit gaan laer as die historiese ekonomiese groeikoerse in Kenia (5%), Tanzanië (4,6%) en Namibië (2,4%) veroorsaak.”

Groot nie-olie-uitvoerders gaan na verwagting die mees dinamiese ekonomieë bly met hul groei wat aangedryf word deur binnelandse vraag en groot investering deur die openbare sektor.

Die Ivoorkus, Rwanda en Botswana se gemiddelde ekonomiese groei gaan 6,5% wees, word voorspel. Dit word ook toegeskryf aan die herstel in internasionale ekonomiese groei wat ’n groter vraag na koffie en diamante sal meebring.

Die lae ekonomiese groei in die streek gaan staatsinkomste, wat reeds onder druk is, verder beperk.

Die pandemie het die bestaande institusionele en fiskale probleme in die streek vererger en dit het gelei tot ’n ongekende getal graderingsaksies in 2020, naamlik 28.

Suid-Afrika is twee keer afgegradeer weens die voortgesette agteruitgang in sy fiskale situasie en swak ekonomiese groei.

Moody’s se vooruitsig vir lande van die streek se kredietwaardigheid vir 2021 is ook negatief.

“Ons verwag dat regerings in die streek gaan worstel met die nagevolge van die koronavirusskok.

“Die laer inkomste as gevolg van die pandemie, tesame met bestedingsdruk (wat met gesondheidsuitgawes en fiskale stimulus verband hou) gaan tot begrotingstekorte lei en fiskale konsolidasie vertraag.”

(Fiskale konsolidasie verwys na stappe om staatsbesteding te verlaag en staatsinkomste te verhoog.)

Skuldvlakke gaan verder styg.

Moody’s verwag die gemiddelde skuldlas gaan rondom 64% van BBP wees op nabye tot mediumtermyn, vergeleke met 47% wat dit van 2015 tot 2019 was.

“Ons verwag nie dat skuldvlakke in die afsienbare toekoms gaan daal nie omdat inkomsteskeppingsvermoë swak gaan bly.

“Die groter skuldlas, laer staatsinkomste en hoër rentekoste gaan toenemend probleme skep met die bekostigbaarheid van skuld.”

Moody’s verwag dat die pandemie maatskaplike spanning gaan verhoog, onder meer weens grootskaalse werkloosheid.

Meer oor:  Moody's  |  Bbp  |  Staatsbesteding  |  Ekonomiese Groei  |  Staatskuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.