Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Moorde op toeriste ‘ekonomiese sabotasie’

“Is ’n moord op Tafelberg net moord, of is dit ook ekonomiese sabotasie omdat sulke voorvalle toeriste afskrik om Suid-Afrika te besoek?”

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, sê Suid-Afrika se strafregstelsel sal aangepas moet word om misdade wat die land se ekonomie skade berokken, te hanteer.

“Is dit nie ook ekonomiese sabotasie wanneer ’n groep mense met vragmotors paaie versper nie?” het die minister gevra toe hy Maandag aspirante-aanklaers in Pretoria toegespreek het.

“Iets moet gedoen word om beleggersvertroue in die land te herstel, want sonder dié vertroue sal die land nie sy talle maatskaplike uitdagings die hoof kan bied nie,” sê Lamola.

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, spreek Maandag aspirant-aanklaers in Pretoria toe.Foto: Sarel van der Walt

Die kursus vir die aspirant-aanklaers word deur die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling in samewerking met die nasionale vervolgingsgesag (NVG) aangebied.

Die kursus word deur 97 aspirant-aanklaers bygewoon. Die kursus kon die laaste sowat drie jaar weens probleme met begrotings nie aangebied word nie.

Lamola het ook aan die studente gesê die sogenaamde vierde nywerheidsrevolusie sal in die toekoms ’n groot invloed op die regsberoep hê.

“Ons sal voorbereid moet wees om die nuwe uitdagings wat kubermisdaad vir ons inhou, te hanteer,” sê hy.

Hy het aan die studente gesê oudhoofregter Pius Langa het op sy dag self die aanklaerskursus bygewoon.

“Wie weet, dalk is hier onder julle ’n toekomstige hoofregter, ’n provinsiale regter-president of ’n direkteur-generaal.”

Adv. Shamila Batohi, nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), het vroeg in haar loopbaan ook die aanklaerskursus bygewoon. Sy het ook die studente toegespreek.

Lamola sê sy departement help die NVG waar moontlik, maar geld is ’n probleem weens onder meer staatskaping.

“Dit is nie ’n kwessie dat die nasionale tesourie nie meer geld beskikbaar wil stel nie. Daar is net eenvoudig nie geld nie.”

Die minister het ook hulde gebring aan dr. Silas Ramaite SC, ’n adjunkdirekteur van nasionale vervolging wat aan die einde van Augustus met vervroegde pensioen aftree ná ’n loopbaan van 37 jaar by die NVG.

Lamola het Ramaite geloof vir die rol wat hy by die NVG gespeel het as waarnemende NDOV nadat adv. Shaun Abrahams, die vorige NDOV, deur die konstitusionele hof die trekpas gegee is,

“Hy het die NVG met eer gedien en ek bedank hom namens die president, die regering en die mense van Suid-Afrika vir sy diens.

“Hy het by die NVG begin werk die jaar voor ek gebore is,” het Lamola laggend gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.