Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Motors nie gebou, vrugte vrot oor hawewerkers staak

Die vervaardiging van motors by Volkswagen in Uitenhage het drasties afgeneem en sitrus in die Oos-Kaap wat vir internasionale markte bestem is, word vrot in die Ngqura-hawe weens die voortslepende sloerstaking van Transnet-werkers.

Werknemers van die vragmotorbedryf vrees dat die staking die bedryf tot op sy knieë kan dwing en tot reuse-werksverliese kan lei, terwyl die Nelson Mandelabaai-sakekamer kommer uitgespreek het oor die negatiewe impak op die Oos-Kaapse ekonomie.

Die Oos-Kaap het tans die hoogste werkloosheidsyfer in die land, wat op 37,4% staan.

Geskil oor lone en bonusse

Die Transnet-werkers het meer as ’n week gelede met hul staking begin, glo weens ’n geskil oor lone en bonusse.

Die sloerstaking veroorsaak enorme vertragings met goedere wat by die Ngqura-hawe, noord van Port Elizabeth, in- en uitgevoer word.

Vragmotorbestuurders is genoop om vir meer as tien ure per dag te wag voordat hulle ’n vrag goedere kan op- of aflaai.

Transnet het Donderdag bevestig die staking het na hawens in Durban en Kaapstad uitgekring.

Dr. Andrew Muir, president van die Nelson Mandelabaai-sakekamer, sê die staking het ’n negatiewe impak op die ekonomie. “Die vervoer- en die landboubedryf word veral erg ontwrig. Die geld wat verlore gaan, kan dalk nooit weer verhaal word nie.

“Dit het ’n impak op Suid-Afrika se beeld as ’n betroubare verskaffer aan uitvoermarkte oor die wêreld heen.”

Muir het ’n dringende beroep gedoen op die betrokke rolspelers om die geskil so spoedig moontlik op te los.

By Volkswagen word skofte al sedert Woensdag gekanselleer en werkers is huis toe gestuur.

Donderdag is werkers wat die oggendskof moes doen opnuut ingelig dat hulle voortaan op ’n dag-tot-dag-grondslag gaan werk.

Vraghouers kan nie afgelaai word

Volkswagen se werkers kan nie voertuie bou nie omdat ’n vraghouer, met noodsaaklike komponente soos enjins en ratkaste, nie by die Ngqura-hawe afgelaai kan word nie.

Andile Dlamini, Volkswagen se woordvoerder, het bevestig dat die maatskappy nie sy produksievolumes kon haal nie.

Die daaglikse teiken is 680 voertuie wat tydens drie verskillende skofte gebou word.

Hy sê weens die ontwrigting die laaste twee dae is die maatskappy nou presies met 680 motors agter.

Die motorvervaardigingsektor het verlede jaar 7% tot die land se bruto binnelandse produk bygedra.

“Ons is besig om gebeurlikheidsplanne in plek te sit om die agterstand in te haal. ’n Moontlikheid wat ons bekyk, is dat werkers oor naweke oortyd sal moet werk, wat ons geld gaan kos.

“As maatskappy het ons ’n verantwoordelikheid om motors aan ons klante te lewer, veral aan die uitvoermarkte.”

Dlamini het daarop gewys dat hulle verlede jaar gebuk gegaan het onder Eskom se probleme, en nou is dit Transnet.

Dlamini het daarop gewys dat hulle verlede jaar gebuk gegaan het onder Eskom se probleme, en nou is dit Transnet.

“As staatsinstellings nie hul huis in orde het nie, dan verloor mense vertroue in Suid-Afrika se vermoë as ’n vervaardigingsbedryf.”

Sloerstaking

Molapwane Likhethe, woordvoerder van Transnet, sê ’n aantal werknemers wat aan die onwettige sloerstaking by die Ngqura-hawe deelgeneem het, is geskors.

Hy gee toe die onwettige staking het ’n negatiewe impak op dienste by dié hawe gehad en het veral die sitrus- en motorbedryf geraak.

Likhethe het gesê die sloerstaking het ook werk by die Durbanse hawe geraak met werkers wat weggebly het en probleme met toerusting.

Hy sê Transnet merk ook ’n afname in prestasievlakke by die hawe in Kaapstad.

“Transnet het ’n sentrum op die been gebring wat daagliks deur die leiers op nasionale en provinsiale vlak beman word. Prestasies word uit dié sentrum gemonitor.

“Transnet is daagliks in kontak met kliënte oor ons gebeurlikheidsplanne, sowel as die prioritisering van vragte wat dringend is.”

Daar word ook met afgevaardigdes van werknemers beraadslaag sodat werksaamhede by die hawes na normaal kan terugkeer.

“Die impak op die ekonomie kon nog nie bereken word nie,” sê Likhethe.”

Meer oor:  Volkswagen  |  Vrugte  |  Motors  |  Staking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.