Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Motorverkope aan’t herstel en Toyota kraai koning

In die kort maand van die liefde het motorverkope steeds nie herstel tot die vlakke voor Covid-19 nie, maar wel beter as verwag gevaar, wat goeie herstel in die ekonomie voorspel.

Toyotas bly Suid-Afrika se gunsteling-voertuie met duisende meer verkope as sy naaste mededingers. Foto: Getty Images

Naamsa, wat Dinsdag sy naam verander het na die Motorvervoer-sakeraad, het die jongste motorverkopesyfers vir Februarie uitgereik.

In totaal het die bedryf 37 521 nuwe voertuie in Februarie verkoop – ’n daling van 13,3% teenoor Februarie 2020.

Maar die sakeraad is positief. Hy sê dit is die laaste maand dat die syfers met ’n tydperk voor Covid-19 vergelyk gaan word en dit het steeds beter gestyg as verwag.

Uit die totale verkope van nuwe voertuie is 84,3% deur handelaars verkoop, 10% aan motorverhuurders, 3,4% aan die regering en 2,3% aan korporatiewe vlote.

Nuwe passasiersvoertuie sukkel egter nog ’n bietjie meer as ligte en swaar handelsvoertuie, met 24 270 nuwe passasiersvoertuie wat in Februarie verkoop is. Dit is 18,1% laer as ’n jaar gelede.

Suid-Afrikaners is duidelik nog nie besig om nuwe wiele te soek teen dieselfde pas as vantevore nie.

Maar die verkope van bakkies en ligte handelsvoertuie het beduidend verbeter teenoor 2020. Die totale daling in verkope van hierdie voertuie was net 3,2% in Februarie.

Swaarvoertuie soos vragmotors en busse het noemenswaardig herstel soos die ekonomie se behoefte aan vragvervoer toegeneem het namate die inperking gelig is.

Trokke en busse se verkope het inderwaarheid met 3,1% gestyg teenoor Februarie 2020.

Op die alom belangrike uitvoerfront het Februarie ietwat van ’n teleurstelling meegebring.

Slegs 29 582 nuwe voertuie is in dié maand uitgevoer, wat 8% minder is as ’n jaar gelede.

Maar Naamsa sê vir die jaar tot einde Februarie is die uitvoersyfers steeds hoër as ’n jaar gelede danksy ’n uitstekende Januarie.

Sover is 3 895 nuwe voertuie reeds meer as in Januarie en Februarie 2020 uitgevoer.

Met die motorvervaardigingsmeesterplan wat tans beleggings in motorvervaardiging veral vir die uitvoermark prioritiseer, is ’n uitvoerprestasie soos dié uitstekende nuus vir ’n bedryf wat 15,5% van al Suid-Afrika se uitvoergoedere verteenwoordig.

“Voertuig-uitvoergetalle neem steeds toe en sal ondersteun word deur die oplewing in wêreldwye ekonomiese groei wat vir 2021 voorspel word, aangespoor deur massa-inentingsveldtogte teen die koronavirus in verskeie lande om die Covid-19-pandemie in bedwang te bring,” sê die sakeraad.

“ ’n Verbetering in die ekonomiese klimaat van die belangrikste handelsvennote van die Suid-Afrikaanse motorbedryf sal voertuigverkope stimuleer en sal dan lei tot verhoogde uitvoer van Suid-Afrikaans vervaardigde voertuie na daardie lande.”

Nedbank stem saam en sê lae rentekoerse, lae inflasie en komende ekonomiese herstel sal saamwerk om oor die komende maande die vraag na veral uitvoer-voertuie aansienlik te laat verbeter.

Intussen bly Toyota Suid-Afrika se gunsteling-motorvervaardiger. Die verslag wys in Februarie is 8 113 nuwe Toyota-voertuie hier verkoop.

Dit is verreweg die meeste volgens handelsmerk.

In tweede plek is Volkswagen, met 6 553 verkope, en in die derde plek is Ford, met 3 010.

Meer oor:  Naamsa  |  Motors  |  Motorvervaardigers  |  Vervaardiging  |  Ekonomie  |  Motorverkope
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.