Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Motorverkope op laagste vlak sedert 2010

Die verkope van nuwe voertuie het in Maart met 3,1% op ’n jaargrondslag gedaal en só die swakste eerste kwartaal sedert 2010 afgesluit.

Die Barons Volkswagen-handelaar in Culemborg, Kaapstad. Foto: Léanne Stander

Altesame 133 878 is voertuie in die eerste kwartaal van 2019 plaaslik verkoop, wat 5,2% laer is vergeleke met 2018 se eerste kwartaal.

Die Nasionale Vereniging van Motorvervaardigers (Naamsa) se jongste syfers wys dat die volgehoue ekonomiese druk op verbruikers die verkope van nuwe voertuie aanhou knou.

Die vooruitsigte vir die res van 2019 lyk nie veel beter nie.

Nedbank se ekonomiese navorsingseenheid glo indien rentekoerse onveranderd bly vir die res van die jaar, daar ’n moontlikheid is dat verkope ietwat sal verbeter.

“Dit sal wel net ’n nederige verbetering wees in pas met die geskatte verbetering in algehele ekonomiese groeisyfers,” sê Nedbank in ’n verklaring.

Beurtkrag het die verwagting vir ekonomiese groei laat daal. Nedbank verwag nou nog ’n jaar met groei van minder as 1%.

“Groter onsekerheid kan binnelandse vastekapitaal-beleggings swak hou en enige moontlike herstel in die sektor vir handelsmotors onderdruk.”

Die kategorie nuwe motors wat in Maart die swakste gepresteer het, was passasiersvoertuie. Sowel die aankope deur gebruikers en deur motorverhuurders was nóg ’n laagtepunt op ’n afwaartse neiging.

Net 30 348 nuwe voertuie is aan gebruikers verkoop, 5,6% minder as in Maart 2018.

Uit die totale 47 718 motorverkope vir Maart is:

  • 86,4% deur handelaars verkoop;
  • 6,6% aan motorverhuurmaatskappye verkoop;
  • 4,3% aan die regering verkoop; en
  • 2,7% aan korporatiewe organisasies as vlootvoertuie verkoop.

Verkope van ligte handelsvoertuie het wel in Maart goed gepresteer en op ’n jaargrondslag met 1,9% toegeneem. Dit het gepaard gegaan met ’n 6,2%-versterking in die verkope van mediumswaar handelsvoertuie en vragmotors. Verkope van swaar vragmotors en busse het met 1,7% gedaal.

“Vooruitsigte vir binnelandse verkope van nuwe voertuie sal steeds beïnvloed word deur die huidige onderdrukte makro-ekonomiese omgewing en voortdurende druk op huishoudelike besteebare inkomste,” sê Naamsa.

“Hoër kos-, brandstof- en elektrisiteitspryse, ’n swakker wisselkoers teenoor alle groot geldeenhede en beurtkrag het gedurende Maart 2019 die reeds lae vlakke van sake- en verbruikersvertroue verder gedemp.”

Die 3 top-passasiersvoertuie in Maart was:
  • Volkswagen Polo Vivo (2 498)
  • Volkswagen Polo (1 383)
  • Renault Kwid (1 081) en Toyota Corolla (1 081)

Die goeie nuus is dat uitvoermarkte al hoe beter vaar en skynbaar nie die pad byster raak te midde van ekonomiese onstuimigheid nie.

In Maart het voertuie wat uitgevoer is met 7 135 eenhede (23,7%) op ’n jaargrondslag toegeneem tot 37 296.

“Die momentum in die uitvoer van nuwe voertuie deur die loop van 2019 sal waarskynlik verder toeneem en totale uitvoer vir die bedryf kan vir die hele 2019 dalk 400 000 eenhede bereik, in vergelyking met die rekord 351 139 voertuie wat verlede jaar uitgevoer is,” sê Naamsa.

Toyota Suid-Afrika het self rede om te midde van algehele slegte nuus wel te spog.

Die motorvervaardiger het in Maart 4 252 Hilux-bakkies verkoop terwyl die res van sy voertuigreeks saam op 7 543 verkope gestaan het. Die Hilux-model maak dus nie net 56% van Toyota SA se totale plaaslike verkope uit nie, maar ook 8,91% van die totale nuwe voertuigverkope in die land in Maart.

Met ’n totale plaaslike markaandeel van 24,7% het Toyota Dinsdag in ’n verklaring gesê dat sy handelsmerk steeds “goeie groei ervaar ten spyte van die onderdrukte mark en bedryf”.

Die 3 top- ligte handelsvoertuie in Maart was:
  • Toyota Hilux (4 252)
  • Ford Ranger (2 376)
  • Nissan NP200 (2 144)


    Meer oor:  Motorverkoopsyfers  |  Motors  |  Motorbedryf
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.