Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Moyane móét nou sê oor Makwakwa
Tom Moyane, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

Tom Moyane, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), moet Dinsdag aan die parlement besonderhede gee oor die tugverhoor van Jonas Makwakwa, sy tweede in bevel.

Makwakwa en sy vriendin, Kelly-Ann Elskie, is verdink van geldwassery, maar hy het ná ’n jaar lange skorsing sy werk teruggekry nadat hy in die tugverhoor onskuldig bevind is.

Makwakwa het boonop ’n bonus van R980 000 gekry vir 2016-’17, toe hy weens sy skorsing net ses maande gewerk het, het Daily Maverick die afgelope week berig.

Dit het onlangs ook aan die lig gekom dat die prokureursfirma Hogan Lovells, wat ’n tugondersoek gelei het, nie naastenby die volledige beweringe teen Makwakwa en Elskie ondersoek het nie.

Daarom wil die portefeuljekomitee nou van Moyane weet presies wat die SAID se opdrag aan Hogan Lovells was, sê Yunus Carrim, voorsitter.

Ons is besig om ysterklou in die grond te slaan hieroor – nie net die DA nie, die hele portefeulje-komitee.
Alf Lees van die DA

Die komitee wil ook ’n verslag sien van die ouditeursfirma PwC oor sy ondersoek na meer as R1 miljoen wat in middernagtelike transaksies by kitsbanke in Makwakwa en Elskie se bankrekenings inbetaal is.

Die SAID het geweier om dié verslag aan Hogan Lovells te gee toe die firma met die ondersoek begin het.

Moyane voer aan dat belastingwetgewing en die Wet op die Finansiële Inligtingsentrum hom verbied om dit te doen.

Carrim sê die komitee win regsadvies in om te bepaal of dít regtig die geval is.

“Ons het geen getuienis dat Makwakwa en Elskie skuldig is aan die bewerings wat teen hulle gemaak is nie, maar dit is in die openbare belang dat die verslae bekend gemaak word.

Jonas Makwakwa, die tweede magtigste mens by die SAID.

“Die rol van die SAID vereis dat hy nie alleen bo verdenking moet wees nie, maar dat sy senior amptenare bo verdenking is en dat enige opvattings oor ongerymdhede behoorlik aangepak word,” sê Carrim.

“As daar gedeeltes van die verslae is wat nie bekend gemaak kan word nie, dan kan die regsverteenwoordigers van die SAID en die parlement daaroor ooreenkom,” sê Carrim.

Alf Lees, DA-woordvoerder oor finansies, sê die portefeuljekomitee het die afgelope jaar daarop aangedring om te hoor watter stappe teen Makwakwa gedoen is. “Moyane het deurentyd gesê hy kan die komitee nie daaroor inlig nie omdat Hogan Lovells die beweringe ondersoek. Maar nou kan ons nie Hogan Lovells se verslag sien nie.

“Ons is besig om ysterklou in die grond te slaan hieroor – nie net die DA nie, die hele portefeuljekomitee,” sê hy.

Hy sê een moontlike oplossing sou wees om Hogan Lovells na ’n sitting van die portefeuljekomitee te nooi sodat hulle kan verduidelik wat gebeur het. “Ons het oor die moontlikheid gepraat, maar is nog nie by ’n punt waar ons tot so ’n stap kan oorgaan nie,” sê Lees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.