Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Munisipale werkers ‘mag nie staak’

Munisipale werkers wat oorgehaal sit om te staak, het pas gehoor hulle mag nie staak nie aangesien hulle “noodsaaklike werkers” is.

Die vakbond Samwu sit oorgehaal om te staak, ongeag wat die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging (Salga) te sê het. Foto: Gallo Images

Die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging (Salga) het Maandag in ’n verklaring bevestig dat loononderhandelinge tussen vakbonde en Salga amptelik ’n dooiepunt bereik het. Dis al punt waarop die liggaam, wat munisipaliteite verteenwoordig, met die vakbond Samwu saamstem.

Maar terwyl Samwu sê hy is “besig om sy tekkies reg te kry” vir die komende staking, sê Salga dit mag nie gebeur nie aangesien munisipale werkers noodsaaklike dienste lewer en dus nie mag staak nie.

Ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge mag noodsaaklike werkers soos verpleegsters en dokters onder geen omstandighede staak nie. Die wet vereis dat noodsaaklike werkers slegs dié is wat die lewe of veiligheid van mense in gevaar sal stel indien hulle staak.

Munisipale werkers was nog nooit voorheen ingevolge die wet as noodsaaklike werkers geklassifiseer nie.

Die Rampbestuurswet wat ingevolge die Covid-19-pandemie van krag is, het egter ’n baie breër definisie van noodsaaklike werkers wat ook munisipale werkers insluit wat onder meer met krag- en waterverspreiding, vullisverwydering en sanitasie werk. Tog was daar verlede jaar ’n hofsaak (Skets Projects teen die vervoervakbond Satawu) waarin bevind is die feit dat werkers wat vir die ramptoestand tot noodsaaklike werkers geklassifiseer is, beteken nie hulle mag nie ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge staak nie.

Geldige stakingsertfikate is in die verlede al by verskeie geleenthede aan munisipale vakbonde uitgereik.

Samwu is boos oor Salga se “diktatoriale” uitlatings.

Ons gebruik eerder ons energie, tyd en hulpbronne om ons lede te bedien in plaas daarvan om met ’n klip te praat.
Samwu

“Salga kan nie nou uit die bloute aanvoer dat munisipale werkers noodsaaklike werkers is wanneer dit hulle pas nie,” het Samwu Dinsdag in ’n verklaring gesê.

“Waarom is munisipale werkers nie as noodsaaklike werkers beskou toe hulle die spesiale Covid-toelae geweier is nie? Waarom word dieselfde werkers nie as noodsaaklike werkers beskou wanneer ander werkers besig is om die Covid-19-inentings te kry nie, terwyl munisipale werkers blootgestel en kwesbaar gelaat word? En die belangrikste is: Waarom word munisipale werkers nie as noodsaaklike werkers beskou wanneer hulle ordentlike salarisse en loonverhogings eis nie?”

Sivuyile Mbambato, woordvoerder van Salga, sê aan Netwerk24 dat Samwu nie verder wou onderhandel nie, al was Rio Nolutshungu, Salga se hoofonderhandelaar, optimisties oor die uitkoms van die finale ronde onderhandelinge. Samwu het egter op dag een van die laaste ronde onderhandelinge, op 1 Julie, ’n dispuut verklaar en die onderhandelinge verlaat.

Dis ’n stap wat Salga as “verbasend” beskryf het, maar Samwu sê dis ’n “gerieflike leuen”.

“Daar is met geen onsekerheid aan werknemers gesê dat hulle nie ordentlike salarisse en loonverhogings sal kry nie en dat hul voordele bevries sou word. Daar was geen beweging van Salga oor dié vraagstukke nie.

“Enige redelike persoon kan tot die gevolgtrekking kom dat voortgesette gesprekke niks anders as ’n nuttelose oefening sal wees as die ander party sê dat hulle nie bereid is om oor sekere aspekte skiet te gee nie. Ons gebruik eerder ons energie, tyd en hulpbronne om ons lede te bedien in plaas daarvan om met ’n klip te praat.”

Die jongste aanbod aan vakbonde was ’n 4%-verhoging met die voorwaarde dat voordele bevries word. Salga het volgens Samwu gesê daar sal geen beter aanbod gemaak word nie.

Aangesien vakbonde én Salga nou ’n dispuut verklaar het, bevestig Mbambato dat dié aanbod nou van die tafel is.

“Dit keer nou terug na die aanvanklike aanbod van 2,8%,” sê Mbambato.

Salga reken dat ’n versoeningsproses nog vrugte sal afwerp en skets ’n rooskleurige prentjie van dienslewering wat sonder ontwrigting sal voortduur.

Daarteenoor sê Samwu die meerderheid van sy lede is al gevra en hulle wil staak – hy wag nou net op ’n amptelike stakingsertfikaat en sal dan met sy nywerheidsoptrede begin.

“Ons hoef Salga nie daaraan te herinner dat die reg om te staak die reg van elke werker in die Republiek van Suid-Afrika is nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.