Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Munte se toekoms staan sterk, sê SA Munt
Tumi Tsehlo, besturende direkteur van die SA Munt.Foto: Verskaf

Muntstukke gaan nog lank gebruik word.

Dit is ondanks die toenemende gebruik van tegnologie in die finansiële sektor, sê Tumi Tsehlo, besturende direkteur van die Suid-Afrikaanse Munt.

Tsehlo sê hy glo tegnologie gaan eerder help om munte verder te ontwikkel, as wat dit die gebruik daarvan beduidend gaan benadeel.

“Suid-Afrika se ekonomie is tweeledig. Sommige mense gebruik al hoe meer elektroniese dienste wanneer dit by geld kom, wat dus die gebruik van fisieke munte uitskakel. Maar daar is ’n enorme aantal mense wat nié hierdie dienste gebruik nie, en wat op munte staatmaak,” verduidelik hy.

Dit is ook die geval in die res van Afrika. Die SA Munt vervaardig munte vir verskeie lande in Suider- en Oos-Afrika.

“Munte vertel ook ’n storie. Mense let baie vinnig op wanneer hulle ’n nuwe munt kry – selfs al is dit ’n algemene soort munt wat hulle gereëld gebruik.

“Dit is juis hierdie unieke aspek van munte – dat hulle ’n storie vertel – wat gaan maak dat mense hulle nog vir baie jare gaan wil hê en oor hulle sal praat.”

Tsehlo sê dit geld gewone sirkulasie-munte, asook dié wat spesifiek vir versamelaars gemunt word.

“ ’n Versamelaar is ’n unieke mens,” skerts hy. “As jy eers een munt van ’n spesifieke versameling het, dan móét jy net die res ook in die hande kry om jou versameling te voltooi. Vra maar vir my, ek versamel self,” sê hy.

Tsehlo sê van sy gunstelinge is die gekleurde munte wat die Munt maak.

’n Silwermunt met Marvel se Black Panther-karakter daarop. Dié munt is van Fidji afkomstig.

Dit is juis te danke aan tegnologie dat voëls soos die bloukraanvoël, en blomme soos die seesterlelie, in al hul kleurvolle glorie op ’n munt kan pryk.

“Dit is ook die tegnologie wat ons toelaat om die munte met baie detail te skep.

“Kyk maar net na die munt wat die vyftigste herdenking van die eerste hartoorplanting in Suid-Afrika vier.

“Ek is seker mense kyk met ’n vergrootglas na dié munt net om te sien hoeveel moeite die ontwerper daarmee gedoen het,” sê hy.

Dié stel is uniek omdat dit uit twee munte bestaan. ’n Groot munt met die bolyf van ’n persoon wat anatomies korrek uitgebeeld word, en ’n kleintjie met ’n “nuwe” hart daarop. Die klein munt pas presies in die spasie wat daarvoor op die groot munt gelaat word.

“As jy dink dít is indrukwekkend, hou jou oë oop vir die munt wat die ontdekking van Pratley Putty volgende jaar gaan vier,” sê hy.

Die Kanadese 25c-muntstuk wat in die donker glim. Foto: Canadian Coin & Currency

Tsehlo sê daar is neigings in die res van die wêreld wat die SA Munt fyn dophou.

“Ek is gek na munte wat superhelde in kleur uitbeeld. Ek moes net onlangs op ’n reis na China vir my kind een koop met die nuwe karakter Black Panther daarop.

“Ek sê nie die Munt gaan binnekort ook munte met superhelde daarop maak nie, maar dit is interessant om te sien wat die tegnologie alles moontlik maak.”

’n Tipe munt wat Tsehlo reguit sê die Munt definitief geen planne het om in Suid-Afrika te munt nie, maar wat sonder twyfel die aandag trek, is die Kanadese munte wat in die donker glim. Een voorbeeld hiervan is ’n munt wat in lig die prentjie van ’n dinosourus uitbeeld, maar in die donker glim net sy geraamte.

Tsehlo sê innovasie, munte se reputasie as ’n veilige belegging en die bydrae wat dit lewer om ’n storie te vertel, sal hulle beslis nie in dinosourusse laat verander nie, maar hulle eerder prominent in die alledaagse handel en in mense se versamelings hou.

Meer oor:  Geld  |  Munte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.