Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
’n ‘Groen’ konferensie wat toe nie so groen was . . .

Net vegetariese kos, geskenke wat in Suid-Afrika vervaardig is en nie in China of Indië nie, en ’n spesiale trein wat al die afgevaardigdes van Johannesburg na Kaapstad kon vervoer.

Organiese rooibostee wat met die hand verwerk word deur werkers van die Heiveld-koöperatief in die Suid-Bokkeveld in Namakwaland.Foto: Heiveld

Dis van die voorstelle wat ’n Belgiese afgevaardigde by ’n konferensie oor die groen ekonomie Vrydag gemaak het oor hoe om die konferensie se koolstofvoetspoor nog kleiner te maak.

Geraldine Reymenants, algemene afgevaardigde van die regering van Vlaandere in Suid-Afrika, het Vrydagmiddag aan die einde van die Partnership for Action on Green Economy (Page) se konferensie in Kaapstad gewaarsku van haar voorstelle sal nie baie gewild wees nie.

Sy het selfs gemeen die konferensie moes glad nie in Kaapstad gewees het nie, maar straks eerder in Johannesburg waarvandaan die meeste afgevaardigdes moes vlieg. Boonop kan ’n mens vra of baie konferensies enigsins geregverdig is en of daar nie ander maniere is om idees uit te ruil wat ’n kleiner invloed op die omgewing het nie.

Sowat 500 mense van oor die wêreld was Donderdag en Vrydag by die Page-konferensie om te praat oor hoe regerings en die private sektor kan help om die skuif na ’n groener ekonomie te versnel.

Reymenants was betrokke in ’n projek om te bereken wat die koolstofvoetspoor van die afgelope Page-konferensie was, en dis bereken dat dit vir sowat 790 ton koolsuurgas of ekwivalente kweekhuisgas gesorg het.

Reymenants was betrokke in ’n projek om te bereken wat die koolstofvoetspoor van die afgelope Page-konferensie was, en dis bereken dat dit vir sowat 790 ton koolsuurgas of ekwivalente kweekhuisgas gesorg het. Sowat 90% hiervan was vir al die internasionale en plaaslike vlugte om al die afgevaardigdes by die konferensie te kry.

Sy meen ’n trein kon van Nelspruit af gereël gewees het om al langs die pad die afgevaardigdes op te tel wat die konferensie in Kaapstad wou bywoon. En hoewel Kaapstad ’n pragtige bestemming is, meen sy Johannesburg is ’n meer sentrale posisie vir so ’n konferensie omdat die meeste afgevaardigdes van daar af moes reis. Dié voorstel het nie juis enige applous uit die gehoor ontlok nie.

Waaroor sy wel toegejuig is, is die voorstel oor slegs vegetariese disse, die treinrit, en om die geskenke aan afgevaardigdes eerder van plaaslike entrepreneurs te bestel as om dit van China of Indië af in te voer.

Hoewel die regering van Vlaandere, een van die drie federale state in België, geld voorsien het om die Page-konferensie se koolstofvoetspoor teen te werk met koolstof-afsetkrediete, meen Reymenants dis nie die voorkeur-manier om ’n koolstofvoetspoor te verklein nie. Die manier van doen moet uit die staanspoor verander.

Kleinsake

Dis in baie lande net die groot maatskappye, regerings en vakbonde wat saampraat oor die groen ekonomie, terwyl kleinsake-ondernemings vergeet word.

Vic van Vuuren, direkteur vir ondernemings by die Internasionale Arbeidsorganisasie, het by die Page-konferensie voorbrand gemaak dat klein- en middelslag ondernemings doelbewus betrek moet word by gesprekke oor die groen ekonomie.

Kleinsake-entrepreneurs woon gewoonlik nie konferensies soos die Page-konferensie by nie, want hulle is te besig om hard te werk om hul ondernemings te bou, sê Van Vuuren.

Nonhlanhla Halimana, programbestuurder vir die Switserse agentskap vir ekonomiese samewerking in Suid-Afrika, het vertel wat die agentskap alles doen om kleinsake-entrepreneurs en die jeug in Suid-Afrika te inspireer om by groenekonomie-geleenthede betrokke te raak.

Dit sluit in sakegeleenthede met die herwinning en verwerking van elektroniese afval.

Entrepreneurs

Die Page-konferensie het Vrydag drie groen-entrepreneurs kans gegee om oor hul projekte te praat:

Alida Afrika, hoofbestuurder van Heiveld, ’n landbou-koöperatief in die omgewing van Nieuwoudtville in Namakwaland, het vertel van hul groei van 400% oor die afgelope jare. Heiveld het ’n groep uit ’n gemarginaliseerde gemeenskap gehelp om organiese rooibostee te produseer wat nou wêreldwyd uitgevoer word.

Pheladi Chiloane van African Agricultural Solutions in Mpumalanga het vertel hoe sy danksy opleiding van die SEED Replicator-program kleinboere in haar omgewing gehelp het om waarde toe te voeg tot gewasse soos mango’s. Die kleinboere is ook gehelp om meer organies te boer. Chiloane sê hulle het in elk geval reeds volgens organiese en omgewingsvriendelike beginsels geboer, want hulle het nooit toegang gehad tot konvensionele en chemies-gebaseerde kunsmis of pesdoders nie.

Van die gewilde produkte wat die kleinboere van die mango’s maak is atjar.

Dave Lello, stigter van Ekasi Energy, het vertel van sy projek om brandstofkorrels van saamgeperste houtafval te maak. Dit kan dan in die kookstowe gebruik word wat dikwels in townships gebruik word pleks van duurder ingevoerde brandstof soos paraffien of gas.

Lello sê hoewel 95% van Suid-Afrikaners toegang het tot elektrisiteit, gebruik net 70% van hulle elektrisiteit vir kosmaak omdat dit bloot net te duur is vir hulle. Ekasi Energy het ’n aanleg ontwikkel wat in ’n standaard-vraghouer kan pas om houtafval tot brandstofkorrels van biomassa te maak, en dit word as ’n sakegeleentheid aan township-entrepreneurs bemark.

Meer oor:  Entrepeneurs  |  Kleinsake
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.