Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
’n ‘Mismoedige winter’ lê voor vir SA
Die nuwe normaal . . . ’n Hawelose man stap op die promenade by Seepunt in Kaapstad – gewoonlik ’n miernes van bedrywighede. Foto: Jaco Marais

’n Mismoedige winter lê vir Suid-Afrika voor, waarsku die Instituut vir Rasseverhoudings (SAIRV) in ’n verslag oor die impak wat Covid-19 op die land kan hê, berig Johanna van Eeden.

‘Dekades van ekonomiese wanbestuur het Suid-Afrika beroof van die vermoë om dieselfde omvattende maatreëls as ander lande in te stel om – te midde van die Covid-19-pandemie – ondersteuning aan sukkelende ondernemings en individue te bied.”

Dié verdoemende realiteit word uitgestippel in die SAIRV se verslag “Covid-19: How South Africa can save #Lives­andLivelihoods”, wat verlede week uitgereik is.

Die dokument, met beleidsaanbevelings oor die hantering van die pandemie, belig die feit dat Suid-Afrika die krisis in uiterste moeilike omstandighede moet hanteer: te midde van ’n ekonomiese resessie, ’n werkloosheidsyfer van 29%, en armoede.

“Mislukkings van die regering het dienste in die gedrang gebring waarop die kwesbaarste mense in die gemeenskap staatmaak en wat nodig gaan wees om die bedreiging te hanteer. Suid-Afrika moet dus . . . die bedreiging hanteer met uiters beperkte staatshulpbronne en onsekere kapasiteit.”

Aanbevelings in die verslag sluit in die afskaffing van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en minimum lone en die verkoop van sukkelende staatsbeheerde entiteite.

Luidens die verslag gaan die pandemie ongekende samewerking van die staat en private sektor verg. “Nou is nie die tyd vir die private sektor om aan wins te dink of vir die regering om mag te soek nie . . .”

Gesondheidsorg

Die SAIRV verwelkom pres. Cyril Ramaphosa se besluit oor inperking, maar wys daarop dat dit – saam met die handhawing van fisieke afstande – moeilik is vir die sowat 5,5 miljoen mense wat in informele nedersettings woon en die 5,3 miljoen mense wat taxi’s, treine en busse gebruik. Dit plaas ook druk op die sowat 49% van werkende Suid-Afrikaners wat volgens die IRR nie van die huis af kan werk nie.

Talle “ongemaklike en kommerwekkende feite” oor die gesondheidstelsel word ook uitgelig. Dit sluit in te min hospitaalbeddens; ’n tekort aan dokters en verpleegsters – aangehelp deur die regering se fokus op primêre gesondheidsorg ten koste van die land se voorste akademiese hospitale; en lae standaarde in staatshospitale en -klinieke.

Die SAIRV beveel aan dat die studie van mediese studente in hul finale jaar versnel word en dat dié wat kan, so gou moontlik as vrywilligers in die openbare gesondheidsektor ontplooi word.

Regulatoriese hindernisse wat buitelandse medici verhinder om plaaslik te praktiseer, moet ook uit die weg geruim word en afgetrede medici moet die geleentheid kry om na die praktyk terug te keer.

Die instituut beveel aan dat die betaling van belasting op toegevoegde waarde (BTW) op medisyne en gesondheidsprodukte afgeskaf word. Regulasies oor die invoer van medisyne moet verslap word en hommeltuie moet gebruik word om medisyne af te lewer, terwyl stadsale, sportstadions en nasionale parke in isolasiegeriewe omgeskep moet word.

Werkverliese

Baie van die 16,5 miljoen werkende Suid-Afrikaners kan hul werk weens die pandemie verloor. “Dié groep het die waarde geskep waarop alle Suid-Afrikaners staatgemaak het vir stabiliteit en ontwikkeling. Maar hulle uur van nood is nou hier.”

Drie scenario’s van moontlike wêreldwye werkverliese binne die volgende twee maande word geskets: een van ’n verlies van 5,3 miljoen poste, ’n ander van ’n verlies van 13 miljoen poste en nog een van ’n verlies van 24,7 miljoen poste.

Met die finansiële krisis van 2008 het 22 miljoen poste in die slag gebly.

Die werkverliese gaan veroorsaak word deur inperking, maar ook omdat talle mense bloot te siek gaan wees om te werk. “Sommige gaan sterf . . . benewens die verlies aan lewe en geliefdes, gaan daar ook ’n verlies aan inkomste wees.”

Klein salarisse, min spaargeld, ’n oorafhanklikheid van skuld en “swak dienslewering wat ekstra nabelaste uitgawes vir veiligheid, gesondheid en onderwys meebring”, dra tot die krisis by.

Statistieke Suid-Afrika het in 2017 reeds bevind 6,8 miljoen Suid-Afrikaners gaan slaap gereeld honger.

Die SAIRV waarsku daarom dat dit nie net die Covid-19-virusuitbreking is wat eksponensieel groei nie . . . ’n Verlies aan inkomste kan lei tot ’n afname in die vraag na produkte, ’n waardevermindering van bates en ’n verlaging in die belastingbasis waarmee maatskaplike toelaes betaal word.

“Voeg daarby die amper tien gewelddadige betogings wat Suid-Afrika voor die pandemie daagliks beleef het, en jy het die perfekte storm. Indien die regering, maatskappye en individue nie versigtig is nie, kan werkloosheid eksponensieel toeneem, net soos ’n virale epidemie.”

Om mense met kontantvloei te help, wil die SAIRV hê versekeringsmaatskappye moet aangemoedig word om ’n gedeelte van hul sterfteversekering of inkomstebeskermingspolisse aan mense uit te betaal. Werknemers moet ook toegang kry tot ’n deel van hul pen­sioenfonds (wat nie belas mag word nie). Mense wat nog kan werk, moet steeds hul skuld betaal en hul inkomste prioritiseer vir mediese fondse, kruideniersware en spaargeld.

Die minimum loon moet afgeskaf word, word aanbeveel, om inkomstes in ’n krisistyd te stabiliseer – veral wanneer werkers voor die keuse van ’n kleiner salaris of werkloosheid gestel word.

Dis ’n “genade” dat die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) nie – soos oorweeg is – gebruik is om die SAL uit sy verknorsing te help nie, want die WVF is nou nodig om individue te help totdat hulle weer op hul eie voete kan staan, lui die verslag.

Van 1994 tot 2019 het die regering meer as R57 miljard bestee om die SAL uit ’n finansiële verknorsing te probeer hou. Luidens die verslag is dit “kristalhelder” dat dit nie meer ’n opsie is nie. Inteendeel, sukkelende staatsbeheerde entiteite moet onmiddellik verkoop word om vir die staat toegang tot ekstra hulpbronne te gee.

’n Covid-19-brandpunt

Inperking ontwrig mense se lewe, maar daar is ook moontlike ontwrigting weens die risiko van burgerlike onrus wat die voedselverskaffings­ketting bedreig. Van die aanbevelings om dit die hoof te bied, is intensiewe opleiding van die polisie in burgerlike onrus; ’n vennootskap met private veiligheidsmaatskappye sodat dié ondernemings wat voedsel verkoop/verskaf, beskerm; die aflewering van kospakkies aan mense in nood; en die beskerming van kritieke water- en kragbronne.

Die regering moet ook daarop voorbereid wees om internasionale hulp te vra ten einde burgerlike onrus te vermy, maan die SAIRV.

Omdat die Covid-19-virus volgens alle aanduidings stadiger versprei in omgewings met ’n hoë temperatuur en hoë humiditeit, hou dit niks goeds in in die winter wat voorlê nie. Dit is, volgens die SAIRV, “ernstig genoeg om die moontlikheid te oorweeg dat Suid-Afrika – selfs sonder gebrekkige staatshulpbronne en ’n resessie – dié winter die Covid-19-brandpunt van die wêreld kan word”. Dit bedreig stabiliteit in die land en die streek en op die vasteland.

Vraag en aanbod

Minder goedere en dienste gaan weens inperking, verkorte werktye en ’n siek werkmag geskep word. Verskaffingskettings gaan daarom onderbreek word. Terselfdertyd gaan daar ’n kleiner vraag na goedere en dienste wees omdat mense bloot huiwerig gaan wees om geld uit te gee en weens inperking.

Die wêreld stuur daarom moontlik af op ’n depressie – ’n resessie wat jare duur. Om ekonomiese skade – plaaslik en internasionaal – te voorkom, “moet die koronavirus beperk, verstadig en uiteindelik verslaan word”; die verskaffing van kos en medisyne nie onderbreek word nie; en verskaffers van goedere en dienste gehelp word om te skuif na areas waar die vraag groot is.

Plaaslik moet die regering ophou om reddingsboeie te gooi na “bankrot en nie-noodsaaklike entiteite soos die SAL en SA Express . . . vermorsing en korrupsie uitroei en kaderontplooiing staak.”

Dié stappe sal nie net help met die onmiddellike krisis nie, maar ook die weg baan vir ’n ekonomiese herlewing ná die pandemie.

Nou is die tyd vir noodsaaklike regulatoriese hervorming, waaronder ’n beëindiging van die regering se “ideologiese vyandskap teenoor sakelui” en die uiteindelike afskaffing van SEB. Dit hang saam met die bewerkstelliging van finansiële stabiliteit, wat moontlik kan beteken dat die regering ’n lening van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) sal moet aanvra.

Vryheid en mag

Te midde van verskeie berigte oor beweerde magsvergrype van die weermag, waarsku die SAIRV teen die skielike toename in staatsbeheer.

“Die krisis gebeur nie in isolasie van die politieke landskap, trajekte en neigings nie . . . dat verskeie stappe in die onlangse jare gedoen is om staatsmag uit te brei ten koste van burgerlike vryhede, kan nie geïgnoreer word nie,” lui die verslag.

“Die regering se inmenging in die persoonlike vryhede van Suid-Afrikaners moet dus tot ’n minimum beperk word. Enige intervensies moet duidelik uiteengesit wees en eksplisiet tydelik van aard wees.”

Die samestellers van die verslag benadruk ten slotte die belangrikheid van langtermynvooruitsigte.

“Ons moet ons beplanning op die toekoms rig. Die pandemie wys sterk, bevoegde instellings; die beskikbaarheid van toepaslike vaardighede; die oordeelkundige aanwending van tegnologie; geharde infrastruktuur; en die deursigtige aanwending van mag kan ’n gemeenskap deur (die krisis) kry . . .

“Ons moet vandag optree, môre afwag en die toekoms verseker. In ’n globale wêreld gaan dié nie die laaste krisis wees nie.”

  • Van Eeden is adjunkredakteur van Beeld, susterkoerant van Volksblad.
Meer oor:  Verslag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.